Spring na inhoud

Wat beteken 666?

Wat beteken 666?

Die Bybel se antwoord

 Volgens die laaste boek in die Bybel is 666 die getal, of naam, van die wilde dier met sewe koppe en tien horings wat uit die see opkom (Openbaring 13:1, 17, 18). Hierdie dier is ’n simbool van die wêreldwye politieke stelsel, wat oor “elke stam en volk en taal en nasie” regeer (Openbaring 13:7). Die naam 666 identifiseer die politieke stelsel as ’n algehele mislukking in God se oë. Hoe?

  Meer as ’n etiket. Name wat deur God gegee is, het betekenis. Byvoorbeeld, God het die man Abram, wat beteken “Vader is hoog (is verhewe)”, die naam Abraham gegee, wat beteken “Vader van ’n menigte”, toe God belowe het dat Hy Abraham “’n vader van ’n menigte nasies” sal maak (Genesis 17:5, voetnote in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References). En God het die dier 666 genoem as ’n simbool van die dier se kenmerkende eienskappe.

  Die getal ses dui op onvolmaaktheid. Getalle word dikwels in die Bybel as simbole gebruik. Sewe stel gewoonlik volkomenheid of volmaaktheid voor. Ses, wat een minder as sewe is, kan dui op iets wat in God se oë onvolkome of gebrekkig is, en dit kan met God se vyande verbind word.—1 Kronieke 20:6; Daniël 3:1.

  Drie keer vir beklemtoning. Die Bybel beklemtoon soms ’n saak deur dit drie keer te noem (Openbaring 4:8; 8:13). Die naam 666 beklemtoon dus op kragtige wyse dat God menslike politieke stelsels as algehele mislukkings beskou. Hulle kon nog nooit blywende vrede en veiligheid teweegbring nie—dinge wat net God se Koninkryk sal bring.

Die merk van die dier

 Die Bybel sê dat mense “die merk van die wilde dier” ontvang omdat hulle dit “met bewondering” volg en dit selfs aanbid (Openbaring 13:3, 4; 16:2). Hulle doen dit deur aan hulle land, sy simbole of sy militêre mag eer te gee wat aan aanbidding grens. Soos The Encyclopedia of Religion sê: “Nasionalisme het ’n oorheersende vorm van godsdiens in die hedendaagse wêreld geword.” a

 Hoe word die merk van die dier op iemand se regterhand of voorkop geplaas? (Openbaring 13:16). God het aangaande sy gebooie aan die nasie Israel gesê: “Julle moet ... dit as ’n teken op julle hand bind, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen julle oë dien” (Deuteronomium 11:18). Dit het nie beteken dat die Israeliete letterlik hulle hande en voorkoppe moes merk nie, maar dat God se woorde al hulle dade en gedagtes sou rig. So ook is die merk van die dier nie iets letterliks soos ’n 666-tatoeëermerk nie, maar ’n simbool wat die mense identifiseer wat toelaat dat die politieke stelsel hulle lewe beheer. Diegene wat die merk van die dier het, maak hulleself teenstanders van God.—Openbaring 14:9, 10; 19:19-21.

a Sien ook Nationalism in a Global Era, bladsy 134, en Nationalism and the Mind: Essays on Modern Culture, bladsy 94.