Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die dood: ’n hartseer werklikheid

Die dood: ’n hartseer werklikheid

STEL jou voor jy kyk ’n fliek oor ’n beroemde musikant van wie jy baie hou. Dit begin met tonele van haar kinderjare waar sy musieklesse neem en aanhoudend oefen. Dan sien jy hoe sy rondreis en by verskillende konserte optree en ’n internasionale ster word. Daarna sien jy hoe sy ouer word, en dan eindig die fliek met haar dood.

So ’n fliek is ’n weerspieëling van die werklikheid. Maak nie saak of dit ’n musikant, wetenskaplike, atleet of enige ander beroemde persoon is nie, die storie sal basies dieselfde wees. Die persoon het miskien baie bereik, maar ’n mens wonder dalk hoeveel meer hy of sy kon bereik het as die ouderdom en die dood nie bestaan het nie.

Die dood is ’n hartseer werklikheid wat op ons almal wag (Prediker 9:5). Maak nie saak hoe hard ons probeer nie, niemand kan die nare gevolge van die ouderdom en die dood vryspring nie. En ons lewe kan dalk kortgeknip word deur ’n ongeluk of ’n ernstige siekte. Soos die Bybel sê, is ons soos die oggendmis “wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn”. – Jakobus 4:14.

Party mense voel dat die lewe onseker en doelloos is, en daarom redeneer hulle: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” (1 Korintiërs 15:32). Maar jy sal seker saamstem dat mense wat so redeneer, geen hoop het nie. Op die een of ander stadium in die lewe – miskien wanneer jy ’n baie moeilike tyd deurmaak – sal jy dalk wonder: ‘Is hierdie lewe al wat daar is?’ Waar kan jy die antwoord kry?

Baie mense probeer om ’n antwoord te vind in die wetenskap. Vooruitgang in die wetenskap het dit vir mense moontlik gemaak om langer te kan lewe. En party wetenskaplikes doen navorsing om te sien of hulle mense selfs langer kan laat lewe. Of wetenskaplikes dit nou regkry of nie, ons wonder dalk nog steeds: Hoekom word ons oud en sterf ons? Is daar hoop dat ons vyand, die dood, oorwin sal word? Die volgende artikels sal hierdie onderwerpe bespreek en die vraag beantwoord: Is hierdie lewe al wat daar is?