Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Noodlenigingswerk in 2022 – Liefde in aksie

Noodlenigingswerk in 2022 – Liefde in aksie

1 JANUARIE 2023

 Die Bybel het voorspel dat ons tyd gekenmerk sou word deur oorloë, aardbewings, vreeslike siektes en ander “skrikwekkende dinge” (Lukas 21:10, 11). Hierdie profetiese woorde het nog steeds gedurende die 2022-diensjaar waar geword. a Byvoorbeeld, die oorlog in Oekraïne het aangehou en die lewens van miljoene geraak. ’n Groot deel van die wêreld was nog steeds besig om van die COVID-19-pandemie te herstel. Baie mense is ook deur natuurrampe geraak, soos aardbewings in Haïti en vernietigende storms in Sentraal-Amerika, Filippyne en Suidoos-Afrika. Hoe het Jehovah se Getuies die mense gehelp wat hierdeur geraak is?

 Gedurende die 2022-diensjaar het ons organisasie noodlenigingswerk gedoen wat die slagoffers van sowat 200 rampe gehelp het! Ons het altesaam meer as R208 miljoen aan noodlenigingswerk spandeer. Kyk hoe donasies gebruik is om slagoffers van twee rampe te help.

Aardbewings in Haïti

 Op 14 Augustus 2021 het ’n aardbewing van 7,2 die suide van Haïti getref. Ongelukkig het drie Getuies gesterf – twee van ons susters en een broer. Dié wat dit oorleef het, moes met die fisiese skade en emosionele pyn saamleef wat die aardbewing veroorsaak het. ’n Broer met die naam Stephane sê: “Regdeur die stad het so baie mense gesterf dat daar meer as twee maande lank elke week ’n hele paar begrafnisse was.” ’n Ander broer, Éliézer, sê: “Baie Getuies het nie blyplek gehad nie en ook nie klere, skoene of ander basiese noodsaaklikhede nie. Baie het maande lank in vrees gelewe as gevolg van die konstante naskokke.”

 Ons organisasie was gou om te help. Die takkantoor in Haïti het meer as 53 ton kos voorsien, sowel as tente, seile, matrasse en sonherlaaiers vir selfone. Gedurende die 2022-diensjaar is meer as 100 huise ook weer herbou of herstel. Ons het meer as R17 miljoen aan hierdie noodlenigingswerk spandeer.

Kos word in Haïti afgelewer

 Ons broers en susters is baie dankbaar. Lorette sê: “Die aardbewing het ons huis en ons besigheid heeltemal vernietig. Ons het niks gehad om te eet nie. Maar Jehovah se organisasie het ons gehelp deur ons alles te gee wat ons nodig gehad het.” Micheline sê: “Die aardbewing het die plek waar ek en my twee seuns skuiling gaan soek het, vernietig. Al wat ek kon doen, was om vir hulp te bid, en Jehovah het deur middel van sy organisasie my gebede verhoor. Ons het nou ’n stewige huis om in te woon. Ek is vasbeslote om alles te doen wat ek kan om vir Jehovah te wys hoe dankbaar ek is.”

 Die plaaslike owerhede het ons noodlenigingswerk raakgesien. Die bestuurder van die stadsaal in L’Asile het gesê: “Welgedaan vir die vinnige manier waarop julle kom help het. Ek wil julle prys omdat julle groot respek vir die owerhede toon. Ek is bly om te sien dat julle nie in geld belangstel nie. Julle wil mense eerder help. Julle tree uit liefde op.”

Tropiese storm Ana tref Malawi en Mosambiek

 Op 24 Januarie 2022 het tropiese storm Ana Mosambiek getref en toe wes na Malawi gedraai. Die sikloon het veroorsaak dat daar swaar reën en sterk wind was – tot 100 kilometer per uur. Dit het kragdrade en brûe weggespoel en hewige oorstromings veroorsaak.

 Die storm het meer as 30 000 Getuies in Malawi en Mosambiek geaffekteer. Charles, ’n broer wat met die noodlenigingswerk gehelp het, sê: “Toe ek sien hoe swaar die broers kry en hoeveel hulle verloor het, het dit my hart gebreek en het ek magteloos gevoel.” Om dinge erger te maak, het hulle kosvoorraad en landerye weggespoel. Baie het hulle huis verloor. Ongelukkig het ’n broer sy vrou en twee jong dogters verloor, wat verdrink het toe hulle reddingsboot omgeslaan het.

’n Beskadigde huis van ’n Getuie-paartjie in Mosambiek

Die herboude huis

 Die storm was verskriklik. Die Sengeredo-gesin het eenuur die oggend in Nchalo, Malawi, die skrikwekkende geluid van water gehoor wat sterk vloei. Twee riviere het oorstroom! Broer Sengeredo het besluit dat hulle die huis moet verlaat. Dit was die regte besluit, want die oorstroming het die huis inmekaar laat sak. Hulle besittings was of beskadig of het weggespoel. Die gesin het besluit om na die Koninkryksaal toe te gaan, wat gewoonlik 30 minute se stap van hulle huis af is. Maar hierdie keer het dit twee ure gevat. Hulle het papnat en moeg daar aangekom, maar hulle was veilig.

 Die takkantore in Malawi en Mosambiek het vinnig met die noodlenigingswerk begin. Hulle het vir die kringopsieners en ouermanne gesê om uit te vind wat die broers en susters wat deur die storm geraak is, nodig het en om hulle aan te moedig. ’n Hele paar noodlenigingskomitees (DRC) is aangestel om toesig te hou oor die noodlenigingswerk. Hierdie komitees het dadelik begin om ons broers te help om kos en ander noodsaaklikhede in die hande te kry. Meer as R572 000 is spandeer om mense te help, en meer as R5,2 miljoen is spandeer om huise te herstel en te herbou.

 Die noodlenigingskomitees het fondse goed gebruik, wat veral belangrik is omdat daar hoë inflasie is. Byvoorbeeld, in die eerste sewe maande van die noodlenigingswerk het die prys van mieliemeel – ’n stapelvoedsel in Malawi – met omtrent 70 persent gestyg. Die prys van brandstof het ook gestyg. Om geld te spaar, het die broers kos en boumateriaal plaaslik en in grootmaat aangekoop. As gevolg hiervan het hulle afslag gekry en hoë vervoerkoste vermy.

 Die noodlenigingswerk het die harte van Jehovah se volk geraak. Felisberto, ’n broer in Mosambiek, sê: “Ek het nog nooit ’n organisasie gesien wat so baie gee nie: boumateriaal, vervoer, konstruksiewerkers, kos en liefdevolle leiding. Hierdie hulp is ’n uitstekende voorbeeld van die broederliefde wat Jesus in Johannes 13:34, 35 beskryf het.” Ester, ’n weduwee in Malawi wie se huis vernietig is, sê: “Ek het hulpeloos gevoel, want ek het nie genoeg geld gehad om ’n ander huis te bou nie. So toe die broers gekom het en ’n huis vir my gebou het, het ek gevoel asof ek alreeds in die Paradys is.”

 Terwyl ons nader aan die beloofde nuwe wêreld kom, kan ons verwag om selfs meer rampe te sien (Matteus 24:7, 8). Maar danksy julle vrygewige donasies is ons oortuig dat Jehovah se volk die nodige hulp sal kry. As jy meer wil uitvind oor hoe om donasies te maak, gaan na donate.isa4310.com. Dankie vir julle vrygewigheid.

a Die 2022-diensjaar het op 1 September 2021 begin en op 31 Augustus 2022 geëindig.