Spring na inhoud

Lektuurtrollies by verskillende plekke in Las Vegas-boulevard in Las Vegas, Nevada, VSA

5 MAART 2024
VERENIGDE STATE

Bybel se boodskap aan publiek bekend gemaak gedurende week van Super Bowl in 2024

Bybel se boodskap aan publiek bekend gemaak gedurende week van Super Bowl in 2024

Op 11 Februarie 2024 het die Super Bowl vir 2024, ’n gewilde Amerikaanse voetbalwedstryd, in Las Vegas, Nevada, VSA, begin. Gedurende die week voor die wedstryd het omtrent 300 000 mense die gebied besoek. Lektuurtrollies is op 50 verskillende plekke in Las Vegas-boulevard, een van die stad se besigste strate, opgestel. Bybelpublikasies was in 9 tale beskikbaar. Omtrent 1 500 broers en susters het aan die spesiale kampanje deelgeneem. Hier volg ’n paar goeie ondervindinge wat ons broers en susters gehad het.

’n Man het verby ’n lektuurtrollie geloop wat die vraag “Kan ons planeet oorleef?” vertoon het. Hy het vinnig omgedraai en met die Getuies wat naby die trollie gestaan het, begin praat. Hy was bekommerd oor toestande in die wêreld en was bly om te hoor oor die Bybel se belofte van vrede in Jeremia 29:11. Hy het meer as ’n uur lank met die broers by die trollie gepraat. Voordat hy geloop het, het hy ook gesê dat hy ’n vergadering wil bywoon.

Susters praat met ’n gesin wat na die lektuurtrollie toe gekom het

By ’n ander plek naby die sportstadion het ’n sekuriteitswag ’n plakkaat op een van ons trollies gesien met dieselfde vraag “Kan ons planeet oorleef?” Omdat hy nog besig was om te werk, het hy vir ons broers gesê dat hy ná werk sou terugkom. ’n Kort rukkie daarna het hy teruggekom en gesê dat hy onlangs die Bybel op sy eie begin lees het. Nadat ons broers hom van ons Bybelstudieprogram vertel het, was hy gretig om meer te leer. Reëlings is gemaak dat iemand hom besoek.

Die dag voor die Super Bowl het hulle ’n vrou in die huis-tot-huis-bediening ontmoet. Sy het genoem dat sy op die televisie in die nuus ’n verslag oor ons trollies gesien het. Sy het gesê: “Julle doen ’n goeie werk. Ons het iets nodig om ons hoop te gee in hierdie moeilike tye.” Sy het toe gevra waar en wanneer Jehovah se Getuies in die gebied vir hulle vergaderinge bymekaarkom.

Ons is bly dat mense aanhou reageer terwyl ‘wysheid uitroep’ in openbare plekke deur middel van hierdie spesiale kampanjes, alles tot eer van ons God, Jehovah. – Spreuke 1:20, 21.