Spring na inhoud

18 JUNIE 2020
INDIË

Vertaalspanne in Indië oorkom uitdagings gedurende pandemie

Vertaalspanne in Indië oorkom uitdagings gedurende pandemie

Die COVID-19-pandemie het unieke uitdagings geskep vir die 11 vertaalkantore (RTO’s) in Indië, waar ons publikasies in 36 tale vertaal word. Met Jehovah se hulp oorkom die vertaalspanne hulle uitdagings en hou hulle aan met die werk.

In vertaalwerk is dit baie belangrik dat vertalers saam werk as spanne. Maar omdat COVID-19 versprei het, het Indië in ’n toestand van streng inperking gegaan en was dit onmoontlik vir vertalers om bymekaar te kom. Almal wat aan oudio- en video-opnames werk, kon ook nie by die RTO’s bymekaarkom om opnames te doen nie.

In die RTO’s werk die vertalers ook nie persoonlik met mekaar nie en maak hulle gebruik van video-oproepe. Hulle doen ook opnames op hierdie manier. Dit het dit moontlik gemaak vir vertalers om hulp te kry van broers en susters van ander lande, soos Bangladesj en die Verenigde State.

Die broers het ook kreatiewe maniere gekry om gebaretaalvideo’s te maak terwyl hulle nog steeds hulle fisiese afstand behou. Party vertalers gebruik hulle slaapkamers as studio’s en gebruik wat hulle beskikbaar het in plaas van die gewone toerusting. Byvoorbeeld, hulle gebruik hulle selfone in plaas van gesofistikeerde kameras en hulle sit dit op kartonbokse in plaas van driepootstaanders.

Behalwe vir hierdie nuwe praktiese maniere, vertrou die vertalers in die RTO’s op Jehovah om hulle te help om positief en produktief in hierdie tyd te bly. Party van hulle het die volgende gesê:

Broer Jose Francis van Kolkata het gesê: “Wanneer mense in moeilike situasies is, sien hulle dalk ’n muur, maar Jehovah sien ’n manier om daaroor te kom.”

Suster Bindu Rani Chandan van Bangalore het gesê: “Omdat ek weet dat Jehovah my in hierdie moeilike tye gebruik, maak dit my baie gelukkig al is daar uitdagings.”

Suster Rubina Patel van Vadodara het gesê hoe sy voel: “Niks kan Jehovah en sy organisasie keer nie, nie eers die koronavirus nie.”

Ons is trots op ons broers en susters wat hard werk in die vertaalwerk. Ons is seker dat Jehovah se magtige heilige gees agter hulle sukses is en dat sy gees ook sal seker maak dat Jesus se profesie vervul word wat sê: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies.” – Matteus 24:14.