Spring na inhoud

Broer Oleg Danilof word deur sy vrou, Natalija, gegroet nadat hy uit die tronk vrygelaat is

5 MAART 2024
RUSLAND

Broer Oleg Danilof uit Russiese tronk vrygelaat

Broer Oleg Danilof uit Russiese tronk vrygelaat

Op 1 Maart 2024 is broer Oleg Danilof vrygelaat nadat hy ’n tronkstraf van drie jaar uitgedien het.

Voordat Oleg skuldig bevind is, het hy gesê wat hy vasbeslote is om te doen as hy tronk toe gestuur sou word: “Ek het nagedink oor Paulus se woorde in Filippense 4:4: ‘Wees altyd bly in die Here. Weer eens sal ek sê: Wees bly!’ Paulus het dit geskryf terwyl hy in die tronk was. Sy verhouding met Jehovah en sy vertroue in hom was so sterk dat hy nog steeds gelukkig was al was hy in die tronk. Ek wil dieselfde doen en nie toelaat dat enige iets my vreugde wegneem nie.”

Sy vasbeslotenheid om sy vreugde te behou, is getoets toe Oleg tronk toe gestuur is en van sy gesin geskei was. Dit was vir hom veral moeilik toe hy nie sy oudste seun se troue kon bywoon nie. Oleg se vrou, suster Natalija Danilowa, het verduidelik wat hom gehelp het: “Oleg het besef dat as hy aanhou om te dink aan wat hy verloor het, dit sy vasbeslotenheid sou verswak en hom van sy vreugde sou beroof. Hy het eerder aanhou dink aan wat hy wel het: sy verhouding met Jehovah, die hulp van Sy heilige gees, ’n gesin wat lief is vir hom, goeie vriende en ’n wêreldwye broederskap. Toe hy ophou dink aan die dinge wat hy verloor het en gefokus het op dit wat hy wel het, het hy soos ’n ryk man gevoel.”

Oleg en Natalija saam met hulle twee seuns en skoondogter

Natalija het ook gesê hoe Oleg se voorbeeld hulle seuns geraak het: “Om te sien hoe hulle pa swaargekry het en hoe Jehovah ons gesin gehelp het, het regtig hulle vertroue in Jehovah en hulle liefde vir die broederskap versterk. Hulle is meer vasbeslote as ooit tevore om hulle aanbidding van Jehovah ’n prioriteit in hulle lewe te maak.”

Ons is saam met Oleg en sy gesin bly dat hulle verenig is. En Oleg se voorbeeld herinner ons daaraan dat al kry ons swaar as gevolg van ons geloof, ons gelukkig kan bly en die vertroue kan hê dat Jehovah se gees ons help. – 1 Petrus 4:14.