Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Ons het nie van die dowes vergeet nie

Ons het nie van die dowes vergeet nie

1 JULIE 2022

Jehovah God wil hê dat alle mense, maak nie saak wat hulle omstandighede is nie, oor hom en sy hemelse Koninkryk moet leer (1 Timoteus 2:3, 4). Daarom maak Jehovah se Getuies Bybels en Bybelstudiehulpe vir soveel mense as moontlik beskikbaar, insluitende die dowes. Om die waarheid te sê, ons organisasie het al duisende publikasies geproduseer in die vorm van gebaretaalvideo’s, a wat in meer as 100 gebaretale beskikbaar is! Hoe produseer en versprei ons hierdie publikasies? En hoe is dit oor tyd verbeter?

Hoe word gebaretaalvideo’s gemaak?

Gebaretaalpublikasies word regoor die wêreld deur vertaalspanne geproduseer. Lede van elke span ondersoek die publikasie wat hulle moet vertaal deeglik. Volgende besluit hulle hoe hulle op die beste manier die inligting in gebaretaal gaan oordra. Daarna neem hulle die publikasie op video op. Op die oomblik vertaal 60 spanne Bybelstudiehulpe in gebaretaal op ’n gereelde basis, en nog 40 spanne vertaal dit nou en dan.

In die verlede was dit duur om gebaretaalvideo’s te maak. Videokameras en ander toerusting was baie duurder as wat dit vandag is. Video’s was ook opgeneem in ’n studio, wat ons self moes bou. Soms het ons dit gedoen deur ’n bestaande gebou te verander. Altesaam het dit meer as R478 000 gekos om alles vir ’n gebaretaal-vertaalspan op te stel.

Om donasies op die beste manier te gebruik, het ons organisasie na maniere gesoek om die vertaalproses te verbeter sowel as te vereenvoudig. Daarom het ons moderne toerusting gebruik wat prakties en goedkoper is. In plaas daarvan om ’n studio te gebruik, kan vertaalspanne ’n groen agtergrond opstel wat ’n green screen genoem word en video’s in hulle kantoor opneem. Wanneer meer as een gebaretaalspreker nodig is, kan broers en susters hulle deel van ’n publikasie in hulle kantoor of huis opneem. Hulle hoef nie meer na ’n studio toe te gaan nie.

Ons het ook sagteware beskikbaar gemaak wat vertalers help met hulle werk. As gevolg daarvan kan vertaalspanne ’n gebaretaalpublikasie baie gouer produseer. Ons broers is baie dankbaar vir hierdie verbeteringe. ’n Broer met die naam Alexander sê: “Gebaretaalvideo’s word baie meer gereeld as tevore vrygestel. Ek is baie bly daaroor. Ek kyk die video’s elke dag.”

Vandag kos dit minder as R79 000 om ’n vertaalspan te gee wat hulle nodig het. Daarom kan ons gebaretaalvideo’s in baie meer tale maak.

Hoe word gebaretaalvideo’s versprei?

Wanneer ’n span ’n gebaretaalpublikasie klaar opgeneem het, moet die video’s beskikbaar gemaak word vir diegene wat dit nodig het. In die verlede het ons videokassette en DVD’s gemaak, maar dit was duur en het baie tyd en werk gevat. Die opnames was na ’n ander maatskappy gestuur om kopieë te maak. Uiteindelik is die videokassette en DVD’s na gemeentes gestuur. Net in 2013 het ons meer as R32 000 000 spandeer om gebaretaal-DVD’s te maak.

Die dowes was baie dankbaar vir daardie voorsienings. Maar die video’s was nie altyd maklik om te gebruik nie, veral omdat daar al hoe meer videokassette en DVD’s was. In party gevalle was ’n paar DVD’s nodig om net een Bybelboek op te neem. ’n Broer in Brasilië met die naam Gilnei vertel: “Wanneer ons ’n teks wou lees, moes ons die regte videokasset kry en dan die teks vind. Dit was baie moeilik.” ’n Suster met die naam Rafayane, wat gebaretaal-DVD’s gebruik het, sê: “Dit het my baie moeg gemaak om persoonlike studie te doen. Ons het baie tyd daaraan spandeer om tekste of verwysings op te soek.” En wanneer ons broers en susters velddiens gedoen het, het hulle dikwels DVD’s of videokassette saamgeneem, wat hulle op ’n persoon wat belanggestel het, se TV gespeel het. Party broers het selfs hulle eie DVD-spelers saamgevat. Maar kort voor lank het draagbare DVD-spelers met ’n skerm beskikbaar geword, en baie broers het dit gebruik. Bobby, wat in die Verenigde State bly, sê: “As jy een teks ná die ander wou deel, moes jy dikwels verskillende DVD’s speel. Dit het tyd gevat en het dit moeilik gemaak om die Bybel in ons gesprekke te gebruik.”

In 2013 het Jehovah se organisasie die JW Library Sign Language-app vrygestel. Dit het broers en susters toegelaat om gebaretaalvideo’s op hulle slimfone of tablette af te laai en te speel. Die app was eers vir Amerikaanse Gebaretaal vrygestel. Toe, in 2017, was dit bygewerk om alle gebaretale te ondersteun. Broers en susters wêreldwyd was baie bly. Juscelino, ’n broer in Brasilië, sê: “Ek kon dit nie glo nie! Ek het aanhou dink aan hoe die Bestuursliggaam wys dat hulle lief is vir ons dowe mense. Hulle wil hê dat ons vordering in die waarheid moet maak net soos dié wat ’n gesproke taal gebruik. Ek was baie opgewonde, en die app het my gemotiveer om die Bybel selfs meer te studeer.”

Die JW Library Sign Language-app word gebruik

Vandag produseer ons alle gebaretaalvideo’s digitaal en versprei ons dit op ons webwerf en op die JW Library Sign Language-app. As gevolg hiervan kan gebaretaalpublikasies vertaal, opgeneem en versprei word in net ’n paar dae eerder as maande of jare. Om die waarheid te sê, in baie gebaretale word publikasies op dieselfde tyd vrygestel as publikasies in tale wat gepraat word.

Kyk na wat ’n paar van ons dowe broers en susters gesê het. ’n Suster met die naam Klízia sê: “Daar is geen ander organisasie wat so baie vir die dowes omgee nie. Hulle is bereid om geestelike voedsel te voorsien op ’n manier wat vir ons maklik is om te kry. Niks in die wêreld kan vergelyk word met wat Jehovah se organisasie vir ons doen nie.” Vladimir sê: “Die video’s wys vir my dat Jehovah net so baie omgee vir dowe mense as wat hy vir horende mense omgee.”

Ons gebaretaalvideo’s sê dikwels die volgende: “Hierdie publikasie word gebruik om mense regoor die wêreld oor die Bybel te leer. Hierdie werk word deur vrywillige donasies ondersteun.” Ons is baie dankbaar vir julle donasies, waarvan baie deur middel van donate.isa4310.com gemaak word. Dit laat ons toe om Bybels en Bybelstudiehulpe vir alle mense te produseer, insluitende dié wat gebaretaal gebruik.

a Omdat mense wat gebaretale gebruik deur middel van hulle hande en gesigsuitdrukkings kommunikeer, word gebaretaalpublikasies in videoformaat vrygestel eerder as op gedrukte materiaal.