Spring na inhoud

Hulle het ’n pers driehoek gedra

Hulle het ’n pers driehoek gedra

 Maud wat in Frankryk bly, werk by ’n skool waar sy gestremde kinders gedurende klasse help. Een klas se leerders was onlangs besig om oor die Nazi-slagting en konsentrasiekampe te leer. Gevangenes in die kampe moes ’n uniform dra waaraan ’n gekleurde lappie vasgewerk is. Die kleur en vorm van die lappie het gewys hoekom die persoon in ’n konsentrasiekamp was.

 Toe die onderwyser van die pers driehoek-lappies praat, wat deur party gevangenes gedra is, het hy gesê: “Ek dink dit is omdat hulle homoseksueel was.” Ná die klas het Maud met die onderwyser gepraat en verduidelik dat die Nazi’s ’n pers driehoek gebruik het om Jehovah se Getuies te identifiseer. a Sy het aangebied om vir hom inligting oor hierdie onderwerp te bring. Die onderwyser het ingestem en vir Maud gevra om die inligting met die klas te deel.

 Gedurende ’n ander klas oor dieselfde onderwerp het ’n ander onderwyser ’n kaart gebruik wat verskillende simbole uitgebeeld het wat deur gevangenes gedra is. Die kaart het gewys dat die pers driehoek Jehovah se Getuies geïdentifiseer het. Maud het ná die klas inligting vir die onderwyser aangebied oor hierdie onderwerp. Die onderwyser het ingestem en reëlings gemaak sodat Maud met die leerders hieroor kon praat.

Maud hou die publikasies vas wat sy gebruik het

 Maud het voorberei om vir 15 minute voor die klas te praat, maar toe sy begin het, was daar vir haar gesê: “Jy het ’n hele uur.” Maud het begin deur ’n dokumentêre video te wys oor hoe Jehovah se Getuies deur die Nazi’s vervolg is. Toe die video gewys het dat die Nazi’s 800 Getuie-kinders van hulle ouers af weggeneem het, het Maud die video gestop en die ondervindinge van drie van daardie kinders gelees. Nadat die video klaar gespeel het, het Maud afgesluit deur ’n brief te lees van ’n seun wat afskeid geneem het van sy ouers in 1940. Hierdie seun was ’n 19-jarige Getuie van Oostenryk, Gerhard Steinacher. Hy het hierdie brief aan sy ouers geskryf ure voordat hy deur die Nazi’s doodgemaak is. b

 Maud het soortgelyke inligting vir die tweede klas aangebied. Danksy haar moed, maak albei onderwysers nou seker dat hulle Jehovah se Getuies noem wanneer hulle die kinders oor die slagoffers van die Nazi-konsentrasiekampe leer.

a Gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland is Jehovah se Getuies, wat ook bekend gestaan het as Bibelforscher (Bybelstudente), in konsentrasiekampe gesit omdat hulle geweier het om die Nazi’s te ondersteun.

b Gerhard Steinacher is tot die dood gevonnis omdat hy geweier het om by die Duitse weermag aan te sluit. In sy brief het hy geskryf: “Ek is nog ’n kind. Ek kan net staande bly as die Here vir my krag gee, en dit is al waarvoor ek vra.” Gerhard is die volgende oggend doodgemaak. Sy grafsteen sê: “Hy het tot eer van God gesterf.”