Spring na inhoud

19 OKTOBER 2023
MIKRONESIË

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chuukees vrygestel

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chuukees vrygestel

Op 1 Oktober 2023 het broer Carlito Dela Cruz, ’n lid van die Takkomitee in Mikronesië, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chuukees vrygestel. Die vrystelling is aangekondig by ’n spesiale vergadering vir ’n gehoor van 83 mense in Chuuk, Mikronesië. Nog 435 mense het ingeskakel by die program deur middel van videoverbinding, insluitende diegene van Chuukese gemeentes en groepe in Guam en die Verenigde State. ’n Digitale uitgawe was dadelik ná die vrystelling beskikbaar om afgelaai te word. Die gedrukte uitgawe sal in Januarie 2024 beskikbaar wees.

Chuukees word hoofsaaklik op die eilande van Chuuk gepraat, wat in die westelike dele van die Stille Oseaan is en deel is van die Federale State van Mikronesië. Jehovah se Getuies het in 1978 begin om Bybelpublikasies in Chuukees te vertaal. Omtrent 180 broers en susters dien op die oomblik in twee Chuukese gemeentes op die eilande van Chuuk. Daar is een gemeente op die eiland Guam, en een gemeente, drie groepe en een tentatiewe groep in die Verenigde State.

Hoewel ander Bybelvertalings in Chuukees beskikbaar is, bevat baie hiervan nie God se naam, Jehovah, nie. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte sit God se naam terug in die plek waar dit in die oorspronklike teks voorkom. Broer Dela Cruz het gesê: “Ek is oortuig dat hierdie Bybelvertaling nog baie Chuukese mense sal help om nie net Jehovah se naam te leer ken nie, maar ook om nader aan hom te kom.”

Ons is baie bly oor die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Chuukees, wat nog baie mense sal help “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het om van Jehovah te leer. – Handelinge 13:48.