Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat steek in ’n naam?

Wat steek in ’n naam?

Wat steek in ’n naam?

’n Etiopiese vrou skenk die lewe aan ’n babaseuntjie. Maar haar vreugde verander in hartseer wanneer sy sien dat die kind roerloos lê. Wanneer die ouma die slap liggaampie optel om hom te gaan was, begin die seuntjie skielik beweeg en asemhaal en huil! Die baba se pa se naam beteken “Wonderwerk”, en daarom kombineer die ouers hierdie naam met ’n ander Amhariese woord en noem die seuntjie ’n Wonderwerk is Verrig.

In Burundi vlug ’n jong man vir soldate wat hom wil doodmaak. Terwyl die man in ’n veld wegkruip, doen hy ’n gelofte dat hy, as God hom red, sy eersgeborene Manirakiza sal noem, wat “God is die Redder” beteken. Vyf jaar later is die man dankbaar dat hy lewe en gee hy sy eersgeborene daardie naam.

DIT is dalk vir party mense iets ongewoons om kinders name met ’n spesifieke betekenis te gee, maar hierdie gebruik het in antieke tye ontstaan. Trouens, die Bybel bevat honderde van hierdie name. Jou Bybellees sal leersamer wees as jy die betekenis van verskillende mense se name verstaan. Beskou net ’n paar voorbeelde.

Betekenisvolle name in die Hebreeuse Geskrifte

Een van die eerste name wat in die Bybel opgeteken is, is dié van Set, wat “Aangestel” beteken. Set se moeder, Eva, het verduidelik waarom sy daardie naam gekies het en gesê: “God het aan my ’n ander saad in die plek van Abel gegee [Hebreeus, “aangestel”], omdat Kain hom doodgemaak het” (Genesis 4:25). Set se nakomeling Lameg het sy seun Noag genoem, wat “Rus” of “Vertroosting” beteken. Lameg het gesê dat hy sy seun hierdie naam gegee het, want “hý sal vir ons vertroosting bring van ons werk en van die pyn van ons hande as gevolg van die grond wat Jehovah vervloek het”.—Genesis 5:29.

God self het die name van sekere volwassenes vir profetiese doeleindes verander. Hy het byvoorbeeld Abram se naam, wat “Vader is verhewe” beteken, na Abraham verander, wat “Vader van ’n menigte” beteken. In ooreenstemming met sy naam hét Abraham die vader van baie nasies geword (Genesis 17:5, 6). Dink ook aan Abraham se vrou, Sarai, wat moontlik “Twisgierig” beteken. Hoe bly moes sy tog gewees het toe God haar naam na “Sara” verander het, wat “Prinses” beteken en sinspeel op die feit dat sy ’n voorouer van konings sou word.—Genesis 17:15, 16.

God het ook self die name van party kinders gekies. Hy het byvoorbeeld vir Abraham en Sara gesê om hulle seun Isak te noem, wat “Lag” beteken. Daardie naam sou hierdie getroue egpaar gedurig herinner aan hulle reaksie toe hulle gehoor het dat hulle op hulle oudag ’n seun sou hê. Toe Isak grootgeword het en ’n getroue kneg van God was, het sy naam Abraham en Sara ongetwyfeld nog laat glimlag wanneer hulle tyd saam met hierdie geliefde seun deurgebring het.—Genesis 17:17, 19; 18:12, 15; 21:6.

Isak se skoondogter Ragel het haar jongste seun sy naam om ’n heeltemal ander rede gegee. Op haar sterfbed het Ragel die kind Ben-Oni genoem, wat “Seun van my rou” beteken. Haar bedroefde man, Jakob, het die naam effens verander na Benjamin, wat “Seun van die regterhand” beteken. Hierdie naam het nie net ’n posisie van guns aangedui nie, maar ook van ondersteuning.—Genesis 35:16-19; 44:20.

Name is soms in ooreenstemming met die fisiese eienskappe van die persoon gegee of aangeneem. Isak en Rebekka het byvoorbeeld ’n seun gehad wat met rooi hare so dik soos ’n wolkledingstuk gebore is, en gevolglik het hulle hom Esau genoem. Waarom? Dié naam beteken “Harig” in Hebreeus (Genesis 25:25). Soos in die boek Rut genoem word, het Naomi twee seuns gehad. Een is Maglon genoem, wat “Sieklik, Invalide” beteken, en die ander Giljon, wat “Swakheid” beteken. Daar word nie gesê of hierdie name by geboorte of later gegee is nie, maar dit was blykbaar gepas, aangesien hierdie twee jong mans vroeg gesterf het.—Rut 1:5.

Nog ’n algemene gebruik was om name te verander of aan te pas. Toe Naomi ná die dood van haar man en seuns behoeftig na Betlehem teruggekeer het, wou sy nie meer Naomi, wat “My aangenaamheid” beteken, genoem word nie. Sy het eerder volgehou: “Moet my nie Naomi noem nie. Noem my Mara [wat “Bitter” beteken], want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak.”—Rut 1:20, 21.

’n Ander gebruik was om ’n kind na ’n betekenisvolle gebeurtenis te vernoem. Die profeet Haggai se naam beteken byvoorbeeld “Gebore op ’n feesdag”. a

Betekenisvolle name in die Christelike tydperk

Jesus se naam is van groot profetiese belang. Voor sy geboorte het sy ouers die goddelike opdrag ontvang: “Jy moet hom Jesus noem”, wat “Jehovah is Redding” beteken. Waarom? “Hy sal sy volk van hulle sondes red”, het die engel gesê wat met Josef gepraat het (Matteus 1:21). Nadat Jesus by sy doop met heilige gees gesalf is, het hy ook die Hebreeuse titel “Messias” gekry. In Grieks word hierdie titel as “Christus” weergegee. Albei woorde beteken “die Gesalfde”.—Matteus 2:4.

Jesus self het beskrywende name vir sommige van sy dissipels gekies. Byvoorbeeld, hy het Simon die Semitiese naam Sefas gegee, wat “Rots” beteken. Sefas is bekender onder die Griekse weergawe van sy naam, wat as “Petrus” vertaal word (Johannes 1:42). Jesus het die ywerige broers Jakobus en Johannes “Boanerges” genoem, wat “Seuns van die Donder” beteken.—Markus 3:16, 17.

Jesus se dissipels het die gebruik voortgesit om gepaste byname te gee. Een voorbeeld is dié van die dissipel Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is, wat “Seun van Vertroosting” beteken. Barnabas het sy naam gestand gedoen en vir baie mense fisiese sowel as geestelike vertroosting gebring.—Handelinge 4:34-37; 9:27; 15:25, 26.

Die belangrikheid van jou naam

Ons het geen beheer oor die naam wat ons by geboorte kry nie. Maar net ons kan bepaal watter reputasie ons opbou (Spreuke 20:11). Vra jou gerus af: ‘Watter naam sou Jesus of die apostels vir my gekies het as hulle die geleentheid gehad het? Wat sou ’n gepaste naam wees om my oorheersende eienskap of my reputasie te beskryf?’

Ons moet ernstig oor hierdie vraag nadink. Waarom? “’n Naam is verkiesliker as oorvloedige rykdom”, het wyse koning Salomo geskryf (Spreuke 22:1). As ons ’n goeie naam, of reputasie, in die gemeenskap opbou, het ons beslis ’n waardevolle bate. Maar nog belangriker, as ons ’n goeie naam by God maak, sal ons ’n blywende skat verkry. Hoe so? God belowe dat hy die name van dié wat hom vrees, in sy “gedenkboek” sal skryf, en hy sal hulle die vooruitsig op die ewige lewe gee.—Maleagi 3:16; Openbaring 3:5; 20:12-15.

[Voetnoot]

a Baie van Jehovah se Getuies in Afrika het name wat verband hou met die temas van Getuie-byeenkomste wat gehou is toe hulle gebore is.

[Lokteks op bladsy 15]

Wat sou ’n gepaste naam wees om my reputasie te beskryf?

[Venster/Prent op bladsy 14]

Wie was Immanuel?

Party name van mense in die Bybel was profeties en beskryf die werk wat die persoon sou doen. Byvoorbeeld, die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf: “Kyk! Die jong vrou sal swanger word, en sy gee geboorte aan ’n seun, en sy sal hom beslis Immanuel noem” (Jesaja 7:14). Hierdie naam beteken “Met ons is God”. Sommige Bybelkommentators het probeer om die eerste vervulling van hierdie profesie met een van die Israelitiese konings of een van Jesaja se seuns te verbind. Maar die Evangelieskrywer Matteus het getoon dat Jesaja se profesie heeltemal vervul is in Jesus.—Matteus 1:22, 23.

Party het al beweer dat die Bybel leer dat Jesus God is, omdat dit die naam Immanuel op Jesus toepas. Maar volgens hierdie redenasie was die jong man Elihu, wat Job bemoedig en reggehelp het, ook God. Waarom? Sy naam beteken “My God is hy”.

Jesus het nooit gesê dat hy God is nie (Johannes 14:28; Filippense 2:5, 6). Maar hy hét sy Vader se persoonlikheid volmaak weerspieël, en hy het al God se beloftes aangaande die Messias vervul (Johannes 14:9; 2 Korintiërs 1:20). Die naam Immanuel is ’n goeie beskrywing van Jesus se rol as die Messiaanse Saad, ’n afstammeling van Dawid, die een wat bewys dat God met diegene is wat Hom aanbid.

[Prent]

IMMANUEL “Met ons is God”

[Venster/Prent op bladsy 15]

Die belangrikste naam

Die persoonlike naam van God kom sowat 7 000 keer in die Bybel voor. Hierdie naam, soos voorgestel deur die vier Hebreeuse karakters יהוה, word in Afrikaans meestal as “Jehova(h)” weergegee. Wat is die betekenis van hierdie naam? Toe Moses oor God se naam gevra het, het Jehovah geantwoord: “Ek sal word wat ek ook al wil” (Eksodus 3:14, The Emphasised Bible, deur J. B. Rotherham). God se persoonlike naam is dus ’n waarborg dat hy sal word wat ook al nodig is om sy voornemens te vervul (Jesaja 55:8-11). Wanneer God ’n belofte maak, kan ons met volle vertroue ons lewe daarom bou. Waarom? Omdat sy naam Jehovah is.

[Prent op bladsy 13]

ABRAHAM “Vader van ’n menigte”

[Prent op bladsy 13]

SARA “Prinses”