Spring na inhoud

21 MAART 2023
WÊRELDNUUS

Tien jaar van JW.ORG – Deel 3

Ondersteun die bediening

Tien jaar van JW.ORG – Deel 3

Die vorige artikels in hierdie reeks het verduidelik hoe jw.org gebruik is om ons digitale publikasies en video’s vry te stel, sowel as om akkurate nuusverslae oor ons broers en susters regoor die wêreld te voorsien. Hierdie laaste artikel in die reeks sal kyk na hoe jw.org gebruik is om die wêreldwye predikingswerk te ondersteun.

Tale: Toe die herontwerpte webwerf in Augustus 2012 vrygestel is, was die tuisblad in 139 tale beskikbaar. Teen Augustus 2014 het die aantal tot meer as 500 tale gegroei. Dit was die jaar toe ons deelgeneem het aan ’n kampanje met ’n pamflet om mense meer bewus te maak van die webwerf. Dit is interessant dat die aantal 22 gebaretale ingesluit het. Vandag is die inligting op die webwerf in meer as 1 070 tale beskikbaar, wat meer as 100 gebaretale insluit.

Artikels op die regte tyd: In Oktober 2019 was die tuisblad van jw.org herontwerp met ’n hoofartikel met ’n groot, treffende prent en drie ander artikels daaronder. Op hierdie manier word die aandag gefokus op inligting op die webwerf wat te doen het met die bediening. Later het die Skryf- en die Kunsafdeling ’n vinniger proses ontwikkel om hierdie hoofartikels en prente te skep sodat die tuisblad altyd artikels het oor dinge wat in die wêreld gebeur. Byvoorbeeld, die tuisblad het hoofartikels gehad oor die wêreldwye COVID-19-pandemie, sowel as die oorlog tussen Rusland en Oekraïne en die vlugtelingkrisis as gevolg daarvan.

Inligting aanlyn: Die jw.org-webwerf voorsien inligting aanlyn wat belangstellendes help om akkurate inligting oor ons organisasie en ons werk te vind. Dit help mense ook om Jehovah se Getuies te kontak as hulle meer wil weet. ’n Dowe vrou het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer toe sy ’n tiener was, maar sy het kontak met hulle verloor toe sy getrek het. Sy wou graag weer begin studeer, maar niemand het haar op daardie stadium by haar nuwe huis besoek nie. Sy het die jw.org-webwerf onthou en gevra dat iemand haar moet besoek deur die vorm aanlyn in te vul. Binne net ’n paar dae het twee spesiale pioniers aan haar deur geklop. Sy het weer begin studeer en ook vergaderinge bygewoon. Sy is nou gedoop en leer haar drie kinders oor Jehovah. Sy sê: “Ek dank Jehovah vir die webwerf omdat ek sou moes wag totdat ek ’n Getuie per toeval ontmoet het as ek nie die vorm aanlyn kon invul nie.”

Terwyl die predikingswerk bespoedig word, is dit aanmoedigend om te weet dat Jehovah se organisasie sal aanhou om doeltreffende hulpmiddele te voorsien om belangstellendes te help. – Jesaja 60:22.

  • Video’s wat elke maand afgelaai word

  • Aantal daaglikse besoekers elke maand

  • Vrystelling van amptelike jw.org-logo, Maart 2013

  • Webwerf beskikbaar in gebaretale, Julie 2014

  • Tuisblad herontwerp om die publiek se aandag te trek, Oktober 2019

  • Vrystelling van die boek Geniet die lewe vir ewig! aangekondig in Januarie 2021