Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

As jou tienerdogter gestres is

As jou tienerdogter gestres is

DIE UITDAGING

Jou dogter sê dat sy gestres is. ‘Op 13?’ vra jy jou verbaas af. ‘Sy is te jonk om te weet wat stres is!’ Maar voordat jy dit vir jou dogter sê, kan jy gerus kyk na ’n paar redes waarom ’n jong tienermeisie kan voel dat die lewe oorweldigend is.

WAAROM DIT GEBEUR

Fisiese veranderinge. Die vinnige ontwikkeling wat tydens puberteit plaasvind, kan baie moeilik wees vir ’n meisie om te verwerk, veral as sy stadiger—of vinniger—as haar portuurs ontwikkel. “Ek was een van die eerste meisies wat ’n bra moes dra, en dit het my selfbewus laat voel”, sê Anna, * nou 20. “Wanneer ek my met my portuurs vergelyk het, het dit vir my gevoel asof ek eienaardig is, asof ek abnormaal is!”

Emosionele veranderinge. Karen, nou 17, vertel: “Dit was baie frustrerend om nie te weet waarom ek gedurende die dag so gelukkig is en dan later, gedurende die nag, my oë uithuil nie. Ek het nie geweet wat met my fout is nie. Dit was asof my emosies buite beheer was.”

Begin van die menstruele siklus. “Hoewel my ma my daarop voorberei het, het dit my heeltemal onkant gevang toe ek die eerste keer gemenstrueer het”, sê ’n jong vrou met die naam Kathleen. “Ek het ’n paar keer per dag gestort omdat ek heeltyd vuil gevoel het. Boonop het my drie ouer broers my genadeloos geterg. Hulle het gedink dat die hele situasie baie snaaks is.”

Druk van vriende. Marie, nou 18, vertel: “Toe ek tussen 12 en 14 jaar oud was, was portuurdruk baie erg. Kinders in my skool was gemeen teenoor enigiemand wat anders was.” Die 14-jarige Anita sê: “Op my ouderdom is dit noodsaaklik om te voel dat jy deur ’n groep vriende aanvaar word en is dit iets verskrikliks om uitgesluit te word.”

 WAT JY KAN DOEN

Spoor jou dogter aan om oor haar sorge te praat. Aanvanklik sal sy dalk nie daaroor wil praat nie. Maar wees geduldig en volg die Bybel se raad om “gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat”.—Jakobus 1:19.

Neem jou dogter se probleme ernstig op. Onthou, sy het nie soveel lewenservaring soos jy nie, en daarom het sy nog nie geleer hoe om haar probleme die hoof te bied nie.—Bybelbeginsel: Romeine 15:1.

Moenie van jou dogter verwag om aan te veel buitemuurse bedrywighede deel te neem nie. Volgens die boek Teach Your Children Well is daar “dikwels tekens van stres, veral fisiese tekens soos hoofpyn en maagpyn”, by jongmense wie se program oorvol is.—Bybelbeginsel: Filippense 1:9, 10.

Maak seker dat jou dogter genoeg rus kry. Slaap is dikwels die eerste ding wat tieners afskeep. Te min slaap sal egter jou dogter se denkvermoë benadeel, asook haar vermoë om stres die hoof te bied.—Bybelbeginsel: Prediker 4:6.

Help jou dogter om heilsame uitlaatkleppe vir stres te vind. Oefening help party meisies om stres te verminder. Die Bybel erken dat liggaamlike oefening voordeel inhou (1 Timoteus 4:8). Ander meisies hou ’n dagboek omdat dit hulle help om hulle stres in die regte lig te beskou. “Toe ek jonger was”, sê die 22-jarige Brittany, “het ek probleme waarmee ek gesukkel het, neergeskryf. Dit het my gehelp om te verstaan hoe ek werklik oor ’n probleem voel, en dan was dit makliker om dit op te los of om eenvoudig daarvan te vergeet.”

Stel die voorbeeld. Hoe hanteer jy stres? Neem jy te veel hooi op jou vurk en raak jy dan paniekerig wanneer al die werk gedoen moet word? Put jy jou uit omdat jy te hard werk en nie tyd uitkoop vir die belangriker dinge in die lewe nie? “Laat julle redelikheid . . . bekend word”, sê Filippense 4:5. Onthou, jou tiener kyk watter voorbeeld jy stel en leer daaruit—ten goede of ten kwade.

^ par. 6 Name in hierdie artikel is verander.