Spring na inhoud

Broers en susters in Nigerië wat bly is oor die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Edo (links) en Esan (regs)

28 DESEMBER 2023
NIGERIË

Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Edo en Esan vrygestel

Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Edo en Esan vrygestel

Op twee opeenvolgende naweke het lede van die Takkomitee in Nigerië die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in twee plaaslike tale vrygestel. Albei vrystellings het plaasgevind gedurende die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms vir 2023 wat in Beninstad en Agbor, Nigerië, gehou is. Op 8 Desember 2023 het broer Archibong Ebiti die Christelike Griekse Geskrifte in Edo vrygestel. En toe op 15 Desember 2023 het broer Malcolm Halls dit in Esan vrygestel. By albei programme is gedrukte kopieë vir die gehoor uitgedeel. Die vrystellings is ook in digitale en oudio-formaat beskikbaar gemaak.

Edo

Daar was 1 678 mense in die gehoor toe die Christelike Griekse Geskrifte in Edo vrygestel is. Daar word geskat dat tweemiljoen mense regoor die wêreld Edo praat. Meer as 900 broers en susters wat Edo praat, dien in 23 gemeentes in Nigerië. ’n Edo-vertaalspan het voltyds in 2014 begin werk. Daardie selfde jaar is publikasies in hierdie taal op ons webwerf, jw.org, beskikbaar gemaak.

Alhoewel ander Bybelvertalings in Edo beskikbaar is, is hulle moeilik om te kry en duur. Baie van hierdie vertalings het Jehovah se naam weggelaat en gebruik verouderde taal, wat dit moeilik maak vir mense wat Edo praat om die Bybel se boodskap te verstaan. Suster Patience Izevbuwa, wat 74 jaar oud is en Jehovah al meer as 50 jaar lank dien, het gesê: “Dit maak my so gelukkig om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Edo te hê. My vreugde ken geen perke nie!”

Esan

Meer as 692 mense was teenwoordig vir die vrystelling van die Christelike Griekse Geskrifte in Esan. Meer as eenmiljoen mense in Nigerië praat Esan. Op die oomblik is daar 640 broers en susters wat Esan praat en tien gemeentes in die land.

Dit is die eerste volledige vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte wat nog ooit in Esan gedruk is. Voor hierdie vrystelling het baie broers en susters wat Esan praat, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Engels gelees. Een suster het oor die uitdrukking “hierdie skat in erdehouers” in 2 Korintiërs 4:7 gesê: “Ek onthou dat ek hierdie vers in Engels gelees het en nie heeltemal verstaan het wat dit beteken nie. Maar die Nuwe Wêreld-vertaling in Esan vertaal dit soos volg: ‘Al is ons soos kleihouers, het God ons hierdie kosbare bediening gegee.’ Nou is die gedagte duideliker vir my en raak dit my hart meer. Wat ’n pragtige geskenk!”

Ons is bly saam met ons broers en susters wat Edo en Esan praat, oor die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in hierdie twee tale. En ons bid dat dit selfs meer mense sal help om tot ’n “akkurate kennis van die waarheid” te kom. – 1 Timoteus 2:3, 4.