Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Beskerming van godsdiensvryheid in inheemse gemeenskappe

Beskerming van godsdiensvryheid in inheemse gemeenskappe

1 MEI 2021

 Daar woon honderdmiljoene mense in Latyns-Amerika, en miljoene van hulle het hulle eie inheemse tale en tradisies. Baie van hierdie inheemse mense is ons geestelike broers en susters, en hulle kultuur is vir hulle belangrik. Om mense te help om die waarheid in die Bybel te leer, vertaal en versprei hulle publikasies van Jehovah se Getuies in meer as 130 inheemse tale van Latyns-Amerika. a Maar party van hulle word teëgestaan omdat hulle kies om Jehovah te aanbid en weier om deel te neem aan onskriftuurlike gebruike wat algemeen in hulle gemeenskap is. Hoe word julle donasies gebruik om hulle te help?

Hulle is gehelp om weer huis toe te gaan

 In Mexiko het ons broers en susters in ’n Huichol-gemeenskap in die berge van die staat Jalisco op ’n respekvolle manier geweier om deel te neem aan godsdiensgebruike wat deur die Bybel verbied word. b Maar dit het party in die gemeenskap woedend gemaak. Op 4 Desember 2017 het ’n gewelddadige, oproerige skare ’n groep Getuies en ’n hele paar ander mense wat saam met hulle was, aangeval. Die oproerige skare het hulle uit die gemeenskap gegooi, hulle besittings vernietig en gedreig om enige iemand dood te maak wat probeer om terug te kom.

 Getuies in dorpies daar naby het ons broers en susters gehelp met die dinge wat hulle op daardie tydstip nodig gehad het. Maar hoe kon hulle gehelp word om weer huis toe te gaan? “Ons het nie genoeg geld gehad om ’n prokureur aan te stel nie”, verduidelik ’n broer met die naam Agustín, “en ons het nie geweet waar om regsadvies te kry nie.”

 Omdat ons broers se vryheid van aanbidding aangeval is, het die takkantoor in Sentraal-Amerika onmiddellik opgetree. Eers het hulle plaaslike amptenare gevra om hierdie misdade te ondersoek. Daarna het hulle goedkeuring by die Koördineerderskomitee van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gekry om saam met die Regsafdeling by die wêreldhoofkwartier te werk om ’n hofsaak namens ons Huichol-broers en -susters te begin. Die saak het uiteindelik in die Hooggeregshof van Justisie van die Nasie – Mexiko se hoogste hof – beland.

 ’n Internasionale span prokureurs het ’n duidelike pleidooi voorberei waarin hulle verduidelik het dat daar van ander verwag word om die kultuur van inheemse gemeenskappe te respekteer, en net so moet die gemeenskappe self ook die vryheid van alle lede respekteer en beskerm. Alle mense het sekere regte, maak nie saak waar hulle woon nie.

 Op 8 Julie 2020 het die Hooggeregshof eenparig ten gunste van Jehovah se Getuies beslis. Die hof het gesê dat almal wat uit hulle gemeenskap gegooi is, toegelaat moes word om terug te gaan. Agustín, wat vroeër aangehaal is, se woorde van waardering wys hoe hy en ander voel: “Ons is so dankbaar en bly vir wat die broers vir ons gedoen het. Sonder hulle hulp sou ons niks kon regkry nie.”

“So baie vir so min”

 Intussen het ons broers in San Juan de Ilumán, ’n dorpie in Ecuador, waar baie inheemse mense van die Otavalo-vallei woon, soortgelyke teenstand gekry. In 2014 het hulle begin om ’n Koninkryksaal te bou nadat hulle al die nodige permitte gekry het. Maar ’n priester met ’n oproerige skare van meer as 100 het die broers gedwing om die bouwerk te stop. Die gemeenskap het Jehovah se Getuies toe verbied om saam te vergader vir aanbidding.

 Die regsafdelings van die takkantoor in Ecuador en die wêreldhoofkwartier het saamgewerk om die skending van die gemeente se vryheid van aanbidding te verdedig. Ons broers het die saak hof toe geneem. Die gevolg was dat die gemeenskap opgehou het om ons broers teë te staan en dat hulle die gemeente toegelaat het om weer hulle vergaderinge te hou en hulle Koninkryksaal klaar te bou. Maar om ons broers se regte in die toekoms te beskerm het ons verteenwoordigers die hoër howe gevra om ’n beslissing te maak oor ’n baie belangrike kwessie: Moet inheemse gemeenskappe internasionale menseregte respekteer?

 Op 16 Julie 2020 het die Konstitusionele Hof van Ecuador – die hoogste hof in die land – die saak verhoor. Broers wat prokureurs in Ecuador is, het die gemeente verteenwoordig. En nog vier van ons broers wat ervare internasionale prokureurs is, het die hof toegespreek. As gevolg van COVID-19-beperkings het hulle deur middel van videoverbinding vanuit verskillende lande gepraat. Dit is die eerste keer dat ’n regspan wat Jehovah se Getuies wêreldwyd verteenwoordig deur enige hof toegelaat is om hulle saak op hierdie manier te stel. c Die span het internasionale regsowerhede aangehaal om te bevestig dat inheemse mense nie hulle individuele regte verloor net omdat hulle deel van ’n inheemse gemeenskap is nie.

’n Internasionale span prokureurs het deur middel van videoverbinding die regte van ons broers verdedig

 Ons broers in die Otavalo-vallei wag gretig om te hoor wat die konstitusionele hof gaan besluit. Intussen is hulle baie dankbaar vir die hulp wat hulle gekry het. César, wat ’n ouerman in die Quechua-gemeente in Ilumán is, sê: “Dit is net Jehovah wat, deur sy organisasie, so baie vir so min sal doen.”

 Die prokureurs wat by hierdie hofsaak betrokke is, is almal Jehovah se Getuies, en hulle deel hulle kennis met graagte sonder om enige geld daarvoor te vra. Maar om hierdie sake te begin, voor te berei en in die hof te verdedig kos tyd en geld. Ons prokureurs en ander broers het meer as 380 uur daaraan spandeer om regsargumente voor te berei en nog 240 uur om dokumente te vertaal vir die hofsaak in Mexiko. Amper 40 prokureurs van regoor die wêreld het honderde ure aan die hofsaak in Ecuador spandeer. Hoe kon ons die koste van hierdie hofsaak van ons broers dek? Deur middel van julle bydraes deur die verskillende metodes wat op donate.isa4310.com verduidelik word. Dankie vir julle vrygewigheid.

a Jehovah se Getuies vertaal ook in baie ander tale wat in Latyns-Amerika gepraat word en in verskeie gebaretale wat net in daardie streek voorkom.

b Die Huichol-volk staan ook bekend as die Wixáritari, en daar word dikwels na hulle taal verwys as Wixárika.

c Al was ons wêreldwye organisasie nie deel van die saak nie, het die regters ons broers toegelaat om voor die hof te verskyn as amicus curiae, wat ’n “vriend van die hof” beteken.