Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOU AAN WAAK!

Die aarde word vernietig – Wat sê die Bybel?

Die aarde word vernietig – Wat sê die Bybel?

 “Mense doen baie dinge wat binnekort ’n klimaatramp sal veroorsaak. Groot stede sal onder water wees. Hittegolwe soos nooit tevore nie. Skrikwekkende storms. Wydverspreide watertekorte. ’n Miljoen plant- en diersoorte sal uitgewis word. Dit is nie net ’n storie of iets wat oordryf word nie. Dit is wat wetenskaplikes vir ons sê sal gebeur as regerings nie hulle beleid oor hoe hulle hulpbronne gebruik, verander nie.” – Toespraak deur António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, oor die verslag deur die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering wat op 4 April 2022 vrygestel is.

 “Wetenskaplikes waarsku dat al 423 nasionale parke [in die Verenigde State] binnekort benadeel sal word deur klimaatsverandering, veral omdat hierdie parke erg beskadig kan word deur temperature wat styg. Die slegte dinge wat kan gebeur, klink soos rampe waarvan ons in die Bybel lees: brande en oorstromings, smeltende ysplate, stygende seevlakke en hittegolwe.” – “Flooding Chaos in Yellowstone, a Sign of Crises to Come”, The New York Times, 15 Junie 2022.

 Kan die aarde se omgewingsprobleme opgelos word? Indien wel, wie sal dit oplos? Kom ons kyk na wat die Bybel regtig sê.

Skade aan die omgewing is voorspel

 Die Bybel sê dat God “die vernietigers van die aarde [sal] vernietig” (Openbaring 11:18). Hierdie Bybelvers leer ons drie dinge:

  1.  1. Die dinge wat mense doen, sal die aarde erg beskadig.

  2.  2. Die vernietiging van die aarde sal tot ’n einde kom.

  3.  3. God, nie die mens nie, sal die planeet se omgewingsprobleme oplos.

Daar lê ’n veilige toekoms vir ons planeet voor

 Die Bybel sê: “Die aarde bestaan vir ewig” (Prediker 1:4). Dit sal altyd bewoon word.

  •   “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe.” – Psalm 37:29.

 Ons planeet sal heeltemal herstel word.

  •   “Die wildernis en die dorre land sal juig, en die woestyn sal vreugdevol en vol blomme wees.” – Jesaja 35:1.