Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Noorweë

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Noorweë

’N PAAR jaar gelede het Roald en Elsebeth, ’n egpaar wat toe in hulle laat 40’s was, ’n gemaklike lewe gelei in Bergen, Noorweë se tweede grootste stad. Saam met hulle dogter en seun, Isabel en Fabian, het hulle getrou aan gemeentelike bedrywighede deelgeneem. Roald het as ’n ouer man gedien, Elsebeth as ’n pionier, en Isabel en Fabian was voorbeeldige verkondigers.

Maar in September 2009 het die gesin besluit om iets anders te probeer—om ’n week lank in ’n afgesonderde gebied te gaan preek. Roald, Elsebeth en Fabian, wat toe 18 was, het dus gereis na Nordkyn, ’n skiereiland in die provinsie Finmarke, bo die Noordpoolsirkel. Daar, in die dorpie Kjøllefjord, het hulle saam met ander broers en susters gepreek wat ook na hierdie afgesonderde gebied gekom het om die predikingswerk daar te doen. “Aan die begin van daardie week was ek in my skik dat ek dit reggekry het om my sake so te reël dat ek ’n hele week lank aan hierdie spesiale bedrywigheid kon deelneem”, vertel  Roald. Maar later daardie selfde week, het Roald verontrus begin voel. Wat het gebeur?

’N ONVERWAGTE VRAAG

Roald vertel: “Uit die bloute het Mario, ’n pionier wat in Finmarke dien, gevra of ons bereid sou wees om te trek na ’n dorpie met die naam Lakselv om die gemeente van 23 verkondigers daar te gaan help.” Die onverwagte vraag het Roald heeltemal onkant gevang. Hy verduidelik: “Ek en Elsebeth het dit al oorweeg om te gaan dien waar daar hulp nodig is—maar ons wou dit eers later doen, wanneer die kinders die huis verlaat het.” Maar selfs in die paar dae wat Roald in hierdie afgesonderde gebied gepreek het, kon hy sien dat die mense van Jehovah wou leer. Hulle het nou hulp nodig gehad—nie later nie. “Die vraag het my gewete gekwel, en ek kon ’n hele paar nagte nie slaap nie”, vertel hy. Toe het Mario Roald en sy gesin per motor geneem na Lakselv, ongeveer 240 kilometer suid van Kjøllefjord. Hy wou gehad het dat die besoekers self die klein gemeente moet sien.

In Lakselv het Andreas, een van die twee plaaslike ouer manne, die gebied en die Koninkryksaal aan die besoekers gewys. Die gemeente het hulle hartlik verwelkom en het vir Roald en Elsebeth gesê dat hulle baie bly sal wees as hulle gesin soontoe kon trek om met die Koninkrykswerk te help. Met ’n glimlag op sy gesig het Andreas gesê dat hy alreeds ’n onderhoud vir Roald en Fabian gereël het! Wat sou die besoekers doen?

WAT SOU HULLE BESLUIT?

Fabian se eerste reaksie was: “Ek het geen begeerte om hiernatoe te trek nie.” Hy het nie gehou van die idee dat hy sy hegte vriende saam met wie hy in sy tuisgemeente grootgeword het, sal moet verlaat en in ’n klein dorpie sal moet gaan woon nie. Boonop het hy toe nog nie sy opleiding as elektrisiën voltooi nie. Maar toe Isabel (wat destyds 21 was) gevra is wat sy daarvan gedink het om te trek, het sy uitgeroep: “Dis presies wat ek nog altyd wou doen!” Isabel sê verder: “Maar toe ek meer daaroor nagedink het, het ek gewonder: ‘Is dit regtig ’n goeie idee? Sal ek my vriende mis? Moet ek nie eerder bly in my gemeente waar dinge gerieflik en voorspelbaar is nie?’” Hoe het Elsebeth op die uitnodiging gereageer? “Ek het gevoel dat Jehovah ons gesin ’n toewysing gegee het”, het sy gesê, “maar ek het ook gedink aan ons huis wat ons kort tevore opgeknap het en aan al die dinge wat ons oor die afgelope 25 jaar bymekaargemaak het.”

Elsebeth en Isabel

Toe die spesiale week verby was, het Roald en sy gesin na Bergen teruggekeer, maar hulle kon nie ophou dink aan hulle Christenbroers en -susters in Lakselv, sowat 2 100 kilometer daarvandaan nie. “Ek het baie tot Jehovah gebid”, sê Elsebeth, “en ek het kontak behou met die vriende wat ons gemaak het deur foto’s en ondervindinge uit te ruil.” Roald vertel: “Ek het tyd nodig gehad om die idee te aanvaar dat ons gaan trek. Ek moes ook oorweeg of dit prakties uitvoerbaar sou wees. Hoe sou ons ons onderhou? Ek het baie tot Jehovah gebid en met my gesin en ervare broers gepraat.” Fabian sê: “Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het ek besef dat ek nie werklik ’n geldige rede het om nee te sê nie. Ek het dikwels tot Jehovah gebid, en die begeerte om te trek het geleidelik sterker geword.” Wat van Isabel? Om haar voor te berei om te trek, het sy begin pionier. Nadat sy ses maande lank gepionier het, waartydens sy ook baie tyd aan persoonlike Bybelstudie bestee het, het sy gereed gevoel vir die groot verandering.

HULLE DOEN STAPPE OM HULLE DOELWIT TE BEREIK

Namate hulle begeerte gegroei het om te gaan dien waar meer verkondigers nodig is, het die gesin stappe gedoen om hulle doelwit te bereik. Hoewel Roald ’n goed betaalde werk gehad het wat hy werklik geniet het, het hy sy werkgewer gevra of hy ’n jaar lank met verlof afwesig kon wees. Sy werkgewer het hom egter gevra om deeltyds aan te hou werk—hy sou twee weke werk en ses weke af wees. “Ek het baie minder verdien, maar ons het daarmee klaargekom”, sê Roald.

Elsebeth vertel: “My man het my gevra om ’n huis in Lakselv te probeer vind en om ons huis in Bergen te verhuur. Dit het baie tyd en moeite geverg, maar ons het dit reggekry. Ná ’n rukkie het die kinders  deeltydse werk gekry”, voeg sy by, “en hulle help om die uitgawes wat kos en vervoer betref, te dek.”

Isabel sê: “Aangesien die dorp waarheen ons getrek het, klein is, was die grootste uitdaging vir my om werk te kry om my in die pionierdiens te onderhou. Soms wou ek moed opgee.” Maar deur enige deeltydse werkie te doen wat sy kon vind—nege in die eerste jaar—kon Isabel haar uitgawes dek. Hoe het Fabian gevaar? “Om my opleiding as elektrisiën te voltooi, moes ek as ’n vakleerling werk. Ek het dit in Lakselv gedoen. Later het ek my eksamen geslaag en deeltydse werk as ’n elektrisiën gevind.”

HOE ANDER HULLE DIENS UITGEBREI HET

Marelius en Kesia getuig vir ’n Sami-vrou in Noorweë

Marelius en sy vrou, Kesia, wou ook dien waar daar meer verkondigers nodig is. Marelius, wat nou 29 is, sê: “Byeenkomstoesprake en onderhoude oor die pionierdiens het my aangespoor om my diens uit te brei.” Maar vir Kesia, wat nou 26 is, was die idee om van haar familie af weg te trek, ’n struikelblok. “Ek het vreeslik daarteen opgesien om ver weg te wees van die mense wat ek liefhet”, sê sy. Daarbenewens het Marelius voltyds gewerk om die verband op hulle huis af te betaal. Hy sê: “Met Jehovah se hulp en baie gebede waarin ons hom gevra het om ons te help om veranderinge aan te bring, was dit vir ons moontlik om te trek.” Eers het hulle meer tyd aan Bybelstudie bestee. Toe het die egpaar hulle huis verkoop en uit hulle werk bedank, en in Augustus 2011 het hulle getrek na die stad Alta, in die noorde van Noorweë. Om hulle as pioniers te onderhou, werk Marelius as ’n rekenmeester en Kesia in ’n winkel.

Knut en Lisbeth, ’n egpaar wat nou in hulle middeldertigerjare is, is geraak deur ondervindinge in die Jaarboek oor diegene wat dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. “Hierdie ondervindinge het ons daaraan laat dink om in ’n ander land te gaan dien”, sê Lisbeth, “maar ek was huiwerig omdat ek getwyfel het dat ’n gewone mens soos ek so iets kan doen.” Hulle het nietemin stappe gedoen om hulle doelwit te bereik. Knut sê: “Ons het ons woonstel verkoop en by my ma ingetrek om geld te spaar. Om ’n voorsmakie te kry van hoe dit sou wees om in ’n ander land te dien, het ons later getrek na ’n Engelse gemeente in Bergen en ’n jaar lank daar gebly. Daar het ons by Lisbeth se ma gewoon.” Kort voor lank het Knut en Lisbeth gereed gevoel om die groot uitdaging te aanvaar om na Uganda te trek. Hulle keer twee maande in die jaar na Noorweë terug om te werk. Sodoende verdien hulle genoeg geld om die res van die jaar in Uganda te woon en voltyds daar te preek.

“SMAAK EN SIEN DAT JEHOVAH GOED IS”

“Ons het nou ’n hegter verhouding.”—Roald

Hoe het dinge vir hierdie gewillige werkers afgeloop? Roald sê: “Ons bring baie meer tyd as ’n gesin saam deur in hierdie afgesonderde gebied as wat ons in Bergen gedoen het. Ons het nou ’n hegter verhouding. Dit is ’n seën om die geestelike  vooruitgang van ons kinders te sien.” Hy voeg by: “Ons is ook nou minder besorg oor materiële dinge. Dit is nie so belangrik soos wat ons gedink het nie.”

Elsebeth het besef dat dit nodig is om ’n ander taal te leer. Waarom? Die Lakselv-gemeente se gebied sluit die dorpie Karasjok in, in die hartland van die Sami—die inheemse volk van die noordelike gebiede van Noorweë, Swede, Finland en Rusland. Om makliker met hierdie inheemse mense te kommunikeer, het Elsebeth ’n kursus in die Sami-taal geneem. Nou kan sy ’n eenvoudige gesprek in hierdie taal voer. Geniet sy haar nuwe gebied? Sy straal van vreugde en sê: “Ek het ses Bybelstudies. Waar anders sou ek wou wees!”

Fabian, wat nou as ’n pionier en bedieningskneg dien, sê dat hy en Isabel drie tieners in hulle nuwe gemeente wat aanmoediging nodig gehad het, gehelp het om meer betrokke te wees by die gemeente se bedrywighede. Al drie jongmense is nou bedrywige verkondigers. Trouens, twee is gedoop en het in Maart 2012 as hulppioniers gedien. Een van die tieners wat besig was om van die waarheid weg te dryf, het Fabian en Isabel bedank dat hulle haar gehelp het om “weer aan die gang te kom”. Fabian sê: “Haar woorde het my diep geraak. Hoeveel vreugde bring dit tog mee om iemand te help!” Isabel sê: “In hierdie toewysing het ek werklik ‘gesmaak en gesien dat Jehovah goed is’” (Ps. 34:8). Sy voeg by: “Boonop geniet ek dit baie om hier te dien!”

Marelius en Kesia se lewenstandaard is nou laer, maar hulle lewe is verryk. Daar is nou 41 verkondigers in die gemeente in Alta, waarheen hulle getrek het. Marelius sê: “As ons op ons lewe terugkyk, is dit so aanmoedigend om te sien hoeveel dit verander het. Ons dank Jehovah dat ons hom hier as pioniers kan dien. Niks kan bevredigender wees nie.” Kesia voeg by: “Ek het geleer om meer op Jehovah te vertrou, en hy het goed vir ons gesorg. Ek het ook gevind dat ek die tye wat ek met my familie deurbring, nou selfs meer waardeer omdat ek ver van hulle af woon. Ek was nog nooit spyt oor ons besluit nie.”

Knut en Lisbeth studeer met ’n gesin in Uganda

En hoe vaar Knut en Lisbeth in Uganda? Knut sê: “Dit het tyd geneem om by die nuwe omgewing en kultuur aan te pas. Water, elektrisiteit en maagprobleme—dit alles kom en gaan, maar ons kan soveel Bybelstudies hê as wat ons wil!” Lisbeth sê: “Net ’n half uur van waar ons woon, is daar gebiede wat nog nooit met die goeie nuus bereik is nie. En tog vind ons mense daar wat die Bybel lees en ons vra om hulle te leer. Om sulke nederige mense die Bybel se boodskap te leer, is ’n onvergelyklike vreugde!”

Hoe bly is ons Leier, Christus Jesus, ongetwyfeld om uit die hemel te sien hoe die predikingswerk wat hy begin het, in al hoe meer gebiede op die aarde gedoen word! Ja, al God se knegte put groot vreugde daaruit om hulle gewillig aan te bied om Jesus se bevel uit te voer om “dissipels [te maak] van mense van al die nasies”.—Matt. 28:19, 20.