Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gefassineer deur die oordeelsdag

Gefassineer deur die oordeelsdag

VOEL jy senuweeagtig wanneer jy aan die toekoms dink? Indien wel, is jy nie alleen nie. Mense bespiegel al van die vroegste tye af oor wat in die toekoms voorlê, en baie het tot die slotsom gekom dat die toekoms nie juis rooskleurig is nie. Die moontlikheid van ’n oordeelsdag, oftewel die einde van die wêreld, boei en fassineer mense al duisende jare lank.

Kyk byvoorbeeld na onlangse fiksieverhale. Strokiesverhale, TV-programme, honderde rolprente en duisende boeke vertel stories van naderende onheil. Daar is skynbaar geen einde aan die magte wat gereed is om die mensdom aan te val en uit te wis nie—moorddadige robotte, allerhande monsters, ruimtewesens, zombies, spoke, drake, ape, voëls, afgryslike rotte en reuseperdebye. Min mense sou hierdie stories ernstig opneem!

Maar daar is ander stories en teorieë wat sommige mense baie senuweeagtiger maak. Na bewering is party hiervan op die wetenskap gegrond. Een teorie voorspel dat ’n yslike verskuiwing in die aardkors sal plaasvind, wat ontsaglike tsoenami’s, aardbewings en vulkaanuitbarstings sal veroorsaak. ’n Ander teorie beweer dat die planete ’n reguit lyn sal vorm, wat sterker sonwinde tot gevolg sal hê wat verwoesting op die aarde sal saai. Nog ’n teorie sê dat die aarde se magnetiese pole skielik sal omkeer, wat sal veroorsaak dat straling van die son ons almal doodmaak. Maar moet jou nie bekommer nie. Hierdie dinge sal nie gebeur nie. Nogtans word baie mense se verbeelding steeds deur sulke scenario’s aangegryp.

Wat van die tallose boeke en webwerwe in verband met die oordeelsdag  wat voorspel dat die wêreld hierdie jaar op 21 Desember sal eindig? Volgens een bewering is daar glo ’n planeet met die naam Nibiru (of Planeet X) wat op ’n botsing met die aarde afstuur en in Desember 2012 hier sal wees. Hierdie en ander ongegronde teorieë word verbind met uitleggings van ’n ou Maja-kalender, wat volgens party mense met die wintersonstilstand van 2012 eindig.

Oortuig deur soortgelyke voorspellings van rampe het party mense skuilings in hulle agterplase gebou of ten duurste plek in ondergrondse gemeenskapsbunkers bespreek. Ander het na die berge getrek en selfonderhoudend geword—hulle is glad nie afhanklik van openbare dienste, soos water-, hitte- of elektrisiteitsvoorsiening nie.

Daar is natuurlik mense wat hulle glad nie aan hierdie dinge steur nie. Hulle verwerp die idee dat die einde van die wêreld naby is. Wetenskaplikes by NASA sê byvoorbeeld: “Niks slegs sal in 2012 met die Aarde gebeur nie. Ons planeet gaan al meer as 4 miljard jaar heel goed aan, en geloofwaardige wetenskaplikes regoor die wêreld is geensins bewus van ’n bedreiging wat met 2012 verbind kan word nie.”

Dit sou egter ’n fout wees om tot die slotsom te kom dat die mensdom geen gevaar in die gesig staar nie of dat slegs liggelowige mense glo dat die oordeelsdag nie net fiksie en fantasie is nie. Sal daar werklik ’n oordeelsdag wees? Indien wel, hoe en wanneer sal dit plaasvind?