Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Foto van ’n deel van die boek Jesaja uit die Dooie See-rolle, en onder dit is ’n moderne vertaling van Jesaja in Arabies. Die boodskap in God se Woord het nie verander nie

Het God se geskrewe Woord verander?

Het God se geskrewe Woord verander?

Baie mense wonder of God se Woord verander het. Die profeet Jesaja het gesê dat God se woord ‘vir ewig sal bly’ (Jesaja 40:8). Hoe kan ons seker wees dat God se beloftes in sy Woord nog steeds akkuraat is?

God het die mag om sy Woord te bewaar en om te keer dat dit verander word. In die ou tyd is kopieë daarvan met die hand oorgeskryf. Die mense wat dit oorgeskryf het, het elke letter van die heilige teks getel om seker te maak dat niks bygevoeg, verander of weggelaat is nie. Maar mense is onvolmaak, en daarom het daar klein foutjies deurgeglip.

HOE KAN ONS SEKER WEES DAT DIE HEILIGE SKRIF VAN VANDAG GOD SE OORSPRONKLIKE BOODSKAP BEVAT?

Daar is duisende kopieë van ou manuskripte van die Heilige Skrif. As een kopie net ’n bietjie anders is, kan dit met ander kopieë vergelyk word om uit te vind of daar ’n fout is. – Om meer uit te vind, lees die artikel “Is die Bybel verander?” op jw.org.

Kyk byvoorbeeld na die ou dokumente wat die Dooie See-rolle genoem word. Dit is deur Bedoeïene (Arabiere wat deur die woestyn trek) in grotte in 1947 naby die Dooie See ontdek. Hierdie ou geskrifte bevat dele van die Heilige Skrif wat meer as twee duisend jaar oud is. Kenners het hierdie ou manuskripte met die Heilige Skrif wat ons vandag het, vergelyk. Wat het hulle gevind?

Geleerdes het gevind dat wat vandag in God se Woord staan, dieselfde is as die oorspronklike geskrifte. * As ’n mens ouer manuskripte deeglik ondersoek, bevestig dit dat wat ons in die Heilige Skrif lees, God se oorspronklike boodskap bevat. Ons kan seker wees dat God doodseker gemaak het dat sy Heilige Geskrifte wat ons vandag het, akkuraat is.

Daarom kan ons God se Woord lees en heeltemal vertrou dat dit akkuraat is. Met dit in gedagte, kom ons kyk volgende na wat ons oor God en sy profete kan leer.

^ par. 7 The Complete Dead Sea Scrolls in English, deur Geza Vermes, bladsy 16.