Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 40

Hoe om God gelukkig te maak

Hoe om God gelukkig te maak

WAT kan ons doen om God gelukkig te maak? Kan ons enigiets vir hom gee?— Jehovah sê: “Aan my behoort al die wilde diere van die woud.” Hy sê ook: “Die silwer is myne en die goud is myne” (Psalm 24:1; 50:10; Haggai 2:8). Maar daar is iets wat ons vir God kan gee. Wat is dit?—

Jehovah laat ons toe om te kies of ons hom sal dien of nie. Hy dwing ons nie om te doen wat hy wil hê ons moet doen nie. Kom ons kyk of ons kan uitvind hoekom God ons so gemaak het dat ons kan kies of ons hom sal dien of nie.

Jy weet dalk wat ’n robot is. Dit is ’n masjien wat gemaak is om te doen wat sy maker wil hê hy moet doen. Met ander woorde, ’n robot het geen keuse nie. Jehovah kon ons almal soos robotte gemaak het. Hy kon ons so gemaak het dat ons net kon doen wat hy wil hê ons moet doen. Maar God het ons nie so gemaak nie. Weet jy hoekom nie?— Wel, party speelgoed is robotte. Wanneer jy ’n knoppie druk, doen dit net wat die maker van die speelding dit ontwerp het om te doen. Het jy al ooit so ’n speelding gesien?— Mense raak dikwels moeg daarvoor om met ’n speelding te speel wat net doen wat dit gemaak, of geprogrammeer, is om te doen. God wil nie hê dat ons aan hom gehoorsaam moet wees omdat ons robotte is wat geprogrammeer is om hom te dien nie. Jehovah wil hê dat ons hom moet dien omdat ons hom liefhet en omdat ons aan hom gehoorsaam wil wees.

Hoekom het God ons nie gemaak om soos hierdie robot te wees nie?

Hoe dink jy voel ons hemelse Vader wanneer ons aan hom gehoorsaam is omdat ons dit wil doen?— Wel, sê bietjie vir my, hoe laat die manier waarop jy jou gedra jou ouers voel?— Die Bybel sê dat ’n wyse seun ‘sy vader bly maak’, maar dat ’n dwase seun “die droefheid van sy moeder” is (Spreuke 10:1). Het jy al gesien dat dit jou ma en pa gelukkig maak as jy doen wat hulle jou vra om te doen?— Maar hoe voel hulle as jy nie na hulle luister nie?—

Hoe kan jy Jehovah en jou ouers gelukkig maak?

Kom ons dink nou aan ons hemelse Vader, Jehovah. Hy sê vir ons hoe ons hom gelukkig kan maak. Kry gou jou Bybel en maak dit oop by Spreuke 27:11. Hier praat God met ons: “Wees wys, my seun [of ons kan ook sê, my dogter], en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Weet jy wat dit beteken om iemand uit te tart?— Wel, iemand tart jou uit as hy vir jou lag en sê dat jy nie kan doen wat jy sê jy kan doen nie. Hoe tart Satan Jehovah uit?— Kom ons kyk.

Onthou, ons het in Hoofstuk 8 van hierdie boek geleer dat Satan die belangrikste wil wees en dat hy wil hê dat almal aan hom gehoorsaam moet wees. Satan sê dat mense Jehovah net aanbid omdat Jehovah vir hulle die ewige lewe sal gee as hulle dit doen. Nadat Satan vir Adam en Eva gekry het om aan Jehovah ongehoorsaam te wees, het Satan vir God uitgedaag. Hy het vir God gesê: ‘Mense dien u net vir wat hulle van u kan kry. Gee my net ’n kans en ek sal almal kry om u te verwerp.’

Hoe het Satan Jehovah uitgedaag nadat Adam en Eva gesondig het?

Daardie presiese woorde staan nou wel nie in die Bybel nie, maar wanneer ons van die man Job lees, kan ons sien dat Satan so iets vir God gesê het. Of Job aan God getrou was of nie, het regtig saak gemaak, vir Satan sowel as vir Jehovah. Kom ons maak ons Bybels oop by Job hoofstukke 1 en 2 om te sien wat gebeur het.

Let op in Job hoofstuk 1 dat Satan daar in die hemel was toe die engele na Jehovah toe gekom het. Toe het Jehovah vir Satan gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord dat hy op die aarde gaan rondkyk het. Toe het Jehovah gevra: ‘Het jy Job gesien, dat hy my dien en niks doen wat sleg is nie?’—Job 1:6-8.

Onmiddellik het Satan verskonings gemaak. ‘Job aanbid u net omdat hy geen probleme het nie. As u u beskerming en seën van hom af wegvat, sal hy u in u gesig vervloek.’ Toe het Jehovah geantwoord: ‘Goed dan, Satan, jy kan enigiets wat jy wil aan hom doen, maar jy mag Job self nie seermaak nie.’—Job 1:9-12.

Wat het Satan toe gedoen?— Hy het gemaak dat mense Job se beeste en donkies steel en hulle wagters doodmaak. Toe het weerlig die skape en hulle herders doodgeslaan. Later het mense gekom en die kamele gesteel en die mense wat hulle opgepas het, doodgemaak. Uiteindelik het Satan ’n sterk wind laat opkom wat die huis waarin Job se tien kinders was, laat inmekaarval het, en almal van hulle is dood. Ten spyte van al hierdie dinge, het Job Jehovah nog steeds gedien.—Job 1:13-22.

Toe Jehovah Satan weer sien, het Jehovah vir hom gesê dat Job nog steeds getrou is. Satan het verskonings gemaak en gesê: ‘As u my toelaat om sy liggaam seer te maak, sal hy u in u gesig vervloek.’ Toe het Jehovah Satan toegelaat om Job se liggaam seer te maak, maar hom gewaarsku om Job nie dood te maak nie.

Wat het Job verduur, en hoekom het dit God gelukkig gemaak?

Satan het Job se hele liggaam vol sere laat word. Dit het so sleg geruik dat niemand naby hom wou kom nie. Selfs Job se vrou het vir hom gesê: “Vervloek God en sterf!” Mense wat gemaak het asof hulle Job se vriende is, het na hom toe gekom en hom toe nog slegter laat voel deur te sê dat hy verskriklike dinge moes gedoen het om al hierdie probleme te hê. Maar ten spyte van al die probleme en pyn wat Satan vir Job veroorsaak het, het Job aangehou om Jehovah getrou te dien.—Job 2:1-13; 7:5; 19:13-20.

Hoe dink jy het Job se getrouheid Jehovah laat voel?— Dit het hom gelukkig gemaak omdat Jehovah vir Satan kon sê: ‘Kyk na Job! Hy dien my omdat hy wil.’ Sal jy soos Job wees, iemand na wie Jehovah kan wys as ’n voorbeeld wat bewys dat Satan ’n leuenaar is?— Dit is regtig ’n voorreg om ’n antwoord te gee op Satan se bewering dat hy almal kan laat ophou om Jehovah te dien. Jesus het dit beslis as ’n voorreg beskou.

Die Groot Onderwyser het nooit toegelaat dat Satan Hom kry om enigiets te doen wat verkeerd is nie. Dink net hoe gelukkig sy voorbeeld sy Vader moes gemaak het! Jehovah kon na Jesus wys en vir Satan sê: ‘Kyk na my Seun! Hy het heeltemal getrou aan my gebly omdat hy my liefhet!’ Dink ook aan die vreugde wat Jesus het omdat hy sy Vader se hart bly maak. Daardie vreugde het Jesus gehelp om selfs die dood aan ’n folterpaal te verduur.—Hebreërs 12:2.

Wil jy soos ons Groot Onderwyser wees en Jehovah gelukkig maak?— Hou dan aan om te leer wat Jehovah wil hê jy moet doen, en maak hom gelukkig deur dit te doen!

Lees wat Jesus gedoen het om God gelukkig te maak en wat ons ook moet doen, in Spreuke 23:22-25; Johannes 5:30; 6:38; 8:28 en 2 Johannes 4.