Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Slawehandel tussen Afrika en die Amerikas was ’n winsgewende besigheid

Bevryding uit slawerny—Destyds en vandag

Bevryding uit slawerny—Destyds en vandag

Blessing * het Europa toe gegaan omdat sy belowe is dat sy ’n werk as ’n haarkapper sou kry. Maar nadat sy tien dae lank aanhoudend geslaan is en gedreig is dat haar familie aangerand sou word, is sy gedwing om as ’n prostituut te werk.

’n Uitbeelding van slawe in eertydse Egipte

Blessing moes tussen R3 000 en R4 500 per nag verdien sodat sy ’n skuldlas van meer as R610 000 kon afbetaal wat deur haar eienares vasgestel is. Blessing verduidelik: “Ek het dikwels daaraan gedink om te ontsnap, maar ek was bang vir wat hulle aan my familie sou doen. Ek was vasgevang.” Haar verhaal is soortgelyk aan dié van omtrent vier miljoen mense wat as slawe in die internasionale seksbedryf vasgevang is.

Omtrent 4 000 jaar gelede is ’n tiener met die naam Josef deur sy broers verkoop. Later het hy ’n slaaf in ’n vooraanstaande huishouding in Egipte geword. Anders as Blessing is Josef egter nie van die begin af deur sy eienaar mishandel nie. Maar toe hy die seksuele toenadering van sy heer se vrou verwerp het, is hy valslik daarvan beskuldig dat hy haar probeer verkrag het. Hy is in die tronk gegooi en met kettings vasgemaak.—Genesis 39:1-20; Psalm 105:17, 18.

Josef was ’n slaaf van die ou tyd; Blessing is ’n slaaf van die 21ste eeu. Maar hulle al twee was slagoffers van die eeue oue gebruik van mensehandel, ’n bedryf waarin mense soos goedere behandel word en waarin niks belangriker is as geldelike gewin nie.

OORLOG MAAK SLAWERNY ’N REUSEBEDRYF

Oorlog was nog altyd die maklikste manier vir nasies om slawe te bekom. Na bewering het die Egiptiese koning Toetmosis III ná ’n krygstog in Kanaän 90 000 gevangenes saam met hom teruggeneem. Die Egiptenare het hulle as slawe in die myne laat werk, en hulle moes tempels bou en kanale grawe.

Onder die Romeinse Ryk het oorloë ook ’n oorvloed slawe tot gevolg gehad, en die aanvraag na slawe het soms tot oorlog gelei. Daar word geskat dat slawe teen die eerste eeu ongeveer die helfte van die bevolking van Rome uitgemaak het. Baie Egiptiese en Romeinse slawe is uitgebuit en wreed behandel. Daar was oor die algemeen verwag dat slawe in Romeinse myne net sowat 30 jaar sou lewe.

Met verloop van tyd is slawe glad nie beter behandel nie. Tussen die 16de eeu en die 19de eeu was die slawehandel tussen Afrika en die Amerikas een van die winsgewendste ondernemings in die wêreld. Volgens ’n UNESCO-verslag ‘is daar na raming tussen 25 miljoen en 30 miljoen mans, vrouens en kinders ontvoer en verkoop’. Honderdduisende van hulle is glo dood terwyl hulle oor die Atlantiese Oseaan vervoer is. Olaudah Equiano, ’n slaaf wat oorleef het, het gesê: “Die geskree van die vrouens en die gekreun van die sterwendes het ’n afgryslike toneel geskep wat ’n mens jou skaars kan voorstel.”

Ongelukkig is slawerny nie net ’n droewige gebeurtenis van die geskiedenis nie. Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie werk omtrent 21 miljoen mans, vrouens en kinders nog steeds as slawe, in gevangenskap en vir min of geen betaling nie. Hedendaagse slawe werk in myne, steenfabrieke, bordele, privaat huise en in fabrieke waar hulle vir baie min geld en in haglike omstandighede goedere produseer. Hoewel dit onwettig is, neem hierdie soort slawerny blykbaar nog steeds toe.

Miljoene werk nog steeds as slawe

BEVRYDING UIT SLAWERNY

Wrede behandeling het daartoe gelei dat baie slawe vir vryheid geveg het. In die eerste eeu VHJ het die gladiator Spartakus en omtrent 100 000 slawe teen Rome in opstand gekom, maar hulle was onsuksesvol. In die 18de eeu het slawe op die Karibiese eiland, Hispaniola, teen hulle eienaars in opstand gekom. Die verskriklike mishandeling wat slawe op die suikerplantasies verduur het, het ’n burgeroorlog veroorsaak wat 13 jaar lank geduur het en wat uiteindelik in 1804 tot die stigting van die onafhanklike nasie van Haïti gelei het.

Maar die Israeliete se uittog uit Egipte is sekerlik die suksesvolste bevryding uit slawerny in die geskiedenis. Omtrent drie miljoen mense—’n hele nasie—is uit slawerny in Egipte bevry. Hulle het beslis hulle vryheid verdien. Die Bybel beskryf hulle lewe in Egipte as een waarin hulle “onder tirannie as slawe gebruik” is (Eksodus 1:11-14). Een Farao het selfs babas laat vermoor in ’n poging om te keer dat die Israeliete meer word.—Eksodus 1:8-22.

Die Israeliete se bevryding van hulle onregverdige behandeling in Egipte was uniek omdat dit God self was wat hulle bevry het. God het vir Moses gesê: “Ek weet goed watter pyn hulle ly. En ek daal neer om hulle . . . te verlos” (Eksodus 3:7, 8). Tot vandag toe vier Jode oraloor elke jaar die Pasga om daardie gebeurtenis te herdenk.—Eksodus 12:14.

DIE EINDE VAN SLAWERNY

“By Jehovah ons God is geen onregverdigheid” nie, sê die Bybel, en dit verseker ons dat hy nie verander het nie (2 Kronieke 19:7; Maleagi 3:6). God het Jesus gestuur “om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig . . . om die verbryseldes in vryheid weg te stuur” (Lukas 4:18). Het dit vryheid vir elke letterlike slaaf beteken? Klaarblyklik nie. Jesus is gestuur om mense te bevry van gevangenskap aan sonde en die dood. Hy het later gesê: “Die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Die waarheid wat Jesus geleer het, bevry mense selfs vandag op baie maniere.—Sien die venster “Bevryding van ’n ander soort slawerny”.

God het in werklikheid vir Josef en Blessing op verskillende maniere uit slawerny bevry. Jy kan Josef se buitengewone verslag in hoofstuk 39 tot 41 van die Bybelboek Genesis lees. Blessing se soeke na vryheid is net so merkwaardig.

Nadat Blessing uit een Europese land verban is, het sy Spanje toe gegaan. Daar het sy Jehovah se Getuies ontmoet en die Bybel saam met hulle begin studeer. Sy was vasbeslote om haar lewe reg te ruk. Sy het ’n gewone werk gekry en haar vorige eienares oortuig om die bedrag te verminder wat sy elke maand moes terugbetaal. Eendag het Blessing se eienares haar gebel. Sy het gesê dat sy Blessing se skuld wou afskryf en haar wou vra om haar te vergewe. Waarom wou sy dit doen? Sy het ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer! “Die waarheid bevry jou op wonderlike maniere”, sê Blessing.

Jehovah God was hartseer oor die wrede manier waarop Israelitiese slawe in Egipte behandel is; hy voel beslis dieselfde oor soortgelyke onregte van vandag. Ja, ’n groot verandering in die mensegemeenskap is nodig om ’n einde aan alle slawerny te maak. Maar God belowe om juis hierdie verandering te maak. “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”—2 Petrus 3:13

^ par. 2 Naam is verander.