Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Wêreldwye noodleniging vir ’n wêreldwye pandemie

Wêreldwye noodleniging vir ’n wêreldwye pandemie

1 JULIE 2021

 Toe die Wêreldgesondheidsorganisasie in Maart 2020 verklaar het dat COVID-19 ’n pandemie is, kon baie nie eers gedroom het dat die virus die wêreld meer as ’n jaar later nog steeds in sy kloue sou hê nie. Miljoene mense, en dit sluit party van Jehovah se Getuies in, het swaargekry as gevolg van die uitwerking wat die pandemie fisies, emosioneel en finansieel op hulle het. Hoe organiseer en voorsien Jehovah se Getuies noodleniging gedurende hierdie krisis?

Hulp vir dié wat dit nodig het

 Die Koördineerderskomitee van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het gereël dat meer as 950 Noodlenigingskomitees (DRC’s) wêreldwyd gevorm word om met COVID-19 te help. In party gevalle is daar gereël dat die Getuies plaaslike hulp kry en in ander gevalle het hulle baat gevind by die hulp wat regerings gegee het. Die DRC’s het ook op groot skaal hulp voorsien.

 Kom ons kyk byvoorbeeld wat in Paraguay gebeur het. Een koerant het berig dat die gevolge van die pandemie veroorsaak het dat “baie mense in Paraguay honger ly in hulle eie huis”. Maar die DRC in Paraguay het toe alreeds begin om pakkies te versprei met voorraad vir twee weke – genoeg kos, skoonmaakmiddels en items vir persoonlike sorg vir ’n gesin van vier. Die waarde van elke pakkie is omtrent R411,47.

 Hoe beskerm hierdie noodlenigingswerkers hulleself en ander teen COVID-19? Hulle dra maskers en pas fisiese distansiëring toe. Hulle maak ook seker dat die maatskappye wat kos voorsien se fasiliteite baie skoon is en dat hulle streng veiligheidsmaatreëls toepas. Dit sluit in dat daar van almal wat die pakkies hanteer, verwag word om persoonlike veiligheidstoerusting te dra, hulle voertuie skoon te maak en te ontsmet en die pakkies op oppervlakke te stoor wat ontsmet is. En dié wat die pakkies aflewer en die broers wat dit ontvang, pas dan fisiese distansiëring toe.

Donasies word op die beste manier moontlik gebruik

 In Januarie 2021 het die Koördineerderskomitee goedkeuring gegee dat R342 919 750 gebruik kon word om met noodleniging vir COVID-19 te help. Die takkantore en DRC’s gebruik hierdie donasies sorgvuldig en doen baie moeite om te onderhandel sodat hulle die beste prys vir hierdie nodige items betaal. Byvoorbeeld, in Chili wou die broers wat die noodlenigingswerk reël 750 kilogram lensies koop. Maar die prys van lensies het binne net een maand verdubbel! Twee uur nadat hulle gesê het dat hulle die lensies teen die hoër prys sou koop, het die verkoper hulle laat weet dat ’n ander koper so pas sy bestelling lensies teruggestuur het. In plaas daarvan om die hoër prys te vra waarop hulle ooreengekom het, het die verkoper toe die lensies wat teruggestuur is vir die broers teen die vorige maand se prys aangebied!

 Maar toe die broers die lensies gaan haal het, het die verkoper die transaksie probeer kanselleer en hulle daarvan beskuldig dat hulle, net soos ander organisasies, kos op ’n onregverdige manier versprei. Een van ons broers het vinnig saggies gebid en vir die verkoper gesê dat daar in elke gemeente ’n ondersoek gedoen is om te sien wie regtig voorraad nodig het. Die broers het ook verduidelik dat dié wat die pakkies sou ontvang uit verskillende kulturele agtergronde kom en dat elke pakkie aangepas sou word om te pas by die behoeftes van die gesin wat dit sou kry. Laastens het hulle die verkoper daarvan verseker dat al die donasies in die vorm van geld en arbeid aan Jehovah se Getuies vrywillig is. Dit het hom beïndruk. Die verkoper het die lensies toe nie net teen die laer prys aan hulle verkoop nie, maar ook ’n donasie van 400 kilogram lensies gemaak met die broers se volgende bestelling.

“Bewys van opregte liefde”

 Lusu, ’n bejaarde weduwee in Liberië, bly in ’n huis saam met vyf familielede. Terwyl hulle een oggend ontbyt geëet en die Bybelteks vir die dag bespreek het, het Lusu se sewejarige kleinseun gesien dat hulle niks meer kos in die huis het nie. Hy het gevra: “Wat gaan ons eet?” Lusu het hom gerusgestel en vir hom gesê dat sy alreeds vir hulp gebid het en geweet het dat Jehovah vir hulle sou sorg. Daardie selfde middag het ouermanne in die gemeente vir Lusu gebel en vir haar gesê dat sy kosvoorraad kan kom haal. Sy sê: “My kleinseun sê hy weet nou dat Jehovah gebede kan hoor en beantwoord omdat Jehovah my gebed beantwoord het.”

Kinders in die Demokratiese Republiek van die Kongo het prentjies geteken om vir hulle broers dankie te sê vir die hulp met kos

 Een vrou in die Demokratiese Republiek van die Kongo woon langs ’n gesin wat Getuies is. Toe sy gesien het hoe die gesin kos by hulle broers en susters kry, het sy gesê: “Ná die pandemie gaan ons Jehovah se Getuies word, want hulle het in hierdie moeilike tyd vir hulle broers en susters omgegee.” Haar man het gevra: “Gaan jy een van Jehovah se Getuies word net vir ’n sak rys?” Sy het geantwoord: “Natuurlik nie, maar daardie sak rys is bewys van opregte liefde.”

 As gevolg van julle vrygewige bydraes, kon Jehovah se Getuies gedurende hierdie pandemie vinnig reageer op die behoeftes van ons broers en susters. Dankie vir julle bydraes deur die verskillende metodes wat op donate.isa4310.com verduidelik word.