Spring na inhoud

Hoe kan jy vir ewig lewe?

Hoe kan jy vir ewig lewe?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel belowe: “Die persoon wat doen wat God wil hê, lewe vir ewig” (1 Johannes 2:17, Holy Bible​—Easy-to-Read Version). Wat wil God hê moet jy doen?

  •   Leer oor God en sy seun, Jesus. Jesus het tot God gebid en gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Hoe kan ons “kennis inneem” van God en Jesus? Ons kan dit doen deur die Bybel te studeer en die dinge wat ons daaruit leer in ons lewe toe te pas. a Die Bybel help ons om te verstaan hoe ons Skepper, Jehovah God, dink, die Een wat lewe gee (Handelinge 17:24, 25). Die Bybel vertel ons ook oor sy Seun, Jesus, wat mense “woorde van die ewige lewe” geleer het. — Johannes 6:67-69.

  •   Stel geloof in die losprysoffer van Jesus. Jesus het aarde toe gekom “om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Omdat Jesus die losprys betaal het, sal mense vir ewig in die Paradys op aarde kan lewe (Psalm 37:29). b Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Let op dat ons meer moet doen as om net in Jesus te glo. Ons moet “geloof in hom beoefen”, en ons moet kies om volgens sy leringe te lewe en te doen wat sy Vader wil hê. — Matteus 7:21; Jakobus 2:17.

  •   Bou ’n sterk vriendskap met God op. God wil hê dat ons nader aan hom moet kom en sy vriend moet word (Jakobus 2:23; 4:8). God is ewig. Hy sal nooit sterf nie, en hy wil hê dat sy vriende ook vir ewig moet lewe. In sy Woord sê God vir ons wat hy wil hê vir almal wat hom soek: ‘Mag julle vir ewig lewe.’ — Psalm 22:26.

Verkeerde idees oor die ewige lewe

 Verkeerde idee: Mense sal ’n manier uitvind sodat ons vir ewig kan lewe.

 Feit: Al lyk dit asof mediese vooruitgang dalk mense langer sal laat lewe, sal dit mense nooit vir ewig kan laat lewe nie. Net God kan ons die ewige lewe gee, want net hy is “die bron van die lewe” (Psalm 36:9). Hy belowe om “die dood vir ewig [te] verswelg”, of weg te neem, en om ewige lewe aan alle getroue mense te gee. — Jesaja 25:8; 1 Johannes 2:25.

 Verkeerde idee: Net mense van sekere rasse sal vir ewig lewe.

 Feit: God verkies nie een ras bo die ander nie. Die Bybel sê: “In elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Mense van alle rasse en kulture kan vir ewig lewe as hulle aan God gehoorsaam is.

 Verkeerde idee: Dit sal vervelig wees om vir ewig te lewe.

 Feit: God is die een wat vir ons die ewige lewe gee. Hy is lief vir ons en wil hê dat ons gelukkig moet wees (Jakobus 1:17; 1 Johannes 4:8). Hy weet dat ons betekenisvolle werk nodig het om gelukkig te wees (Prediker 3:12). God belowe dat dié wat vir ewig op die aarde gaan bly, bevredigende en betekenisvolle werk sal hê wat hulle en hulle geliefdes sal bevoordeel. — Jesaja 65:22, 23.

 Dié wat vir ewig gaan lewe, sal ook aanhou om meer te leer oor hulle Skepper en alles wat hy geskep het. Hy het mense geskep met die begeerte om vir ewig te lewe en om meer oor hom te leer, alhoewel hulle “nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie” (Prediker 3:10, 11). Daarom sal mense wat vir ewig lewe, altyd interessante dinge hê om te leer en te doen.

a Jehovah se Getuies bied ’n gratis Bybelstudieprogram aan. Vir meer inligting, kyk die video Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie?

b Sien die artikel “Jesus red — Hoe?