Spring na inhoud

Van links na regs: Suster Mary Larimer saam met ander lede van die eerste klas van Gilead; Mary se Gileaddiploma van 23 Junie 1943; en Mary in 2017

23 JANUARIE 2024
VERENIGDE STATE

Laaste oorlewende gegradueerde van die eerste klas van Gilead sterf op 103

Laaste oorlewende gegradueerde van die eerste klas van Gilead sterf op 103

Op 23 November 2023 het Mary M. Larimer, wat aan die eerste klas van die Wagtoring-Bybelkollege Gilead gegradueer het, gesterf. a Mary is op 4 Junie 1920 in Scenery Hill, Pennsilvanië, VSA, gebore. In 1935, op die ouderdom van 15, is sy by ’n streekbyeenkoms in Washington, DC, VSA, gedoop. Vier jaar later het suster Larimer begin pionier en gou as ’n ywerige verkondiger bekend gestaan.

In Desember 1942 het Mary ’n uitnodiging gekry van broer Nathan Knorr, wat die leiding in die organisasie geneem het, om aansoek te doen vir ’n nuwe skool wat die Wagtoring-Bybelkollege Gilead genoem is. Dit het deels gesê dat “die doel van die kollege is om geordende bedienaars, mans sowel as vrouens, vir sendingwerk in alle dele van die wêreld voor te berei”. Die uitnodiging het ook gesê: “Elke kursus van die kollege sal vyf maande lank wees . . . Dit gaan ywerige, intensiewe studie en werk vereis om die kursus in so ’n kort tydjie klaar te maak.” Mary het dadelik haar voltooide aansoekvorm ingestuur.

Op 1 Februarie 1943 het sy, saam met 99 klasmaats, met die klasse op die eerste dag van die nuwe skool in South Lansing, New York, VSA, begin. Regdeur die kursus van amper vyf maande het Mary hard gewerk om meer oor die Bybel te leer. Sy was ’n uitstekende student en het op 23 Junie 1943 gegradueer.

Mary en ’n hele paar ander studente waai vanaf ’n balkon wat oor die ingang van die Gileadskoolfasiliteit in South Lansing, New York, VSA, is

Ná die graduering het Mary ’n toewysing as ’n sendeling in Kuba gekry. Sy het oor party van die uitdagings van haar nuwe toewysing gesê: “Die mense daar was baie arm. Ons moes in die bediening loop . . . Ons het nie karre gehad nie.” Mary het tot 1948 in haar toewysing gebly, toe sy na Pennsilvanië moes teruggaan om vir haar ma te sorg wat ernstig beseer is. In die jare wat gevolg het, het Mary ongetroud gebly en was sy altyd besig in die veldbediening en met ander teokratiese aktiwiteite. Toe sy gesterf het, het sy in ’n gemeente in Glendale, Kalifornië, VSA, gedien.

Mary geniet verskillende aspekte van haar sendingtoewysing in Kuba

Mary (links) saam met haar suster, Helen Ferrari, en Helen se man, Salvino. Helen en Salvino het die tweede klas van Gilead bygewoon en ook in Kuba gedien

Die Wagtoring-Bybelskool Gilead is nou in Patterson, New York, waar die 155ste klas op die oomblik aangebied word. Toe broer Mark Noumair, ’n Gileadinstrukteur, gehoor het dat Mary oorlede is, het hy gesê: “Mary Larimer was ’n jong meisie van ’n klein dorpie wat gewillig was om enige plek te gaan om mense van Jehovah te vertel. Sy het geen idee gehad waarheen sy gestuur sou word en of sy ooit sou terugkom nie. Gileadsendelinge soos Mary het gehelp om die grondslag te lê vir die groei van die wêreldwye predikingswerk.” – Jesaja 6:8.

a In 1946 is die naam die Wagtoring-Bybelkollege Gilead na die Wagtoring-Bybelskool Gilead verander