Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor die gebruik om te vas?

Wat sê die Bybel oor die gebruik om te vas?

Die Bybel se antwoord

 Wanneer mense in Bybeltye vir die regte rede gevas het, was dit vir God aanvaarbaar. Maar as dit vir die verkeerde rede gedoen is, het dit God nie bly gemaak nie. Vandag beveel die Bybel nie mense om te vas nie, maar dit verbied dit ook nie.

Onder watter omstandighede het party in die Bybel gevas?

  •   Wanneer hulle God se hulp en leiding gesoek het. Die mense wat na Jerusalem gereis het, het gevas om te wys dat hulle opreg na God se hulp soek (Esra 8:21-23). Paulus en Barnabas het partykeer gekies om te vas wanneer hulle ouer manne in die gemeente aangestel het. — Handelinge 14:23.

  •   Wanneer hulle op God se voorneme gefokus het. Ná Jesus se doop het hy 40 dae lank gevas om homself voor te berei om God se wil te doen gedurende sy bediening wat voorgelê het. — Lukas 4:1, 2.

  •   Wanneer hulle berou getoon het oor sondes van die verlede. Deur middel van die profeet Joël het God vir die ongehoorsame Israeliete gesê: “Keer terug tot my met julle hele hart, en met gevas en met gehuil en met geweeklaag.” — Joël 2:12-15.

  •   Wanneer hulle die Versoendag gevier het. Die Wet wat God die nasie Israel gegee het, het gesê dat hulle moes vas op die jaarlikse Versoendag a (Levitikus 16:29-31). Dit was gepas om by hierdie geleentheid te vas, want dit het die Israeliete herinner dat hulle onvolmaak is en God se vergifnis nodig het.

Wat is ’n paar verkeerde redes om te vas?

  •   Om ander te beïndruk. Jesus het ander geleer dat om te vas, as deel van jou diens aan God, ’n persoonlike en private saak tussen die persoon en God is. — Matteus 6:16-18.

  •   Om te bewys dat jy regverdig is. As jy vas, beteken dit nie dat jy sedelik of geestelik beter is as ander nie. — Lukas 18:9-14.

  •   Om te probeer vergoed vir ’n sonde wat jy opsetlik gedoen het (Jesaja 58:3, 4). Dit was nie vir God genoeg dat ’n persoon net vas nie. Hy moes ook opreg jammer en gehoorsaam wees.

  •   Om dit as ’n godsdiensritueel te doen (Jesaja 58:5-7). Soos ’n ouer, maak dit God ongelukkig wanneer sy kinders hom nie uit die hart lief het nie, maar net omdat hulle moet.

Word daar van Christene verwag om te vas?

 Nee. God het verwag dat die Israeliete op die Versoendag moet vas, maar nadat Jesus permanent vir die sondes van berouvolle mense gesterf het, verwag God dit nie meer nie (Hebreërs 9:24-26; 1 Petrus 3:18). Die Versoendag was deel van die Mosaïese Wet en Christene is nie meer onder hierdie Wet nie (Romeine 10:4; Kolossense 2:13, 14). Daarom kan elke Christen vir homself besluit of hy wil vas of nie. — Romeine 14:1-4.

 Christene besef dat om te vas nie die middelpunt van hulle aanbidding is nie. Die Bybel praat nooit van mense wat vas as mense wat gelukkig is nie. Maar ware Christene is bekend as gelukkige mense omdat hulle Jehovah “die gelukkige God” se persoonlikheid weerspieël. — 1 Timoteus 1:11; Prediker 3:12, 13; Galasiërs 5:22.

Wat mense dink die Bybel sê oor die gebruik om te vas

 Wat mense sê: Die apostel Paulus het getroude paartjies aangeraai om te vas. — 1 Korintiërs 7:5, King James Version.

 Feit: Die oudste Bybelmanuskripte praat nie van vas in 1 Korintiërs 7:5 nie. b Blykbaar het Bybelkopiiste die woord vas nie net in hierdie vers bygevoeg nie, maar ook in ander verse soos Matteus 17:21, Markus 9:29 en Handelinge 10:30. Meeste moderne Bybelvertalings het nie hierdie verwysing ingesit nie omdat dit nie in ouer Bybelmanuskripte is nie.

 Wat mense sê: Christene moet vas om die 40 dae te herdenk wat Jesus gevas het toe hy in die wildernis was ná sy doop.

 Feit: Jesus het nooit gesê dat Christene dit moet doen nie, en nêrens in die Bybel wys dit dat vroeë Christene dit gedoen het nie. c

 Wat mense sê: Christene moet vas wanneer hulle Jesus se dood herdenk.

 Feit: Jesus het nie gesê dat sy dissipels moet vas wanneer hulle sy dood herdenk nie (Lukas 22:14-18). Toe Jesus gesê het dat sy dissipels sou vas wanneer hy sterf, was dit nie ’n bevel nie. Hy het net gesê wat sou gebeur (Matteus 9:15). Die Bybel het gesê dat Christene wat honger is, eers by die huis moet eet voordat hulle die herdenking van Jesus se dood bywoon. — 1 Korintiërs 11:33, 34.

a God het vir die Israeliete gesê: ‘Julle moet julle siel kasty’ op die Versoendag (Levitikus 16:29, 31). Hierdie uitdrukking beteken blykbaar om te vas (Jesaja 58:3). Daarom sê die Contemporary English Version: “Julle moet ophou eet om te wys dat julle jammer is oor julle sondes.”

b Sien A Textual Commentary on the Greek New Testament deur Bruce M. Metzger, derde uitgawe, bladsy 554.

c Volgens die geskiedenis van die 40-dae lange Vastyd sê die New Catholic Encyclopedia: “In die eerste drie eeue was die tydperk om te vas om vir die Paasfees voor te berei, nie langer as ’n week nie. Dit was gewoonlik net een of twee dae op die meeste. . . . Die eerste keer dat ’n tydperk van 40 dae genoem word, is in die vyfde kanoniek van die Konsilie van Nicea (325). Maar party geleerdes twyfel of dit hier na die Vastyd verwys.” — Tweede uitgawe, deel 8, bladsy 468.