Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Vertaling van die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020

Vertaling van die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020

10 JULIE 2020

 In Julie en Augustus 2020 sal die broers en susters regoor die wêreld, vir die eerste keer ooit, dieselfde streekbyeenkomsprogram op dieselfde tyd kyk. Om dit moontlik te maak, moes die opnames van die program in meer as 500 tale vertaal word. Gewoonlik vat so ’n projek meer as ’n jaar om te beplan en te voltooi. Maar as gevolg van die koronavirus-pandemie moes vertalers die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020 in minder as vier maande vertaal.

 Vertaaldienste en Wêreldwye Aankope by die Hoofkwartier van Jehovah se Getuies het met hierdie baie groot projek gehelp. Vertaaldienste het besef dat baie van die vertaalspanne nog toerusting nodig gehad het om hierdie taak te voltooi, veral hoëgehalte-mikrofone. Wêreldwye Aankope het gereël om 1 000 mikrofone aan te koop en het dit by amper 200 plekke laat aflewer.

 Om geld te bespaar is mikrofone in grootmaat aangekoop. Die mikrofone is in een plek afgelewer en toe na die vertalers regoor die wêreld gestuur. Omdat ons so baie mikrofone gekoop het, het elke mikrofoon omtrent R2 800 gekos, insluitende versendingskoste. Dit was baie goedkoper as wat ons dit apart sou gekoop het.

 Wêreldwye Aankope moes hierdie aankope doen en versendingsreëlings maak gedurende April en Mei 2020. Dit was gedurende ’n tyd toe baie besighede beperk was in wat hulle kon doen as gevolg van die pandemie. Maar teen die einde van Mei het die meeste vertaalkantore, takkantore en ander vertaalplekke die nodige toerusting gehad.

 Jay Swinney, wat toesig hou oor die Wêreldwye Aankope, sê: “Daar was goeie samewerking tussen Bethelafdelings en die verskillende besighede wat betrokke was by hierdie projek. Dit is net as gevolg van Jehovah se gees dat ons so vinnig iets gedoen kon kry en die beste gebruik kon maak van die donasies om ons broers en susters te help.”

 Nicholas Ahladis, wat saam met Vertaaldienste werk, sê: “Die vertalers wat op daardie stadium onder inperking was, is grootliks aangemoedig omdat hulle hierdie toerusting gekry het. Ten spyte van die feit dat hulle afgesonder was van die ander lede van hulle vertaalspan, kon hulle die werk gedoen kry om die toesprake, dramas en liedjies in meer as 500 tale te vertaal en op te neem.”

 Hierdie projek is een van baie wat voltooi is om die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020 beskikbaar te maak vir die wêreldwye broederskap. Julle vrygewige donasies deur middel van donate.isa4310.com en op ander maniere het dit moontlik gemaak om hierdie nodige dinge aan te koop.