Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | ’N REGERING SONDER KORRUPSIE

God se Koninkryk—’n Regering sonder korrupsie

God se Koninkryk—’n Regering sonder korrupsie

“Op die ou end is staatsamptenare nog steeds burgers en is ons almal ’n produk van die samelewing.” Dit is wat die ouditeur-generaal van Nicaragua gesê het toe hy verduidelik het waarom hy dink dat dit onmoontlik is om korrupsie in regerings uit te wis.

As die mensdom oor die algemeen korrup is, sal jy sekerlik saamstem dat enige regering wat deel daarvan is, ook korrup sal wees. ’n Regering wat vry van korrupsie is, kan dus nie sy oorsprong by mense hê nie. Die Bybel beskryf so ’n regering—God se Koninkryk, die regering waarvoor Jesus sy volgelinge geleer het om te bid.—Matteus 6:9, 10.

God se Koninkryk is ’n werklike regering wat uit die hemel heers. Dit sal alle menseregerings vervang (Psalm 2:8, 9; Openbaring 16:14; 19:19-21). Een van die seëninge wat die Koninkryk vir die mensdom sal meebring, is dat dit korrupsie in regerings sal uitwis. Ses aspekte van die Koninkryk waarborg dit.

1. MAG

DIE PROBLEEM: Menseregerings ontvang finansiële steun van hulle burgers, hoofsaaklik deur middel van belasting. Staatsamptenare wat tot hierdie geld toegang het, kom in die versoeking om te steel. Ander aanvaar omkoopgeskenke van mense wat wil hê dat hulle hulle belasting of ander geld wat hulle die regering skuld, moet verminder. Dit kan ’n bose kringloop tot gevolg hê—die regering verhoog belasting om vir hierdie verliese te vergoed, en dit lei weer tot meer korrupsie. In so ’n omgewing is dit dikwels eerlike mense wat die meeste ly.

DIE OPLOSSING: God se Koninkryk ontvang sy mag van die almagtige God, Jehovah (Openbaring 11:15). * Dit is nie van belastinggeld afhanklik nie. Omdat God “sterk in krag”, onselfsugtig en vrygewig is, sal die Koninkryk ryklik in die behoeftes van al sy onderdane voorsien.—Jesaja 40:26; Psalm 145:16.

2. HEERSER

DIE PROBLEEM: Pogings om korrupsie uit te roei, “moet bo begin”, sê Susan Rose-Ackerman, wat in die vorige artikel aangehaal is. Regerings verloor geloofwaardigheid as hulle korrupsie onder die polisie of doeanebeamptes probeer uitwis, terwyl hulle dit onder hooggeplaaste amptenare duld. En al is ’n menseheerser hoe eerlik, is hy nog steeds onvolmaak. Soos die Bybel sê: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen [nie].”—Prediker 7:20.

Jesus het die grootste omkoopgeskenk wat nog ooit aangebied is, van die hand gewys

DIE OPLOSSING: Jesus Christus is deur God gekies om die Heerser van die Koninkryk te wees. Anders as onvolmaakte mense sal geen poging om hom te versoek om verkeerd te doen, slaag nie. Jesus het dit getoon deur die grootste omkoopgeskenk wat iemand nog ooit aangebied is—“al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid”—van die hand te wys. Dit is wat die Duiwel aan Jesus belowe het in ruil vir een daad van valse aanbidding aan Satan, die heerser van die wêreld (Matteus 4:8-10; Johannes 14:30). Selfs terwyl Jesus ’n marteldood gesterf het, was hy so vasbeslote om sy onkreukbaarheid te handhaaf dat hy geweier het om ’n dwelm te neem wat sy pyn sou verdoof, maar dalk ook sou veroorsaak dat hy nie helder sou kon dink nie (Matteus 27:34). Jesus, wat deur God tot hemelse lewe opgewek is, het bewys dat hy heeltemal bekwaam is om oor die Koninkryk te heers.—Filippense 2:8-11.

3. STABILITEIT

DIE PROBLEEM: Baie lande hou gereeld verkiesings, en dit behoort mense in staat te stel om korrupte amptenare uit te stem. Maar in werklikheid is korrupsie in verkiesingsveldtogte en verkiesings algemeen, selfs in sogenoemde ontwikkelde lande. Rykes kan ’n groot invloed hê op huidige en toekomstige ampsdraers deur aan verkiesingsveldtogte skenkings te maak en ander dinge te doen.

Regter John Paul Stevens van die Amerikaanse Hooggeregshof het geskryf dat hierdie invloed “’n regering tot gevolg kan hê wat nie wettig verkies of doeltreffend is nie en waarin die publiek nie vertroue kan hê nie”. Dit is dus geen wonder dat baie mense regoor die wêreld dink dat politieke partye die korrupste instansies is nie.

DIE OPLOSSING: God se Koninkryk verwyder die moontlikheid van bedrog in verkiesings en verkiesingsveldtogte omdat dit ’n stabiele en permanente heerskappy is (Daniël 7:13, 14). Aangesien die Heerser daarvan deur God gekies is, hoef die Koninkryk nie deur mense ingestem te word om geldig te wees nie en kan dit nie omvergewerp word nie. Die stabiliteit van die Koninkryk verseker dat dit altyd in die langtermynbelange van die onderdane daarvan optree.

4. WETTE

God se Koninkryk is ’n werklike regering wat uit die hemel heers

DIE PROBLEEM: Aanvanklik sal ’n mens dalk dink dat dit dinge sal verbeter as nuwe wette gemaak word. Maar deskundiges het gevind dat meer wette in baie gevalle net tot meer korrupsie lei. En wette wat spesifiek bedoel is om korrupsie teë te werk, is dikwels duur om toe te pas en tog ondoeltreffend.

DIE OPLOSSING: Die wette van God se Koninkryk is ver verhewe bo dié van menseregerings. Byvoorbeeld, Jesus het ons nie ’n lang lys moets en moenies gegee nie, maar het ons eerder die Gulde Reël gegee. Hy het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Nog belangriker, die wette van die Koninkryk vestig die aandag op beweegredes sowel as optrede. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, het Jesus gesê (Matteus 22:39). God, wat die hart kan lees, kan natuurlik seker maak dat sulke gebooie gehoorsaam word.—1 Samuel 16:7.

5. BEWEEGREDES

DIE PROBLEEM: Die dryfkrag agter korrupsie is gierigheid en selfsug. Staatsamptenare en burgers weerspieël dikwels hierdie negatiewe eienskappe. Byvoorbeeld, in die geval van die afdelingswinkel in Seoel wat ineengestort het, het die kontrakteurs die staatsamptenare omgekoop omdat hulle geweet het dat dit goedkoper sou wees om omkoopgeld te betaal as om die regte boumateriaal en boumetodes te gebruik.

Om korrupsie uit die weg te ruim, moet mense dus geleer word om ingewortelde beweegredes, soos gierigheid en selfsug, te verander. Maar menseregerings het nie die wil of die vermoë om so ’n opvoedingsprogram in werking te stel nie.

DIE OPLOSSING: God se Koninkryk pak die oorsaak van korrupsie aan omdat dit mense leer hoe om verkeerde beweegredes te verander. * Hierdie opvoeding help mense om “vernuwe [te] word in die krag wat [hulle] verstand aandryf” (Efesiërs 4:23). Hulle leer om gierigheid en selfsug met vergenoegdheid en belangstelling in ander te vervang.—Filippense 2:4; 1 Timoteus 6:6.

6. ONDERDANE

DIE PROBLEEM: Selfs as mense onder die beste omstandighede grootword en die beste sedelike opvoeding kry, sal party nog steeds kies om oneerlik en korrup te wees. Deskundiges erken dat dit die rede is waarom menseregerings korrupsie nie kan uitwis nie. Die beste uitkoms waarvoor mense kan hoop, is dat die omvang en vernietigende gevolge van korrupsie beperk kan word.

DIE OPLOSSING: Die Verenigde Nasies se Konvensie teen Korrupsie sê dat regerings “integriteit, eerlikheid en verantwoordelikheid” moet bevorder as hulle korrupsie wil bestry. Dit is wel ’n edele doelwit, maar God se Koninkryk doen selfs meer. Die Koninkryk bevorder nie net hierdie eienskappe nie—dit word van sy onderdane vereis. Die Bybel sê dat “gierigaards” en “leuenaars” nie aan die vereistes voldoen om die Koninkryk te beërf nie.—1 Korintiërs 6:9-11; Openbaring 21:8.

Mense kan leer om aan hierdie hoë sedelike standaarde te voldoen, soos die vroeë Christene bewys het. Byvoorbeeld, toe ’n dissipel met die naam Simon probeer het om heilige gees by die apostels te koop, het hulle die omkoopgeld geweier en vir hom gesê: “Toon . . . berou oor hierdie slegtheid van jou.” Toe Simon gesien het hoe gevaarlik hierdie verkeerde begeerte is, het hy die apostels gevra om vir hom te bid sodat hy dit kon oorkom.—Handelinge 8:18-24.

HOE OM ’N ONDERDAAN VAN DIE KONINKRYK TE WORD

Jy het die geleentheid om ’n onderdaan van God se Koninkryk te word, ongeag jou nasionaliteit (Handelinge 10:34, 35). Die opvoedingsprogram wat deur die Koninkryk aangebied word—en nou wêreldwyd beskikbaar is—sal jou wys hoe dit moontlik is. Jehovah se Getuies sal graag vir jou wys hoe jy by hulle gratis tuisbybelstudiereëling kan baat vind, al het jy net tien minute per week. Jy kan meer leer omtrent verskeie onderwerpe, insluitende “die goeie nuus van die koninkryk van God” en hoe dit korrupsie in regerings sal uitwis (Lukas 4:43). Ons nooi jou om met die Getuies in jou gebied in verbinding te tree of om ons webwerf, jw.org/af, te besoek.

Wil jy graag ’n gratis tuisbybelstudie hê?

^ par. 8 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

^ par. 22 Byvoorbeeld, sien die artikel “Is dit moontlik om eerlik te wees in ’n korrupte wêreld?” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2012.