Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe binne jou inkomste—Hoe jy dit kan doen

Lewe binne jou inkomste—Hoe jy dit kan doen

STEL jou voor dat jy ’n sak met ’n gat daarin het en jy die sak vol lug moet hou. Hoe sou jy dit doen? Wel, solank jy ten minste soveel lug in die sak inblaas as wat deur die gat ontsnap, kan jy die sak vol lug hou.

Dit is basies wat dit beteken om binne jou inkomste te lewe. Jou inkomste kan vergelyk word met die lug wat jy in die sak inblaas. Jou uitgawes is soos die lug wat deur die gat ontsnap. Die uitdaging is om nie toe te laat dat jou uitgawes meer word as wat jou inkomste kan dek nie.

Hoewel die basiese gedagte eenvoudig klink, is dit iets heeltemal anders om dit toe te pas en daarby baat te vind. Mense kan hulle baie finansiële probleme spaar as hulle maar net sou probeer om hierdie basiese beginsel te volg. Hoe kan dit gedoen word? Waar kan ons riglyne vind wat werklik prakties is? Die Bybel is ’n bron van heelwat nuttige inligting oor hierdie saak. Kom ons kyk kortliks na die raad wat dit bied.

Nuttige Bybelbeginsels

Daar is baie praktiese beginsels in die Bybel wat jou kan help om jou finansies te bestuur. Ons gaan net ’n paar daarvan ondersoek. Jy sal ongetwyfeld saamstem dat hierdie beginsels jou kan help om binne jou inkomste te lewe.

Beplan, of stel ’n begroting op.

Om geld doeltreffend te bestuur, moet jy weet hoeveel geld jy verdien en waarop jy dit uitgee. Die Bybel sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af” (Spreuke 21:5). Party gebruik ’n eenvoudige koevertstelsel. Elke koevert stel ’n sekere soort uitgawe voor, soos “Kos”, “Huur” of “Klere”. Hetsy jy hierdie eenvoudige metode of iets meer ingewikkelds gebruik, die belangrike ding is dat jy weet waarop jy jou geld uitgee en dat jy noodsaaklikhede eerste stel, nie luukshede nie.

Vermy afguns.

Baie mense in ontwikkelende lande smag na die dinge wat mense in nywerheidslande het. Op ’n individuele grondslag is baie geneig om die dinge te begeer waarmee hulle bure spog. Dit kan ’n strik wees. Dalk kan die buurman ook nie werklik hierdie dinge bekostig nie. Waarom sou ’n mens nou iemand anders se dwase weg wou volg en in ’n finansiële verknorsing beland? Die Bybel waarsku: “’n Man met ’n afgunstige oog jaag waardevolle dinge na, maar hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie.”—Spreuke 28:22.

 Hou jou lewe eenvoudig.

Jesus het sy volgelinge aangespoor om hulle oog “eenvoudig” te hou (Matteus 6:22). As jy jou instel op kaviaar en sjampanje terwyl jy net droë vis en water kan bekostig, kan dit maklik tot finansiële ondergang lei. Volgens ’n verslag deur ’n Asiatiese Ontwikkelingsbank lewe byna ’n derde van die mense in die Filippyne en meer as die helfte van die mense in Indië onder die armoedegrens vir Asië, wat ongeveer R9,80 per dag is. Wanneer mense so ’n karige inkomste het, is dit verstandig om op noodsaaklikhede te konsentreer. Maar selfs in ryker lande kan dieselfde beginsel mense help om baie finansiële probleme te vermy.

Wees tevrede met wat werklik nodig is.

Dit gaan hand aan hand met die raad om jou lewe eenvoudig te hou. Die Bybel gee die volgende raad in 1 Timoteus 6:8: “As ons . . . voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” Party van die gelukkigste mense in die wêreld het min geld; nietemin put hulle bevrediging uit wat hulle wel het, wat nie net materiële dinge insluit nie, maar ook die liefde van hulle familie en vriende.—Spreuke 15:17.

Vermy onnodige skuld.

Hoe waar is die Bybel se woorde tog: “Die ryke heers oor die armes, en die lener is ’n kneg van die man wat uitleen”! (Spreuke 22:7). Hoewel dit onder sekere omstandighede dalk onvermydelik lyk om skuld te maak, vind diegene wat hulle onnodig in die skuld steek bloot om iets te koop wat hulle wil hê, dat hulle ’n baie swaar finansiële meulsteen om hulle nek gehang het. Dit kan veral die geval wees wanneer kredietkaarte gebruik word. Die tydskrif Time het gesê: “As ons eers ons kaart in die hand het, begin ons heeltemal irrasioneel optree.” Eric, wat in die Filippyne woon, sê: “Wanneer ek ’n kredietkaart gebruik, koop ek dikwels meer as wanneer ek kontant gebruik. Dit krap my begroting om wanneer ek die rekening moet betaal.” Hoe verstandig is dit tog om baie, baie versigtig te wees wanneer ’n mens maklike krediet gebruik!—2 Konings 4:1; Matteus 18:25.

Spaar voordat jy koop.

Party beskou dit dalk as oudmodies om te spaar voordat ’n mens iets koop, maar dit is in werklikheid een van die verstandigste maniere om finansiële probleme te voorkom. Deur dit te doen, vermy baie mense skuld en die probleme wat daarmee gepaardgaan, soos hoë rentekoerse, wat alles wat jy koop uiteindelik duurder maak. In die Bybel word die mier “wys” genoem omdat hy sy “voedselvoorraad tydens die oes” vir toekomstige gebruik opberg.—Spreuke 6:6-8; 30:24, 25.

‘Ons bespreek presies hoeveel ons kan spandeer’

Leer by ander

Al die Bybelraad wat ons bespreek het, klink in beginsel dalk goed, maar help dit mense werklik om binne hulle inkomste te lewe? Kom ons kyk na die ondervindinge van party wat hierdie raad gevolg het en finansiële uitdagings suksesvol die hoof gebied het.

Diosdado, wat vier kinders het, erken dat die onlangse finansiële krisis dit moeiliker gemaak  het om in sy gesin se behoeftes te voorsien. Nietemin besef hy die waarde van ’n begroting. “Ek beplan wat ek met elke centavo van my inkomste gaan doen”, sê hy. “Ek het ’n lys van al my uitgawes.” Danilo volg dieselfde beginsel. Hy en sy vrou se kleinsakeonderneming het ondergegaan. Nogtans kom hulle uit met wat hulle het deur noukeurig te begroot. Hy sê: “Ons weet hoeveel geld ons elke maand verdien, en ons weet ook hoeveel ons uitgee. Na aanleiding hiervan bespreek ons presies hoeveel ons kan spandeer.”

‘Ons ry nie meer na Christelike vergaderinge nie, maar loop nou’

Om by hulle begroting te bly, het party dit nodig gevind om sekere uitgawes te besnoei. Myrna, ’n weduwee wat drie kinders grootmaak, sê: “Ek en my kinders gebruik nie meer openbare vervoer om by Christelike vergaderinge te kom nie, maar loop nou.” Myrna het haar kinders probeer leer hoe belangrik dit is om ’n eenvoudige lewe te lei. Sy sê: “Ek het probeer om ’n goeie voorbeeld te stel in die toepassing van die beginsel in 1 Timoteus 6:8-10, wat toon hoe belangrik dit is om tevrede te wees met wat jy het.”

Gerald, wat twee kinders het, het dieselfde gedoen. Hy sê: “Tydens ons gesinsbybelstudie bespreek ons ondervindinge van Christene wat gefokus bly op wat werklik belangrik is, geestelike dinge. Die resultate is aanmoedigend, want ons kinders dring nie aan op dinge wat nie werklik belangrik is nie.”

‘Ek koop nie op impuls nie’

Janet is ongetroud en dien as ’n voltydse vrywillige Bybelonderrigter in die Filippyne. Sy het onlangs haar werk verloor, maar sy kom nog steeds uit met wat sy het. “Ek doen dit deur selfbeheersing aan die dag te lê en vindingryk te wees”, sê sy. “Ek koop nie in winkelsentrums nie, maar soek eerder winkels met billiker pryse. Hoekom moet ek meer betaal as ek dinge teen ’n beter prys kan koop? Ek koop ook nie op impuls nie.” Janet sien die praktiese wysheid daarvan in om te spaar voordat sy iets koop. “As ek ekstra geld het, al is dit net ’n bietjie”, sê sy, “sit ek dit weg sodat ek ’n reserwe het vir onverwagse uitgawes.”

Wat kredietkaarte betref, sê Eric, wat vroeër genoem is: “Ek gebruik ’n kredietkaart slegs in noodgevalle.” Diosdado stem saam: “Om my uitgawes onder beheer te hou, los ek my kredietkaart gewoonlik by die kantoor.”

Jy kan binne jou inkomste lewe

Ja, hoewel die Bybel ’n boek is wat hoofsaaklik op geestelike waardes konsentreer, vind baie dat dit ook riglyne bied wat ons materieel tot voordeel kan strek (Spreuke 2:6; Matteus 6:25-34). Deur die Bybelbeginsels wat in hierdie artikel bespreek is, toe te pas en by ander te leer wat baat gevind het omdat hulle hierdie beginsels volg, kan jy ook binne jou inkomste lewe. As jy dit doen, kan jy baie van die probleme en die sorge vryspring wat miljoene vandag ondervind.