Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN

Wanneer huweliksmaats nie saamstem nie

Wanneer huweliksmaats nie saamstem nie

 Dit is moeilik genoeg vir getroude paartjies as hulle verskillende belangstellings, gewoontes en eienskappe het. Maar party dinge, soos die volgende, kan die getroude lewe nog moeiliker maak:

  •   Hoeveel tyd om met familie te spandeer

  •   Hoe om met geld te werk

  •   Om kinders te hê of nie

 Wat kan jy doen as jy en jou maat nie hieroor saamstem nie?

 Wat jy moet weet

 Om bymekaar te pas beteken nie om presies dieselfde te voel nie. Selfs al pas ’n man en vrou goed bymekaar, sal hulle nie presies dieselfde beskouing van dinge hê nie, selfs as dit by die belangrike dinge kom.

 “Ek het in ’n baie hegte familie grootgeword. Ons het oor naweke saam met my oupas en oumas, ooms en tannies en niggies en neefs gekuier. My man en sy familie het nie so baie tyd saam spandeer nie. Daarom stem ons nie saam oor hoeveel tyd ons met ons familie moet spandeer of met dié moet gesels wat ver weg bly nie.” – Tamara.

 “Ek en my vrou het grootgeword met verskillende opinies oor hoe om geld te spandeer. Ons het gedurende die eerste paar maande van ons huwelik ’n paar keer hieroor gestry. Ons moes meer as een keer hieroor praat voordat ons die probleem kon oplos.” – Tyler.

Twee mense kan na dieselfde prentjie kyk en tog verskillende dinge sien. Dieselfde kan gebeur wanneer huweliksmaats nie oor iets saamstem nie

 Party probleme kan nie opgelos word deur net in te gee nie. Byvoorbeeld, sê nou ’n skoonouer word siek en het hulp nodig? Of sê nou die een maat wil kinders hê en die ander een wil nie? a

 “Ek en my vrou het ’n paar lang gesprekke gehad oor of ons kinders wil hê of nie. Sy dink al hoe meer daaraan en ons stem al hoe minder hieroor saam. Ek kan nie sien hoe een van ons gaan ingee nie.” – Alex.

 Verskillende beskouings beteken nie dat jou huwelik nie suksesvol kan wees nie. Party geleerdes sê dat as jy en jou maat nie kan saamstem oor ’n ernstige saak nie, jy alles moet doen wat jy kan om te kry wat jy wil hê. Jy moet dit doen selfs al beteken dit dat julle paadjies moet skei. Maar hierdie “oplossing” beteken dat jou gevoelens belangriker is as jou gelofte voor God om by jou maat te bly, maak nie saak wat gebeur nie.

 Wat jy kan doen

 Wees vasbeslote om jou huweliksgelofte na te kom. Dit sal julle help om as ’n span saam te werk om julle probleme op te los eerder as om teen mekaar te werk.

 Bybelwaarheid: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” – Matteus 19:6.

 Bereken die koste. Byvoorbeeld, sê nou een maat wil kinders hê, maar die ander een wil nie. Daar is ’n paar dinge om aan te dink, soos:

  •   Hoe sterk is julle huwelik.

     Kan julle huwelik die ekstra druk daarvan hanteer om ’n kind groot te maak?

  •   Die verantwoordelikhede van ouers.

     Daar is meer by betrokke as om kos, klere en dak oor hulle kop te voorsien.

  •   Julle geldelike situasie.

     Is jy gebalanseerd wanneer dit kom by werk, familie en ander verantwoordelikhede?

 Bybelwaarheid: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken . . . nie?” – Lukas 14:28.

 Dink aan wat dit alles behels. Julle sal dalk party dinge kan oplos waaroor julle nie saamstem nie. Byvoorbeeld, as dit gaan oor of julle kinders wil hê of nie, kan die maat wat twyfel, hom of haar afvra:

  •   ‘Wanneer ek sê dat ek nie kinders wil hê nie, bedoel ek nooit nie of net nie nou nie?’

  •   ‘Twyfel ek dat ek ’n goeie ouer sal wees?’

  •   ‘Is ek bang dat my maat my sal afskeep?’

 Die maat wat graag kinders wil hê, kan weer aan vrae soos die volgende dink:

  •   ‘Is ons gereed vir die verantwoordelikheid om ouers te wees?’

  •   ‘Kan ons dit bekostig om ’n kind groot te maak?’

 Bybelwaarheid: “Die wysheid van bo is . . . redelik.” – Jakobus 3:17.

 Beskou dinge vanuit jou maat se oogpunt. Twee mense kan na dieselfde prentjie kyk en tog verskillende dinge sien. Op dieselfde manier kan ’n getroude paartjie na dieselfde situasie kyk en tog elkeen sy eie opinie daaroor hê. Een voorbeeld hiervan is hoe geld gespandeer moet word. As julle ’n situasie moet bespreek waaroor julle nie saamstem nie, begin met die dinge waaroor julle wel saamstem.

  •   Oor watter doelwitte stem julle saam?

  •   Wat is die voordele van elkeen se beskouing?

  •   Kan een of albei huweliksmaats hulle beskouing verander om die huwelik te red?

 Bybelwaarheid: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.” – 1 Korintiërs 10:24.

a Belangrike sake moet voor die huwelik bespreek word. Maar onverwagse omstandighede kan opduik, of die een maat verander dalk ná ’n ruk van besluit. – Prediker 9:11.