Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 1

Egipte in Bybelgeskiedenis

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 1

Die Bybel is oor ’n tydperk van sowat 1 600 jaar geskryf. Die geskiedenis en profesieë daarin hou verband met sewe wêreldmoondhede: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome en Anglo-Amerika. Elkeen van hierdie moondhede sal in ’n reeks van sewe artikels bespreek word. Waarom? Om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die slegte heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.

EGIPTE, wat beroemd is vir sy piramides en die Nylrivier, was die eerste wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis. Onder sy beskerming het die nasie Israel ontstaan. Moses, wat die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf het, is in Egipte gebore en opgevoed. Bevestig sekulêre geskiedenis en argeologie wat Moses omtrent hierdie eertydse land geskryf het? Kyk na ’n paar voorbeelde.

Betroubare geskiedenis

Titels en terme.

Die akkuraatheid van ’n geskiedenisverslag word dikwels gesien in die besonderhede daarin—die gebruike, etiket, name en titels van amptenare, ensovoorts. Hoe vaar die boeke Genesis en Eksodus, die eerste twee boeke van die Bybel, in hierdie opsig? Aangaande die Genesisverslag oor Josef, ’n seun van die aartsvader Jakob, sowel as die Bybelboek Eksodus sê J. Garrow Duncan in sy boek New Light on Hebrew Origins: “[Die Bybelskrywer] was baie goed vertroud met die Egiptiese taal, gebruike, opvattings, hoflewe en die etiket en amptenaarswêreld.” Hy voeg by: “[Die skrywer] gebruik die regte titel wat in daardie tydperk algemeen was en presies soos dit gebruik is. . . . Trouens, die oortuigendste bewys van die skrywers se deeglike kennis van Egiptiese sake in die Ou Testament en van hulle betroubaarheid is die gebruik van die woord Farao in verskillende tydperke.” Duncan sê ook: “Wanneer [die skrywer] sy karakters voor Farao laat verskyn, laat hy hulle die regte hofetiket volg en die regte taal gebruik.”

Songedroogde stene wat met strooi gemaak word, word vandag nog in Egipte gebruik

Steenmakery.

Toe die Israeliete slawe in Egipte was, het hulle stene gemaak uit klei wat gemeng is met strooi, wat as bindmateriaal gebruik is (Eksodus 1:14; 5:6-18). * ’n Paar jaar gelede het die boek Ancient Egyptian Materials and Industries gesê: “Daar is min plekke waar [stene] op so ’n groot skaal [gemaak] is as in Egipte, waar songedroogde stene nog steeds die kenmerkende boumateriaal van die land is, soos dit nog altyd was.” Die boek meld ook “die Egiptiese gebruik om strooi in steenmakery te gebruik” en bevestig sodoende hierdie bykomende besonderheid wat in die Bybel opgeteken is.

Deel van ’n Egiptiese skeerstelletjie—’n skeermes en ’n spieël

 Skeergewoontes.

In die ou tyd het Hebreeuse mans baarde gehad. Tog sê die Bybel vir ons dat Josef geskeer het voordat hy voor Farao verskyn het (Genesis 41:14). Waarom het hy geskeer? Om te voldoen aan die gebruike en etiket van die Egiptenaars, wat gesighare as ’n teken van onreinheid beskou het. “[Die Egiptenaars] was trots daarop om skoongeskeer te wees”, sê die boek Everyday Life in Ancient Egypt. Trouens, kosmetiese stelletjies wat bestaan uit skeermesse, haartangetjies en spieëls, tesame met hulle houers, is al in grafte gevind. Dit is duidelik dat Moses ’n noukeurige kroniekskrywer was. Dieselfde kan gesê word van ander Bybelskrywers wat gebeure in verband met eertydse Egipte opgeteken het.

Handelsbedrywighede.

Jeremia, wat die twee boeke met die naam Konings geskryf het, het spesifieke besonderhede verstrek oor koning Salomo se handel in perde en strydwaens met die Egiptenaars en die Hetiete. ’n Strydwa is verkoop vir “seshonderd silwerstukke, en ’n perd vir honderd-en-vyftig”, of ’n kwart van die prys van ’n strydwa, sê die Bybel.—1 Konings 10:29.

Volgens die boek Archaeology and the Religion of Israel bevestig die Griekse geskiedskrywer Herodotus sowel as argeologiese opgrawings dat daar gedurende die heerskappy van Salomo ’n lewendige handel in perde en strydwaens was. Trouens, “’n standaardruilooreenkoms van vier . . . perde vir een Egiptiese strydwa is vasgestel”, sê die boek, wat ooreenstem met die prys wat in die Bybel genoem word.

Oorlogvoering.

Jeremia en Esra meld ook dat Juda deur farao Sisak binnegeval is en sê spesifiek dat dit plaasgevind het “in die vyfde jaar van [die Judese] koning Rehabeam”, of 993 VHJ (1 Konings 14:25-28; 2 Kronieke 12:1-12). Die enigste verslag van daardie inval kon baie jare lank net in die Bybel gevind word. Toe is ’n reliëf op die muur van ’n Egiptiese tempel by Karnak (eertydse Tebe) ontdek.

Die reliëf beeld Sisak uit waar hy voor die god Amon staan, met sy arm gelig om gevangenes te slaan. Die name van oorwonne Israelitiese stede, waarvan baie met Bybelplekke vereenselwig is, word ook genoem. Daarbenewens praat die dokument van “Die veld van Abram”—die vroegste verwysing na die Bybelse aartsvader Abraham in Egiptiese verslae.—Genesis 25:7-10.

 Dit is dus duidelik dat Bybelskrywers nie verhale uit hulle duim gesuig het nie. Omdat hulle besef het dat hulle teenoor God aanspreeklik is, het hulle die waarheid neergeskryf, selfs wanneer dit nie vleiend was nie—soos in die geval van Sisak se oorwinnings in Juda. Sulke eerlikheid vorm ’n skerp teenstelling met die aangedikte, oordrewe verslae van die eertydse Egiptiese skrywers, wat geweier het om enigiets op te teken wat hulle heersers of volk in ’n slegte lig sou stel.

Betroubare profesie

Slegs Jehovah God, die Outeur van die Bybel, kan die toekoms akkuraat voorspel. Kyk byvoorbeeld na wat hy Jeremia geïnspireer het om te voorspel aangaande twee Egiptiese stede—Memfis en Tebe. Memfis, of Nof, was eens ’n belangrike handel-, politieke en godsdienssentrum. Tog het God gesê: “Nof sal ’n blote voorwerp van verbasing word en sal aan die brand gesteek word, sodat dit sonder inwoner is” (Jeremia 46:19). En dit is wat gebeur het. Die boek In the Steps of Moses the Lawgiver sê dat “die reusagtige ruïnes van Memfis” deur Arabiese veroweraars geplunder is, wat dit as ’n steengroef gebruik het. Dit voeg by dat daar vandag “binne die omtrek van die eertydse stad nie ’n klip bokant die swart grond uitsteek nie”.

Hierdie reusestandbeeld wat naby Memfis gevind is, het eens op ’n tyd omtrent 12 meter hoog gestaan

Tebe, wat vroeër No-Amon of net No genoem is, het tesame met sy magtelose gode ’n soortgelyke lot gehad. Aangaande hierdie voormalige hoofstad van Egipte en hoofsentrum van die aanbidding van die god Amon het Jehovah gesê: “Kyk, ek rig my aandag op Amon . . . en op Farao en op Egipte en op sy gode . . . En ek sal hulle in die hand gee . . . van Nebukadresar, die koning van Babilon” (Jeremia 46:25, 26). Soos voorspel is, het die Babiloniese koning Egipte en sy vername stad No-Amon verower. Nadat die Persiese heerser Kambuses II die stad in 525 VHJ aangeval het, het dit stadig maar seker agteruitgegaan, en dit is uiteindelik heeltemal deur die Romeine verwoes. Ja, akkurate profesie maak die Bybel uniek en gee ons vertroue in wat dit sê oor ons toekoms.

’n Betroubare hoop

Die heel eerste profesie in die Bybel is deur Moses opgeteken toe Egipte die wêreldmoondheid was. * Die profesie, wat in Genesis 3:15 gevind kan word, sê dat God ’n “saad”, of nakomeling, sou voortbring wat Satan en sy “saad”—dié wat Satan se goddelose weë aanneem—sal verbrysel (Johannes 8:44; 1 Johannes 3:8). Die primêre deel van die “saad” wat  God sou voortbring, was die Messias, Jesus Christus.—Lukas 2:9-14.

Christus se heerskappy sal strek oor die hele aarde, en hy sal alle goddeloosheid en onderdrukkende menseregerings daarvan verwyder. Die mens sal nie meer ‘oor die mens heers tot sy nadeel’ nie (Prediker 8:9). Wat meer is, soos Josua van ouds, wat die Israeliete in die Beloofde Land ingelei het, sal Jesus “’n groot menigte” godvresende mense veilig in ’n veel groter “Beloofde Land” inlei—’n gereinigde aarde wat in ’n aardwye paradys omskep sal word.—Openbaring 7:9, 10, 14, 17; Lukas 23:43.

Hierdie kosbare hoop herinner ons aan nog ’n profesie wat gedurende die tyd van eertydse Egipte opgeteken is. Hierdie profesie word in Job 33:24, 25 gevind en sê dat God mense selfs uit “die kuil”, of die graf, sal verlos deur middel van ’n opstanding. Ja, benewens dié wat die komende vernietiging van die goddeloses sal oorleef, sal etlike miljoene wat reeds gesterf het, opgewek word met die vooruitsig om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (Handelinge 24:15). “Die tent van God is by die mensdom”, Openbaring 21:3, 4. “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.”

Betroubare geskiedenis en profesie—hierdie tema sal in die volgende artikel van dié reeks voortgesit word, wat die aandag sal vestig op eertydse Assirië, die wêreldmoondheid wat op Egipte gevolg het.

^ par. 7 As jy nie ’n Bybel het nie, maar wel toegang tot die Internet het, kan jy die tekste elektronies naslaan op www.watchtower.org. Daar sal jy die venster “Read the Bible Online” sien.

^ par. 18 Die profesie in Genesis 3:15 is in die tuin van Eden deur God uitgespreek en is later deur Moses opgeteken.