Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jou rol as ouer te vervul

Hoe om jou rol as ouer te vervul

Onthou jy die oomblik toe jy jou pasgebore baba die eerste keer in jou arms gehou het?

Kort voor lank het jy besef dat jou kind nog baie jare lank leiding sal nodig hê en het jy moontlik oorweldig begin voel. Jy het gou besef watter groot verantwoordelikheid op jou rus.

HOEWEL die rol van ’n ouer nog altyd veeleisend was, is dit veral vandag die geval. Waarom? Omdat die wêreld komplekser is as toe jy ’n kind was. Van die sedelike uitdagings waarvoor kinders te staan kom—soos wanneer hulle die Internet gebruik—het ’n paar dekades gelede nie eens bestaan nie.

Hoe kan jy jou kind help om die sedelike slaggate van hierdie moderne wêreld te vermy? Hier volg drie wenke.

1 Sit jou waardes duidelik uiteen.

Terwyl kinders grootword, word hulle blootgestel aan ’n stortvloed verkeerde inligting oor sedes—soms is hulle portuurs hiervoor verantwoordelik, en dikwels die media. Die uitwerking van sulke negatiewe invloede kan veral gesien word wanneer kinders hulle tienerjare bereik. Navorsing toon egter dat baie adolessente groter waarde heg aan hulle ouers se beskouing as aan dié van hulle portuurs wanneer dit kom by belangrike besluite in die lewe.

Wat jy kan doen. Ouers in eertydse Israel is aangespoor om dikwels met hulle kinders te praat om heilsame waardes by hulle in te skerp (Deuteronomium 6:6, 7). Doen dieselfde met jou kind. As jy byvoorbeeld volgens die Bybel se sedelike standaarde lewe, moet jy vir jou kind verduidelik waarom hierdie standaarde volgens jou die sleutel is tot die beste lewenswyse.

2 Help jou kind om te verstaan dat dade gevolge het.

Die Bybel sê: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Die beginsel van oorsaak en gevolg kan in feitlik elke aspek van die lewe gesien word. Dink terug aan jou eie kinderjare. Jy het ongetwyfeld die onvergeetlikste lesse geleer toe jy die gevolge van jou dade moes dra.

Wat jy kan doen. Gebruik werklike voorbeelde om aan jou kind te verduidelik hoe diegene wat ’n verkeerde weg ingeslaan het, gely het of hoe diegene wat die regte ding gedoen het, daarby baat gevind het (Lukas 17:31, 32; Hebreërs 13:7). En moenie jou kind teen die gevolge van sy of haar foute beskerm nie. Gestel jou seun het ’n ongeërgde houding en breek ’n ander seun se speelding. Jy kan vir jou seun sê om van sy eie speelgoed vir hom te gee. Jou kind sal hierdie les dat hy ander se besittings moet respekteer, nie gou vergeet nie.

3 Help jou kind om positiewe eienskappe aan te kweek.

’n Bybelspreuk sê: “Kinders toon deur hulle dade wat hulle is; jy kan sien of hulle eerlik en goed is” (Spreuke 20:11, Good News Translation). Terwyl kinders grootword, ontwikkel hulle ’n gedragspatroon waardeur hulle gekenmerk word. Ongelukkig word party bekend vir hulle negatiewe eienskappe (Psalm 58:3). Maar ander bou ’n stewige, prysenswaardige reputasie op. In ’n brief aan ’n gemeente het die apostel Paulus byvoorbeeld van die jong man Timoteus gesê: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie.”—Filippense 2:20.

Wat jy kan doen. Moenie net beklemtoon dat dade gevolge het nie, soos vroeër gemeld is, maar help jou kind ook om te dink aan die eienskappe waarvoor hy of sy bekend wil wees. Wanneer jongmense voor ’n uitdaging te staan kom, kan hulle leer om goeie besluite te maak deur hulle die volgende vrae af te vra:

Die Bybel bevat talle werklike voorbeelde van manne en vroue wie se dade getoon het dat hulle óf goed óf sleg was (1 Korintiërs 10:11; Jakobus 5:10, 11). Gebruik hierdie voorbeelde om jou seun of dogter te help om positiewe eienskappe aan te kweek.

Die publikasies van Jehovah se Getuies kan jou help om te sien hoe jy Bybelbeginsels in jou gesin kan toepas en hoe jy jou kinders kan help om dieselfde te doen.