Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die waarheid oor God en Jesus

Die waarheid oor God en Jesus

Al aanbid mense baie gode, is daar net een ware God (Johannes 17:3). Hy is die Allerhoogste en die Een wat alles geskep het. Hy is die enigste een wat ons aanbidding verdien. – Daniël 7:18; Openbaring 4:11.

Wie is God?

Hoeveel keer verskyn God se naam in die oorspronklike teks van die Bybel? ONGEVEER 7 000 KEER

JEHOVAH is God se naam

HERE, GOD, VADER is party van Jehovah se titels

Wat is God se naam? God sê self: “Ek is Jehovah. Dit is my naam” (Jesaja 42:8). God se persoonlike naam verskyn ongeveer 7 000 keer in die Bybel. Maar baie Bybelvertalings vervang hierdie naam verkeerdelik met ’n titel, soos “Here”. God wil hê dat jy sy vriend moet wees, en daarom moedig hy jou aan om ‘sy naam aan te roep’. – Psalm 105:1.

Jehovah se titels. In die Bybel het Jehovah verskillende titels soos “God”, “Almagtige”, “Skepper”, “Vader”, “Here” en “Soewerein”. En daar is baie voorbeelde in die Bybel van mense wat respekvolle titels sowel as God se persoonlike naam, Jehovah, gebruik het wanneer hulle gebid het. – Daniël 9:4.

God se vorm. God is ’n onsigbare gees (Johannes 4:24). Die Bybel sê: “Geen mens het God al ooit gesien nie” (Johannes 1:18). Die Bybel sê ook hoe God oor dinge voel. Mense kan hom hartseer maak of hulle kan hom gelukkig maak. – Spreuke 11:20; Psalm 78:40, 41.

God se wonderlike eienskappe. God aanvaar mense van alle nasies en agtergronde (Handelinge 10:34, 35). Hy is ook “’n God wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is” (Eksodus 34:6, 7). Maar vier van God se eienskappe staan veral uit.

Krag. Omdat hy “God die Almagtige” is, het hy onbeperkte krag om te doen wat hy ook al belowe. – Genesis 17:1.

Wysheid. God is wyser as enige iemand anders. Dit is wat die Bybel bedoel wanneer dit sê dat hy “alleen wys is”. – Romeine 16:27.

Geregtigheid. God doen altyd wat reg is. Alles wat hy doen, is “volmaak”, en hy is nooit onregverdig nie. – Deuteronomium 32:4.

Liefde. Die Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). God betoon nie net liefde nie – hy is die perfekte voorbeeld van liefde. Sy groot liefde beïnvloed alles wat hy doen, en dit help ons op baie maniere.

God se vriendskap met mense. God is ons liefdevolle hemelse Vader (Matteus 6:9). As ons geloof in hom stel, kan ons sy vriende wees (Psalm 25:14). Om die waarheid te sê, God nooi jou om deur middel van gebed nader aan hom te kom en om “al [jou] bekommernisse . . . aan God [oor te gee], want hy gee om vir [jou]”. – 1 Petrus 5:7; Jakobus 4:8.

Wat is die verskil tussen God en Jesus?

Jesus is nie God nie. Jesus is uniek – hy is die enigste persoon wat direk deur God geskep is. Dit is hoekom die Bybel hom God se Seun noem (Johannes 1:14). Nadat Jesus geskep is, het Jehovah sy eersgeborene as “’n meesterwerker” gebruik om alles en almal te skep. – Spreuke 8:30, 31; Kolossense 1:15, 16.

Jesus Christus het nooit gesê dat hy God is nie. Hy het verduidelik: “Ek is ’n verteenwoordiger wat van [God] af kom, en hy het my gestuur” (Johannes 7:29). Toe Jesus met een van sy dissipels gepraat het, het hy Jehovah “my Vader en julle Vader” en “my God en julle God” genoem (Johannes 20:17). Nadat Jesus gesterf het, het Jehovah hom tot lewe in die hemel opgewek en hom groot gesag aan Sy regterhand gegee. – Matteus 28:18; Handelinge 2:32, 33.

Jesus Christus kan jou help om nader aan God te kom

Jesus het aarde toe gekom om ons oor sy Vader te leer. Jehovah self het oor Jesus gesê: “Dit is my Seun, die geliefde. Luister na hom” (Markus 9:7). Jesus ken God beter as enige iemand anders. Hy het gesê: “Niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar.” – Lukas 10:22.

Jesus weerspieël God se eienskappe perfek. Jesus het sy Vader se eienskappe so goed nagevolg dat hy kon sê: “Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Jesus het mense na God toe getrek deur sy Vader se liefde in sy woorde en dade te weerspieël. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Hy het ook gesê: “Ware aanbidders [sal] die Vader met gees en waarheid . . . aanbid, want die Vader soek juis sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). Dink net! Jehovah is op soek na mense soos jy wat die waarheid oor hom wil weet.