Spring na inhoud

Vertaling in Quebecse Gebaretaal was nodig

Vertaling in Quebecse Gebaretaal was nodig

In die oostelike gebiede van Kanada waar Frans gepraat word, gebruik die meeste dowe mense Quebecse Gebaretaal (LSQ). a Omdat daar net 6 000 dowes is, is daar min publikasies in LSQ beskikbaar. Jehovah se Getuies het onlangs meer begin doen om publikasies van ’n goeie gehalte in LSQ beskikbaar te maak. Hulle doen dit gratis omdat hulle mense wil help om die Bybel te verstaan.

Ons sal beter verstaan hoekom hierdie vertaalwerk so belangrik is as ons kyk na wat met Marcel gebeur het. Hy is in 1941 in die Kanadese provinsie Quebec gebore. Twee jaar later het hy breinvliesontsteking gekry en as gevolg hiervan het hy doof geword. Marcel vertel: “Toe ek nege was, het ek na ’n skool vir dowes gegaan, en daar het ek LSQ geleer. Hoewel daar ’n paar boeke was om ons te help om basiese gebaretaal te leer, was daar geen publikasies in gebaretaal nie.”

Hoekom is dit belangrik om publikasies in LSQ te maak? Marcel antwoord: “Dowe mense wil graag inligting in ’n taal hê wat hulle goed kan verstaan. Hulle wil nie met ’n vreemde taal sukkel nie. Sonder publikasies in LSQ moet ons staat maak op tale wat gepraat word, en dan is daar soveel dinge wat ons nie heeltemal verstaan nie!”

Jehovah se Getuies het in 2005 hulle eerste publikasie in LSQ beskikbaar gemaak om Marcel en ander dowes wat LSQ gebruik, te help. Hulle het onlangs hulle vertaalkantoor in Montreal, Quebec, groter gemaak. Daar werk nou 7 voltydse werkers en meer as 12 deeltydse werkers. Hulle is opgedeel in drie vertaalspanne en hulle gebruik twee goed toegeruste studio’s waar video’s in LSQ opgeneem word.

Mense wat LSQ gebruik, waardeer die goeie gehalte van die publikasies wat Jehovah se Getuies maak. Stéphan Jacques, die assistent-direkteur van die Association des Sourds de l’Estrie, b sê: “Ek dink dat hulle publikasies baie goed gemaak word. Die gebare is baie duidelik, en die gesigsuitdrukkings is pragtig. Ek hou ook daarvan dat die mense in die video’s netjies aangetrek is.”

Die Wagtoring, ’n tydskrif wat regoor die wêreld by die weeklikse vergaderinge van Jehovah se Getuies gebruik word, is nou in LSQ beskikbaar. Dit word gebruik deur die 220 Getuies van Jehovah asook ander wat deel is van sewe LSQ-gemeentes en -groepe in Quebec. c Die Getuies hou aan om al hoe meer LSQ-video’s aanlyn beskikbaar te maak. Dit sluit opbouende liedjies in wat op die Bybel gebaseer is.

Marcel, wat vroeër aangehaal is, is baie opgewonde dat daar meer LSQ-publikasies beskikbaar is. Hy geniet veral die publikasies wat deur Jehovah se Getuies gemaak word. Hy sê: “Wat ’n seën is dit tog om te sien hoeveel LSQ-video’s daar op jw.org is. Ek is so bly om al hierdie inligting in my eie taal te sien!”

a LSQ (afgelei van die Franse naam Langue des signes québécoise) is ’n unieke gebaretaal, maar dit bevat wel sekere kenmerke van Amerikaanse Gebaretaal wat meer gebruik word.

b ’n Liefdadigheids-organisasie vir die dowes in Quebec.

c Die Wagtoring van Januarie 2017 was die eerste maandelikse studie-uitgawe wat in LSQ beskikbaar was.