Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 8

Hoekom laat God goddeloosheid en swaarkry toe?

Hoekom laat God goddeloosheid en swaarkry toe?

1. Hoe het goddeloosheid begin?

God het die mens toegelaat om lank genoeg te regeer om te wys dat hulle nie alle probleme kan oplos nie

Goddeloosheid het op die aarde begin toe Satan die eerste leuen vertel het. Satan was aan die begin ’n volmaakte engel, maar “hy het nie in die waarheid vasgestaan nie” (Johannes 8:44). Hy het die aanbidding wat net aan God behoort, begin begeer. Satan het vir die eerste vrou, Eva, gelieg en haar oortuig om eerder aan hom gehoorsaam te wees as aan God. Adam was saam met Eva ongehoorsaam aan God. Adam se besluit het swaarkry en die dood veroorsaak. – Lees Genesis 3:1-6, 19.

Toe Satan Eva beïnvloed het om aan God ongehoorsaam te wees, het hy God se soewereiniteit, of posisie as die Allerhoogste, aangeval. Die meeste mense het Satan se kant gekies en God as hulle Heerser verwerp. Daarom het Satan “die heerser van die wêreld” geword. – Lees Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19.

2. Was daar fout met God se skepping?

Al God se werke is volmaak. Die mense en engele wat deur God geskep is, kon volmaak gehoorsaam wees aan God (Deuteronomium 32:4, 5). God het ons geskep met die vryheid om te kies of ons goed of kwaad wil doen. Hierdie vryheid gee ons die kans om te wys dat ons lief is vir God. – Lees Jakobus 1:13-15; 1 Johannes 5:3.

3. Hoekom het God swaarkry tot nou toe toegelaat?

Jehovah het toegelaat dat sy soewereiniteit vir ’n sekere tyd bevraagteken word. Hoekom? Om te wys dat dit nie goed gaan met mense as hy nie regeer nie (Prediker 7:29; 8:9). Ná 6 000 jaar van die mensegeskiedenis is dit duidelik bewys. Menseheersers kan nie oorlog, misdaad, onregverdigheid of siekte wegneem nie. – Lees Jeremia 10:23; Romeine 9:17.

Anders as menseregerings sal God se regering mense help wat dit aanvaar (Jesaja 48:17, 18). Jehovah sal binnekort ’n einde aan alle menseregerings maak. Net mense wat kies om deur God regeer te word, sal op die aarde woon. – Jesaja 11:9. – Lees Daniël 2:44.

Kyk na die video Hoekom laat God toe dat mense swaarkry?

4. Wat laat God se geduld ons toe om te doen?

Satan het gesê dat mense Jehovah net dien vir selfsugtige redes. Wil jy graag bewys dat dit ’n leuen is? Jy kan! God se geduld laat ons toe om te wys of ons deur God regeer wil word of deur die mens. Ons wys wat ons keuse is deur hoe ons lewe. – Lees Job 1:8-12; Spreuke 27:11.

5. Hoe kan ons God as ons Heerser kies?

Ons keuses wys of ons God as ons Heerser wil hê

Ons kies God as ons Heerser deur na ware aanbidding te soek wat met die Bybel saamstem, en dit uit te leef (Johannes 4:23). Ons kan Satan as heerser verwerp deur, soos Jesus, nie by die politiek en oorlog betrokke te raak nie. – Lees Johannes 17:14.

Satan beïnvloed mense om slegte dinge te doen. Wanneer ons nie hierdie slegte dinge wil doen nie, sal party van ons vriende en familielede ons dalk bespot of teen ons draai (1 Petrus 4:3, 4). Nou moet ons kies. Sal ons met hierdie mense vriende wees of sal ons vriende wees met mense wat vir God lief is? Sal ons sy liefdevolle en wyse wette gehoorsaam? As ons dit doen, bewys ons dat Satan gelieg het. Hy het gesê dat niemand wat in ’n moeilike situasie is, sou doen wat God sê nie. – Lees 1 Korintiërs 6:9, 10; 15:33.

Omdat God lief is vir die mens, kan ons seker wees dat goddeloosheid en swaarkry sal eindig. Mense wat wys dat hulle dit glo, sal ewige lewe op die aarde geniet. – Lees Johannes 3:16.