Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

CAMILLA ROSAM | LEWENSVERHAAL

Ek het dit my doelwit gemaak om gehoorsaam aan Jehovah te wees

Ek het dit my doelwit gemaak om gehoorsaam aan Jehovah te wees

 My ouma en oupa het in 1906 van Jehovah se Koninkryksbeloftes geleer nadat hulle seun dood is aan witseerkeel. Hulle dokter was ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Hy het die Bybel se vertroostende hoop met hulle gedeel, onder andere die hoop op die opstanding. As gevolg hiervan het my ouma, my oupa, my ma en haar suster almal Bybelstudente geword.

 Vir baie jare het daardie familielede Jehovah ywerig gedien. Die vrouens het selfs mense gehelp om hulle sitplekke te kry toe die “Fotodrama van die Skepping” in Chicago, Illinois, in die Verenigde State vertoon is. Maar ongelukkig was my ma die enigste een wat aangehou het om Jehovah te dien. Dit was baie moeilik vir haar, aangesien die familie altyd baie na aan mekaar was en hulle Jehovah saam aanbid het tot die 1930’s. My ma se lojaliteit en gehoorsaamheid aan Jehovah het ’n groot indruk op my gemaak, asook my pa se voorbeeld, wat ook ’n getroue Bybelstudent was.

Familiefoto, 1948

 Ek is in 1927 gebore, die oudste van ses kinders. Ons het almal in die waarheid gebly. My pa was ’n skrynwerker, en ons het in ’n gerieflike huis net buite die stad Chicago gebly. Ons het ’n groot groentetuin gehad, en ons het ook hoenders en eende aangehou.

 Dit was vir my lekker om te werk. Een van my take was om die familie se sokkies reg te maak. Vandag maak mense nie meer hulle sokkies reg nie, maar destyds het ons nie sokkies weggegooi wanneer hulle gate gekry het nie. Die gate was toegewerk met ’n naald en gare. Dit was goed dat ek geleer het om dit te doen omdat ek in latere jare baie naaldwerk gedoen het.

My ouers stel ’n goeie voorbeeld

 My pa het seker gemaak dat ons familie altyd gefokus het op ons aanbidding van Jehovah. So ons het altyd al die vergaderinge bygewoon, gereeld in die bediening uitgegaan en elke dag ’n Bybelteks bespreek. Saterdagaande het ons ons gesinsaanbidding van die Bybel gehad deur Die Wagtoring te gebruik.

 My pa het ’n elektriese teken in die venster van ons sitkamer gesit sodat die bure ’n goeie getuienis kon kry. Die teken wat ons broers gemaak het, het een van ons openbare toesprake of ’n publikasie geadverteer. Die lig binne-in die boks het aan en af geflits, wat mense se aandag getrek het. My pa het ook twee plakkate op ons kar vasgesit.

My ma neem ons uit om met grammofone te getuig

 Deur sy woorde en sy voorbeeld het my pa ons as kinders geleer hoe belangrik gehoorsaamheid aan Jehovah is. My ma het hom ten volle ondersteun. Sy het Jehovah ook as ’n voltydse pionier begin dien toe my jongste suster vyf jaar oud was, en sy het vir die res van haar lang lewe as ’n pionier gedien. Ek kon nie vir beter ouers gevra het nie.

 Die lewe destyds was baie anders as vandag. Ons het nie televisie gehad nie, so ek en my broers en susters het op die vloer gesit en na die radio geluister, wat opwindende verhale uitgesaai het. Maar ons gesin het veral die geestelike programme wat Jehovah se organisasie oor die radio uitgesaai het, geniet.

Streekbyeenkomste, grammofone en advertensieborde

 Ons was lief daarvoor om streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies by te woon. By die streekbyeenkoms wat in 1935 gehou is, het ons geleer dat Openbaring 7:9, 14 praat van die “groot menigte” wat “die groot verdrukking” gaan oorleef, en hulle het die hoop om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe. Voor 1935 het albei my ouers die embleme by die Gedenkmaal gebruik. Maar ná daardie streekbyeenkoms, het net my pa dit gebruik. My ma het toe geweet dat haar hoop nie is om saam met Christus in die hemel te regeer nie, maar eerder om vir ewig op die aarde te lewe.

 In 1941 by die streekbyeenkoms wat in St. Louis, Missouri, gehou is, het Joseph Rutherford, wat destyds die leiding geneem het, die boek Kinders vrygestel. Die applous was oorweldigend! Ek was toe 14 jaar oud en is die vorige jaar gedoop. Ek onthou nog baie goed hoe ek saam met die ander kinders in ’n ry gestaan het en op die verhoog geloop het om my kopie van die boek te kry.

Saam met Lorraine, 1944

 Die bediening in daardie vroeë jare was anders as wat dit vandag is. In die 1930’s het ons grammofone gebruik om Bybeltoesprake vir huisbewoners te speel. Voordat ons aan die deur geklop het, het ons die grammofoon opgestel en seker gemaak dat die plaat en naald op die regte plek was. Wanneer die huisbewoner uitgekom het, het ons ’n kort aanbieding gedoen, ’n Bybeltoespraak van vier en ’n half minute gespeel en dan publikasies aangebied. Die mense in ons gebied het respekvol geluister. Ek kan nie onthou dat enige iemand onbeskof was nie. Toe ek 16 jaar oud was, het ek begin pionier. My pa het vir my my eie grammofoon gegee, wat ek met trots in die bediening gebruik het. Ek het saam met ’n wonderlike suster met die naam Lorraine gepionier.

 Inligtingsoptogte was nog ’n manier wat ons gebruik het om te preek. Ons het dit ’n tyd lank advertensiebordoptogte genoem omdat ons twee plakkate gedra het wat op die skouers aanmekaar vasgemaak was sodat een voor en een agter gehang het. Op hulle was slagspreuke soos “Godsdiens is ’n strik en ’n bedrogspul” en “Dien God en Christus die Koning”.

’n Foto waar ons met plakkate getuig

 Ons vergaderinge het ons voorberei op vervolging en ons geleer wat om te sê om die waarheid te verdedig. En ons is toe vervolg. Byvoorbeeld, die eerste keer wat ons ons tydskrifte by ’n besige winkelsentrum aangebied het, het die polisie ons in ’n vangwa na die polisiestasie toe gevat. Ons is ’n paar uur later vrygelaat, en ons was gelukkig om vervolg te wees ter wille van ons gehoorsaamheid aan Jehovah.

Die huwelik, Gilead en oproep vir militêre diens

Ek en Eugene op ons troudag

 Mettertyd het Lorraine my voorgestel aan ’n broer met die naam Eugene Rosam, wat sy by ’n byeenkoms in Minneapolis, Minnesota, ontmoet het. Eugene het grootgeword in Key West, Florida. Toe hy in graad tien was, is hy uit die skool geskors omdat hy geweier het om deel te neem aan ’n patriotiese seremonie. Hy het dadelik begin pionier. Eendag het hy ’n meisie ontmoet wat saam met hom in die klas was. Omdat Eugene so ’n goeie student was, het sy gewonder hoekom hy geskors was. Maar omdat hy die Bybel gebruik het om haar vrae te beantwoord, het sy ’n Bybelstudie aanvaar. Sy het die waarheid haar eie gemaak en ’n getroue suster geword.

In Key West, 1951

 Ek en Eugene is in 1948 getroud. Ons het ons getroude lewe begin deur in Key West te pionier. Ons is later genooi om die 18de klas van Gileadskool by te woon, waar ons vroeg in 1952 gegradueer het. Spaans was in een van die klasse geleer, so ons het verwag om as sendelinge na ’n land gestuur te word waar hulle Spaans praat. Maar dit het nie gebeur nie. Terwyl ons by Gilead was, het die Koreaanse Oorlog begin, en Eugene was opgeroep om militêre diens te doen. Ons was verbaas, aangesien hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog as ’n prediker vrystelling gekry het. Toe, omdat hy opgeroep is, moes ons in die Verenigde State bly. Ek het gehuil van teleurstelling. Twee jaar later het Eugene uiteindelik vrystelling gekry. Maar daardie terugslag het ons ’n waardevolle les geleer – wanneer een deur toegemaak word, kan Jehovah ’n ander een oopmaak. En dit is wat gebeur het. Ons moes net geduldig wees.

Ons Gileadklas

Reisende werk en toe na Kanada!

 In 1953 nadat ons in ’n Spaanssprekende gemeente in Tucson, Arizona, gepionier het, was ons toegewys om kringwerk te doen. Mettertyd het ons gedien in kringe in Ohio, Kalifornië en die stad New York. In 1958 het ons met die streekwerk a in Kalifornië en Oregon begin. Ons het by broers gebly. Toe, in 1960, het ons na Kanada gegaan, waar Eugene as ’n instrukteur by die Koninkryksbedieningskool vir gemeentelike opsieners gedien het. Ons het tot 1988 in Kanada gewoon.

 Een van my gunstelingherinneringe in Kanada is van ’n gesin wat ek en ’n suster in die huis-tot-huis-bediening ontmoet het. Ons het eerste die ma, Gail, ontmoet wat vir ons vertel het dat haar seuns baie ontsteld was omdat hulle oupa gesterf het. Hulle het haar gevra: “Hoekom het hy gesterf? Waarheen het hy gegaan?” Gail kon hulle nie ’n antwoord gee nie. So ons het die Bybel se antwoord vir haar gegee deur vertroostende tekste met haar te deel.

 Op daardie stadium het Eugene die gemeente as ’n kringopsiener besoek, en daarom was ons net vir ’n week daar. Die suster wat saam met my daar was, het Gail egter weer besoek. Met watter gevolg? Gail het die waarheid aanvaar, asook haar man, Bill, en hulle drie seuns – Christopher, Steve en Patrick. Chris is ’n ouerman in Kanada. Steve is ’n instrukteur by die Bybelskoolfasiliteit in Palm Coast, Florida. En Patrick is ’n lid van die Takkomitee in Thailand. Oor die jare heen het ek en Eugene goeie vriende met die gesin gebly. Ek is so bly dat ek ’n klein deel daaraan gehad het om hulle te help om Jehovah te leer ken!

Van hospitaalbesoeke tot Hospitaalskakelkomitees

 Terwyl ons in Kanada was, het Jehovah ’n opwindende en betekenisvolle nuwe deur vir Eugene oopgemaak. Kom ek vertel julle daarvan.

 Jare gelede het mense nie verstaan waarom ons nie bloedoortappings aanvaar nie. As gevolg hiervan het baie mense slegte dinge oor ons geglo. Koerante regdeur Kanada het stories gepubliseer dat Getuiekinders doodgaan omdat hulle ouers weier dat hulle kinders bloedoortappings kry. My man het die voorreg gehad om te wys dat sulke stories nie waar was nie.

 Net voor die internasionale byeenkoms in 1969 in Buffalo, New York, het Eugene saam met ’n hele paar broers na die groot hospitale in die gebied gegaan om te verduidelik dat omtrent 50 000 Getuies van Kanada en die Verenigde State die byeenkoms sou bywoon. As iemand by die byeenkoms ’n ernstige gesondheidsprobleem het, sou dit baie help as die dokters ons standpunt oor bloed verstaan het en besef het dat dit redelik is. Die broers het vir die dokters artikels gegee oor bloedlose mediese behandeling uit publikasies wat die dokters gerespekteer het. Die dokters se positiewe reaksie het Eugene en party van die broers gemotiveer om die inisiatief te neem om hospitale in Kanada te besoek. Hulle het die plaaslike ouermanne ook gehelp om mediese noodgevalle beter te hanteer.

 Geleidelik het hulle pogings goeie resultate gehad. Om die waarheid te sê, dit het gelei na iets wat niemand hulle kon indink nie! Laat ek verduidelik.

Ek het dit geniet om in die naaldwerkkamer te werk

 Gedurende die 1980’s het Eugene ’n oproep gekry van Milton Henschel van die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York. Die Bestuursliggaam wou gehad het dat ’n program wat alreeds in die Verenigde State bestaan het, uitgebrei moes word om inligting aan meer dokters te voorsien. Ek en Eugene het dus na Brooklyn getrek, en in Januarie 1988 het die Bestuursliggaam by die wêreldhoofkwartier ’n afdeling met die naam Hospitaalinligtingsdienste begin. Later was my man en nog twee broers toegewys om seminare te hou, eers in die Verenigde State en toe in ander lande. Hospitaalinligtingsdienste was gou by die takkantore opgerig, en Hospitaalskakelkomitees was in verskeie stede begin. Ek kan my nie voorstel hoe baie Getuies en hulle kinders baat gevind het by hierdie liefdevolle voorsienings van Jehovah nie. Terwyl Eugene seminare aangebied het en hospitale besoek het, het ek by die plaaslike Bethel gewerk, baie kere in die naaldwerkkamer of in die kombuis.

’n Hospitaalskakelkomitee-klas, Japan

My grootste uitdaging

 In 2006 het ek die moeilikste tyd in my lewe ervaar – my geliefde Eugene het gesterf. Ek mis my maat en sy liefde vir my baie! Wat het my gehelp om hierdie uitdaging te verduur? ’n Paar dinge. Byvoorbeeld, ek bly na aan Jehovah deur gebed en gereelde Bybellees. Ek luister na die bespreking van die dagteks saam met die Bethelgesin. Ek lees die hoofstuk in die Bybel waaruit die teks geneem is. En ek bly besig in my toewysing by Bethel in die Naaldwerkafdeling, wat vir my ’n voorreg is. Ek het voorheen selfs gehelp om gordyne te maak vir byeenkomssale in New Jersey en New York. Ek dien nou by Fishkill-Bethel, waar ek verstellings en klein werkies doen. b

 Vir my is die belangrikste dinge in die lewe om Jehovah lief te hê en aan hom en sy organisasie gehoorsaam te wees (Hebreërs 13:17; 1 Johannes 5:3). Ek is bly dat ek en Eugene dit prioriteite in ons lewens gemaak het. As gevolg daarvan het ek die vaste vertroue dat Jehovah ons sal beloon met ewige lewe op ’n paradysaarde, wat die vreugde insluit om mekaar weer te sien. – Johannes 5:28, 29.

a Die rol van die kringopsiener is om individuele gemeentes te besoek, maar die rol van die streekopsiener was om kringe te besoek en om toesprake te gee by kringbyeenkomste.

b Suster Camilla Rosam is oorlede in Maart 2022 terwyl hierdie artikel voorberei is. Sy was 94.