Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 79

Jesus doen baie wonderwerke

Jesus doen baie wonderwerke

Jesus het na die aarde toe gekom om die goeie nuus van God se Koninkryk bekend te maak. Jehovah het Jesus heilige gees gegee om wonderwerke te doen sodat Jesus kon wys wat hy as Koning gaan doen. Hy kon enige siekte genees. Siek mense het na hom toe gekom waar hy ook al gegaan het, en hy het hulle almal gesond gemaak. Die blindes kon sien, die dowes kon hoor, verlamde mense kon loop en mense wat deur demone beheer was, is bevry. Hulle het gesond geword, selfs al het hulle net aan sy klere geraak. Mense het Jesus gevolg oral waar hy gegaan het. Selfs wanneer Jesus alleen wou wees, het hy mense nooit gekeer om na hom toe te kom nie.

Eenkeer het mense ’n man wat nie kon loop nie, na die huis gebring waar Jesus gebly het. Maar die huis was so vol mense dat hulle nie kon inkom nie. Hulle het toe ’n gat in die dak gemaak en die man laat afsak na Jesus toe. Toe het Jesus vir die man gesê: ‘Staan op en loop.’ Toe hy begin loop, was die mense baie verbaas.

Op ’n ander keer, toe Jesus by ’n dorpie aankom, het tien mans met melaatsheid ’n entjie weg gestaan en geskree: ‘Jesus, help ons!’ In daardie dae was melaatses nie toegelaat om naby ander mense te kom nie. Jehovah se Wet het gesê dat melaatses na die tempel toe moes gaan nadat hulle gesond geword het. Jesus het vir die mans gesê om na die tempel toe te gaan. Op pad soontoe het hulle gesond geword. Toe een van die melaatses besef dat hy gesond is, het hy teruggekom om Jesus te bedank en om God te loof. Uit die tien mans was hierdie man die enigste een wat vir Jesus kom dankie sê het.

’n Vrou wat al 12 jaar lank siek was, wou baie graag gesond word. Sy het tussen ’n klomp mense agter Jesus geloop en aan sy bo-kleed geraak. Sy het onmiddellik gesond geword. Toe dit gebeur, het Jesus gevra: ‘Wie het aan my geraak?’ Die vrou was bang, maar sy het hom die waarheid vertel. Jesus het haar getroos en gesê: ‘Dogter, gaan in vrede.’

’n Belangrike man met die naam Jaïrus het Jesus gesmeek: ‘Kom na my huis toe! My dogtertjie is baie siek.’ Maar voordat Jesus by Jaïrus se huis kon uitkom, het die dogtertjie gesterf. Toe Jesus daar aankom, het hy gesien dat daar baie mense was wat saam met die familie huil. Jesus het vir hulle gesê: ‘Moenie huil nie, sy slaap net.’ Toe het hy die dogtertjie se hand gevat en gesê: ‘Kind, staan op!’ Sy het dadelik regop gesit, en Jesus het vir haar ouers gesê om haar iets te gee om te eet. Dink net hoe haar ouers gevoel het!

‘God het Jesus met heilige gees en krag gesalf, en hy het deur die land gegaan en goeie dinge gedoen en almal gesond gemaak wat deur die Duiwel onderdruk is, want God was met hom.’—Handelinge 10:38