Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders

Josia het gekies om te doen wat reg is

Josia het gekies om te doen wat reg is

DINK jy dat dit moeilik is om te doen wat reg is? a— As jou antwoord ja is, sal die meeste mense met jou saamstem. Selfs grootmense vind dit moeilik om te doen wat hulle weet reg is. Kom ons kyk waarom dit veral vir Josia moeilik was om die regte keuses te maak. Weet jy wie hy was?—

Josia was die seun van Amon, ’n koning van Juda, wat maar net 16 jaar oud was toe Josia gebore is. Amon was, nes sy pa, koning Manasse, baie sleg. Om die waarheid te sê, Manasse was jare lank ’n baie goddelose heerser. Maar toe is hy deur die Assiriërs gevange geneem en ver weg na Babilon gevat. Terwyl Manasse in die gevangenis was, het hy Jehovah om vergifnis gesmeek, en Jehovah het hom vergewe.

Toe Manasse vrygelaat is, het hy na Jerusalem teruggegaan en weer daar as koning begin heers. Hy het die slegte dinge wat hy gedoen het, dadelik reggestel, en die mense gehelp om Jehovah te dien. Dit moes hom baie hartseer gemaak het toe sy seun Amon nie sy goeie voorbeeld volg nie. Dit was min of meer in hierdie tyd dat Josia gebore is. Die Bybel sê nie hoeveel Manasse met sy kleinseun Josia te doen gehad het nie. Maar dink jy dat Manasse hom dalk probeer help het om Jehovah te dien?—

Toe Josia net ses jaar oud was, het Manasse gesterf, en Josia se pa, Amon, het koning geword. Amon het net twee jaar lank regeer voordat sy eie knegte hom doodgemaak het. Josia was dus agt jaar oud toe hy koning van Juda geword het (2 Kronieke, hoofstuk 33). Wat dink jy het daarna gebeur? Het Josia gekies om die slegte voorbeeld van sy pa, Amon, te volg, of die goeie voorbeeld van sy berouvolle oupa, Manasse?—

Al was Josia jonk, het hy geweet dat hy Jehovah wil dien. Hy het dus geluister na mense wat lief was vir Jehovah, eerder as na sy pa se vriende. Josia was maar net agt jaar oud, maar hy het geweet dat dit reg is om te luister na mense wat lief is vir God (2 Kronieke 34:1, 2). Wil jy graag meer weet omtrent die mense wat vir Josia raad gegee het en vir hom rolmodelle was?—

Josia is deur die profeet Sefanja beïnvloed. Hy was ’n familielid van Josia, want hy was moontlik ’n afstammeling van Manasse se pa, die goeie koning Hiskia. Gedurende die vroeë deel van Josia se heerskappy het Sefanja die Bybelboek geskryf wat sy naam dra. Sefanja het gewaarsku dat slegte dinge sou gebeur met dié wat nie kies om te doen wat reg is nie, en dit is duidelik dat Josia op daardie waarskuwings ag geslaan het.

Dan was daar Jeremia, van wie jy dalk al gehoor het. Jeremia en Josia was albei jong mans en het nie ver van mekaar af grootgeword nie. Jehovah het Jeremia geïnspireer om die Bybelboek te skryf wat sy naam dra. Toe Josia in ’n geveg gesterf het, het Jeremia ’n spesiale lied wat ’n klaaglied genoem word, geskryf om te toon hoe hartseer hy was (2 Kronieke 35:25). Ons kan net dink hoe hulle mekaar aangemoedig het om getrou aan Jehovah te bly!

Wat dink jy kan jy uit Josia se voorbeeld leer?— Dalk het jy, soos Josia, nie ’n pa wat Jehovah dien nie; is daar dan iemand anders wat jou kan help om van God te leer? Dalk kan jou ma, ’n oupa, ’n ouma of ’n ander familielid jou help. Of dalk kan iemand anders wat Jehovah dien, met jou ma se toestemming die Bybel met jou studeer.

Ja, al was Josia maar ’n kind, was hy oud genoeg om te weet dat hy vriende moet maak met mense wat Jehovah dien. Mag jy dieselfde doen en kies om te doen wat reg is!

a As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.