Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mans—Maak julle huis ’n veilige hawe

Mans—Maak julle huis ’n veilige hawe

WATTER soort sekuriteit moet ’n man aan sy vrou voorsien? Baie mense het grootgeword met die idee dat dit ’n man se hoofdoel is om finansiële sekuriteit aan sy gesin te bied. Maar party vrouens wat baie materiële besittings het, voel nog steeds emosioneel onveilig—selfs vreesbevange. ’n Spaanse vrou met die naam Rosa sê byvoorbeeld van die man met wie sy getrou het: “Mense het van hom gehou, want hy het hulle goed behandel, maar by die huis het hy my sleg behandel.” Joy, van Nigerië, erken: “Wanneer ek nie met my man saamgestem het nie, het hy gesê: ‘Jy moet alles doen wat ek sê, want ek is jou man.’”

Hoe kan ’n man sy rol as eggenoot op ’n liefdevolle wyse vervul? Hoe kan ’n man sy huis ’n veilige hawe, “’n rusplek”, vir sy vrou maak?—Rut 1:9.

WAT SÊ DIE BYBEL OMTRENT DIE MAN SE GESAG?

Al is ’n man en ’n vrou in God se oë gelyk, sê die Bybel dat elkeen ’n spesifieke rol in die gesin speel. Romeine 7:2 sê dat ’n getroude vrou onder “die wet van haar man” kom. Net soos baie instellings ’n hoof aanstel om hulle sake te bestuur, het God die man as die hoof van sy vrou aangestel (1 Korintiërs 11:3). Mans moet die leiding neem in hulle gesin.

Mans, hoe moet julle julle godgegewe gesag uitoefen? “Hou aan om julle vrouens lief te hê”, sê die Bybel, “net soos die Christus ook die gemeente liefgehad . . . het” (Efesiërs 5:25). Ja, al het Jesus Christus nooit getrou nie, kan sy voorbeeld julle help om ’n goeie man te wees. Kom ons kyk hoe.

JESUS SE LEWE—’N VOLMAAKTE VOORBEELD VIR MANS

Jesus het probeer om ander te verkwik en hulle las te verlig. Jesus het die volgende belofte gemaak aan almal wat onderdruk was en swaar belaai was met probleme: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28, 29). Hy het dikwels hulle fisiese lyding verlig en verkwikkende geestelike hulp voorsien. Dit is geen wonder nie dat baie tot Jesus aangetrokke was omdat hulle daarvan oortuig was dat hy hulle las sou verlig!

Hoe mans Jesus kan navolg. Soek na maniere om jou vrou se las te verlig. Party vrouens voel soos Rosa, wat gesê het: “Ek was niks meer as my man se bediende nie.” In teenstelling hiermee sê ’n man met die naam Kweku, wat ’n goeie huwelik het: “Ek vra my vrou dikwels hoe ek haar kan help. Omdat ek vir haar lief is, help ek haar baie keer met huishoudelike takies voordat sy my vra.”

Jesus was bedagsaam en het empatie getoon. ’n Arm vrou het 12 jaar lank aan ’n ernstige siekte gely. Toe sy gehoor het van Jesus se vermoë om wonderwerke te verrig, het sy “bly sê: ‘As ek net aan sy boklere raak, sal ek gesond word.’” Sy was reg. Sy het nader aan Jesus gegaan, aan die fraiings van sy bokleed geraak en is onmiddellik genees. Hoewel sommige wat dit gesien het, waarskynlik gedink het dat hierdie vrou voorbarig was, het Jesus besef dat sy desperaat is. * Hy het liefdevol vir haar gesê: “Dogter, . . . wees van jou ernstige siekte genees.” Hy het haar nie in die verleentheid gestel of haar berispe nie, maar het eerder erken dat sy siek was. Sodoende het hy gewys watter soort persoon hy was—’n man met empatie.—Markus 5:25-34.

Hoe mans Jesus kan navolg. Wanneer jou vrou nie goed voel nie, moet jy bedagsamer en geduldiger wees. Probeer om jou in haar plek te stel en haar optrede te verstaan. Ricardo sê byvoorbeeld: “Wanneer ek sien dat my vrou baie emosioneel is, probeer ek hard om nie iets te sê wat haar erger sal laat voel nie.”

Jesus het met sy dissipels gekommunikeer. Jesus het vryelik en openlik met sy vriende gekommunikeer. “Ek [het] alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak”, het hy gesê (Johannes 15:15). Dit is waar dat Jesus soms alleen wou wees om te peins en om te bid. Maar hy het dikwels sy diepste gevoelens teenoor sy dissipels uitgespreek. Die aand voordat hy as ’n veroordeelde misdadiger tereggestel is, het hy openlik vir hulle gesê dat hy “diep bedroef” is (Matteus 26:38). Selfs wanneer sy vriende se optrede hom teleurgestel het, het Jesus nooit opgehou om met hulle te praat nie.—Matteus 26:40, 41.

Om oor Jesus se voorbeeld na te dink, kan ’n man help om ’n beter eggenoot en pa te wees

Hoe mans Jesus kan navolg. Kommunikeer met jou vrou—uit jou hart en uit jou verstand. ’n Vrou kla dalk dat haar man maklik praat wanneer hulle tussen mense is, maar dat hy by die huis stil is. Aan die ander kant voel ‘n vrou geliefd wanneer haar man openhartig met haar praat. Ana sê: “Ek voel dat hy werklik vir my lief is, en ek voel na aan hom.”

Moenie jou vrou straf deur nie met haar te praat nie. “Wanneer my man vir my kwaad was”, sê een vrou, “het hy dae lank geweier om met my te praat. Hy het my skuldig laat voel en my laat voel asof hy my verag.” Edwin probeer egter om Jesus se voorbeeld na te volg. “Wanneer ek kwaad word, reageer ek nie onmiddellik nie, maar soek ek na die regte geleentheid om dinge uit te praat.”

Joy, wat vroeër aangehaal is, het veranderinge in haar man gesien sedert hy die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het. Joy sê: “Hy het verbeter en probeer hard om Jesus na te volg deur liefdevoller te wees.” Miljoene egpare vind by dieselfde Bybelonderrigting baat. Wil jy ook? Jy kan een van Jehovah se Getuies vir ’n gratis Bybelstudie vra.

^ par. 10 Volgens die Mosaïese Wet het hierdie vrou se toestand haar onrein gemaak en sou enigiemand aan wie sy geraak het, as onrein beskou word.—Levitikus 15:19, 25.