Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Wat ouers oor dagsorg moet weet

Wat ouers oor dagsorg moet weet

 Party ouers wat werk, besluit om hulle voorskoolse kinders na ’n dagsorgsentrum te stuur. Dit is ’n fasiliteit wat soos ’n klaskamer is. Sal dit goed wees vir jou kind?

 Vrae wat jy moet vra

 Sal dagsorg ’n uitwerking hê op die band tussen ’n ouer en ’n kind? Dit kan. Gedurende die eerste paar jaar van ’n kind se lewe ontwikkel sy brein vinnig op maniere wat ’n uitwerking sal hê op sy verhoudings met ander. Probeer om soveel as moontlik tyd met jou kind te spandeer gedurende hierdie vormingsjare. – Deuteronomium 6:6, 7.

  •    Ouers wat dagsorg oorweeg, moet dink aan hoe hulle ’n hegte band met hulle kind sal behou.

 Sal dagsorg jou invloed op jou kind verminder? Dit kan. Die boek Hold On to Your Kids sê: “Hoe meer tyd voorskoolse kinders met mekaar spandeer, hoe meer sal hulle beïnvloed word deur kinders van hulle eie ouderdom.”

  •    Ouers wat dagsorg oorweeg, moet dink aan of hulle die hoofinvloed in hulle kind se lewe sal bly.

 Sal dagsorg jou kind ’n akademiese voorsprong gee wanneer hy of sy met skool begin? Party sê ja. Ander sê dat dagsorg geen of min impak op ’n kind se ontwikkeling het nie. Wat ook al die geval is, kindersielkundige Penelope Leach skryf: “Moenie dink dat ‘opvoeding’ die sleutel tot ’n beter lewe is nie. En moenie dink dat dit altyd beter vir ’n kind is om so jonk as moontlik met skool te begin nie. As jy so dink, onderskat jy die ‘opvoeding’ wat jy vir jou kind van geboorte af gegee het.”

  •    Ouers wat dagsorg oorweeg, moet dink aan of dit voordelig of selfs nodig is.

 Is dit moontlik vir jou of jou maat om by die huis te bly en na julle kind te kyk? In party gevalle werk albei ouers net omdat hulle meer geld wil verdien. Is dit die moeite werd?

  •    Ouers wat dagsorg oorweeg, moet kyk of hulle kan vereenvoudig sodat een ouer by die huis kan bly.

 Die besluit om jou kind na ’n dagsorgsentrum te stuur, moet net gemaak word nadat jy die voordele en die nadele deeglik oorweeg het. Wat as jy nog steeds voel dat dagsorg ’n goeie keuse vir jou gesin is nadat jy dit gedoen het?

 Wat jy kan doen

 Die Bybel sê: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). Met hierdie beginsel in gedagte, dink mooi voordat jy enige vorm van dagsorg kies.

 Vind uit oor jou opsies

  •    Party ouers verkies ’n dagsorg by iemand se huis met een of dalk ’n paar versorgers en ’n klein groepie kinders.

  •    Ander ouers het ’n familielid, ’n versorger wat by hulle woon of ’n oppasser wat na hulle kind kyk.

 Al die opsies het voordele en nadele. Praat gerus met ander ouers wat al die een of ander vorm van dagsorg gekies het. Die Bybel sê: “Wysheid behoort aan dié wat raad soek.” – Spreuke 13:10.

 Wat as jy ’n dagsorgsentrum kies? In daardie geval . . .

 Vind uit oor die fasiliteit

  •    Is dit gelisensieer of word dit volgens wet gereguleer? Watter sertifikate, verwysings of reputasie het dit?

  •    Is die fasiliteit skoon en veilig?

  •    Watter aktiwiteite word saam met die kinders gedoen? a

 Vind uit oor die versorgers

  •    Watter opleiding het hulle? Dit sluit kleuteropvoeding, noodhulp en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) in.

  •    Kan jy seker maak of die versorgers van jou kind ’n kriminele rekord het?

  •    Gebeur dit gereeld dat werkers bedank en dat nuwe mense gehuur moet word? ’n Hoë bedankingsyfer sal beteken dat jou kind die heeltyd gewoond moet raak aan nuwe versorgers.

  •    Na hoeveel kinders moet elke versorger by die fasiliteit kyk? As elke versorger na baie kinders moet kyk, sal dit dalk beteken dat jou kind nie die nodige aandag kry nie. Die hoeveelheid aandag wat jou kind nodig het, hang natuurlik af van sy ouderdom en sy vermoë.

  •    Is die versorgers bereid om met jou te praat oor jou bekommernisse – of hulle s’n?

a Byvoorbeeld, word die TV as ’n oppasser gebruik of voorsien die fasiliteit aktiwiteite wat jou kind verstandelik en fisies stimuleer?