Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Rassisme

Rassisme

Wat is die oorsprong van die rasse van die mensdom?

“Adam [het] sy vrou Eva genoem, omdat sy die moeder moes word van almal wat lewe.” —Genesis 3:20.

WAT DESKUNDIGES SÊ

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) sê dat “alle mense aan ’n enkele spesie behoort en van ’n gemeenskaplike voorouer afstam”.—Verklaring oor Ras en Rassevooroordeel, 1978.

WAT DIE BYBEL SÊ

God het twee mense, Adam en Eva, geskep en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28). Adam en Eva het dus die vader en moeder van die hele mensdom geword. Later, toe ’n vloed feitlik al die mense op die aarde uitgewis het, het vier egpare dit oorleef—Noag en sy vrou tesame met hulle drie seuns en hulle vrouens. Die Bybel leer dat ons almal van Noag se seuns afstam.Genesis 9:18, 19.

Is enige ras verhewe bo ’n ander?

“[God] het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon.”Handelinge 17:26.

WAT PARTY AL GESÊ HET

’n Hele paar groepe het gedurende die 20ste eeu rassistiese ideologieë aangeneem. Die Nazi’s het byvoorbeeld aangevoer dat daar ’n biologiese grondslag vir opvattings oor rassemeerderwaardigheid is. Aan die ander kant het die UNESCO-dokument wat vroeër aangehaal is, “die wesenlike eenheid van die menseras en gevolglik die grondliggende gelykheid van alle mense en alle volke” erken.

WAT DIE BYBEL SÊ

Handelinge 10:34, 35 sê dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik”. Daarom kan niemand tereg een ras as verhewe bo ’n ander beskou nie.

Jesus het die standaard vir Christene gestel toe hy vir sy dissipels gesê het: “Julle [is] almal broers” (Matteus 23:8). Hy het gebid dat sy volgelinge verenig moet wees en “volkome een gemaak” moet word, nie verdeeld of van mekaar afgeskei moet wees nie.Johannes 17:20-23; 1 Korintiërs 1:10.

Sal rassisme ooit tot ’n einde kom?

“Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word . . . ; en al die nasies sal daarheen stroom.”Jesaja 2:2.

WAT PARTY DINK

Voortgesette rassespanning laat mense in baie lande twyfel of die samelewing enige betekenisvolle vordering gemaak het om rassisme uit die weg te ruim. Party kom tot die slotsom dat hulle nooit rassegelykheid sal sien nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

God sal rassehaat nie vir altyd duld nie. Inteendeel, onder sy Koninkryk sal mans en vroue “uit alle nasies en stamme en volke en tale” hom in eenheid dien en opregte liefde vir hulle medemens toon (Openbaring 7:9). God se Koninkryk is nie die een of ander abstrakte toestand van die hart nie. Dit is eerder ’n regering wat ingrypende veranderinge sal teweegbring op ons aarde—die plek waar God wou hê dat alle volke sonder rasseskeiding moes woon. *

^ par. 15 Vir meer inligting, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.