Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Liedjies wat ons nader aan God bring

Liedjies wat ons nader aan God bring

1 NOVEMBER 2021

 Musiek is ’n pragtige geskenk van Jehovah. Dit kan ’n uitwerking hê op hoe ons dink en hoe ons voel, en dit kan ons motiveer. Dit is veral waar wanneer dit by Broadcasting-liedjies kom. Om die waarheid te sê, hierdie liedjies kan selfs meer doen: Dit kan ons nader aan Jehovah bring.

 Sedert 2014 is meer as 70 Broadcasting-liedjies geskep, en nou is daar ten minste een van hierdie liedjies in meer as 500 tale beskikbaar! Maar jy wonder dalk: ‘Wie werk aan hierdie liedjies, en hoe word dit gemaak?’

’n Kykie agter die skerms

 Broadcasting-liedjies word deur die musiekspan in die Oudio/Video-dienste gemaak. Hulle werk onder toesig van die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam. Die musiekspan bestaan uit 13 broers en susters. Hulle help om die liedjies te skryf, die musiek te ontwikkel, roosters op te stel en met ander nodige werk. Die Onderrigtingskomitee het ook goedkeuring gegee dat afstandvrywilligers regoor die wêreld met hierdie werk help, insluitende liedjieskrywers, musikante en sangers. Hierdie broers en susters gebruik nederig hulle talente sonder om persoonlike erkenning te soek.

 Hoe word Broadcasting-liedjies gemaak? Die Onderrigtingskomitee besluit eers op watter Bybeltekste ’n liedjie gebaseer moet word en hoe dit die luisteraars moet laat voel. Die musiekspan besluit dan wie die musiek en die lirieke gaan skryf. Hulle berei ’n opsie vir die opname voor. Die Onderrigtingskomitee luister na die opsie vir die opname en gee dan nog voorstelle. Die musiekspan pas die liedjie aan en neem die finale weergawe op. Hierdie liedjies word op verskeie plekke opgeneem, insluitende takkantore en in mense se huise wat toerusting het om opnames te maak.

 Om Broadcasting-liedjies te skryf en op te neem, gebruik ons broers digitale oudiowerkstasies en verskillende rekenaarprogramme, soos ’n musieknotasieprogram en oudiobiblioteke, onder andere. Die werk vereis ook die gebruik van toerusting, soos musiekinstrumente, programme en toerusting om die musiek saam te stel, klankversterkers, klanktoerusting en mikrofone. Die mikrofone kan elkeen tussen R1 500 en tot meer as R15 000 kos. In 2020 het ons omtrent R1 790 000 aan toerusting vir musiekopnames gespandeer.

 Wat word gedoen om geld te spaar? Eerder as om ’n groot musiekspan by Bethel te hê, word baie afstandvrywilligers gebruik. En in plaas daarvan om baie musikante bymekaar te bring om ’n groot orkes in persoon op te neem, gebruik ons broers ook baie keer ’n rekenaarprogram om musiek te skryf en te skep.

“Hierdie liedjies hou my geloof sterk”

 Broers en susters hou daarvan om na Broadcasting-liedjies te luister. Tara, wat in Duitsland bly, sê: “Die liedjies help my om te ontspan wanneer ek angstig voel. Wanneer ek na die liedjies in my moedertaal luister, voel dit soos ’n drukkie van Jehovah af.” ’n Broer in Kazakstan met die naam Dmitry sê: “Ek hou daarvan om na die liedjies te luister, en ek hoef nie bekommerd te wees dat dit teen Bybelbeginsels gaan nie. Die liedjies help my ook om op my verhouding met Jehovah te fokus.”

 Delia, in Suid-Afrika, beskryf hoe sy oor die Broadcasting-liedjies voel: “Hierdie liedjies hou my geloof sterk. Wanneer ek hartseer voel of in ’n moeilike situasie is, is daar altyd ’n liedjie wat perfek by my omstandighede pas. Dikwels is net die musiek van die liedjie genoeg om my beter te laat voel!”

 Party Broadcasting-liedjies het sommige broers en susters se gunsteling geword. Lerato, ook in Suid-Afrika, sê: “Die liedjies ‘Net om die draai’ en ‘In die nuwe wêreld’ help my om myself te sien in die tyd wanneer ek my geliefde ma terug sal verwelkom. Elke keer wanneer ek na hierdie liedjies luister, kan ek sien hoe sy met ope arms na my toe hardloop.”

 Een Broadcasting-liedjie het veral vir ’n tiener in Sri Lanka gehelp. Sy sê: “My wetenskaponderwyser het my voor die hele klas uitgeskel omdat ek een van Jehovah se Getuies is. Ek was bang, en ek het nie geweet wat om te sê nie. Toe ek by die huis kom, het my ma my aangemoedig om na die liedjie Study Makes You Strong te luister. Die liedjie het my help besef dat ek navorsing moet doen en ’n antwoord moet voorberei. Die volgende dag het ek met my onderwyser gepraat. Sy het na my geluister en gesê dat sy nou die oortuigings van Jehovah se Getuies beter verstaan. Ek dank Jehovah se organisasie dat hulle sulke aanmoedigende liedjies vir ons gee.”

 Hoe word die koste gedek om hierdie liedjies te maak? Deur donasies aan die wêreldwye werk waarvan baie deur middel van donate.isa4310.com gemaak word. Dankie vir julle vrygewige bydraes.