Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het ware rykdom gevind

Ek het ware rykdom gevind
  • Gebore: 1968

  • Geboorteland: Verenigde State

  • Geskiedenis: Sakeman wat gebid het om ryk te word

MY VERLEDE

 Ek is grootgemaak as ’n Katoliek in Rochester, New York. My ouers het uitmekaargegaan toe ek agt jaar oud was. So in die week het ek by my ma in ’n woonstelgebou vir armer mense gewoon en oor die naweke het ek by my pa gewoon in ’n buurt wat welaf is. Toe ek sien hoe moeilik dit vir my ma is om ses kinders groot te maak, was dit my droom om ryk te word sodat ek my familie kon help.

 My pa wou hê dat ek suksesvol in die lewe moes wees, en daarom het hy gereël dat ek ’n goeie hotelbestuurskool besoek. Ek was mal daaroor en het by die skool ingeskryf. Ek het gedink dat God my gebede beantwoord het om ryk en gelukkig te word. Ek het vyf jaar lank hotelbestuur, handelsregte en korporatiewe finansies studeer terwyl ek by ’n casino-hotel in Las Vegas, Nevada, gewerk het.

Deel van my werk was om al die wense van ryk dobbelaars te bevredig

 Op die ouderdom van 22 was ek die assistent-onderhoofbestuurder van ’n casino-hotel. Ander het my as ryk en suksesvol beskou. Ek het gereeld die beste kos en die duurste drank geniet. My besigheidsvriende het gesê: “Onthou dat geld die belangrikste ding in die wêreld is.” Volgens hulle was geld die geheim om regtig gelukkig te wees.

 Deel van my werk was om al die wense van die ryk mense wat in Las Vegas kom dobbel het, te bevredig. Selfs al was hulle ryk, het hulle ongelukkig gelyk. Ek het ook ongelukkig begin voel. Om eerlik te wees, hoe meer geld ek gemaak het, hoe meer angstig het ek geword en hoe minder het ek geslaap. Ek het begin dink dat ek nie meer wou lewe nie. Ek was teleurgesteld met my lewe, en ek het vir God gevra: “Waar kan ek ware geluk vind?”

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Omtrent daardie tyd het twee van my susters wat Getuies van Jehovah geword het, na Las Vegas toe getrek. Al het ek geweier om hulle publikasies te vat, het ek ingestem om in my eie Bybel saam met hulle te lees. In my Bybel was Jesus se woorde in rooi gedruk. Omdat ek alles aanvaar het wat Jesus gesê het, het my susters op sy woorde gefokus. Ek het ook die Bybel op my eie gelees.

 Ek was verbaas deur wat ek gelees het. Byvoorbeeld, Jesus het gesê: “Wanneer julle bid, moenie babbel soos die heidene nie, wat dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik nie” (Matteus 6:7, The New American Bible). In die verlede het ’n priester vir my ’n prentjie van Jesus gegee. Hy het vir my gesê dat as ek tot die prentjie bid deur tien Onse Vader-gebede en tien Ave Maria-gebede op te sê, sou God vir my enige bedrag geld gee wat ek nodig gehad het. Maar was ek nie net besig om te babbel as ek dieselfde woorde oor en oor herhaal het nie? Ek het ook Jesus se woorde gelees: “Moet niemand op aarde julle vader noem nie; julle het net een Vader in die hemel” (Matteus 23:9, The New American Bible). So ek het ook gewonder: ‘Hoekom noem ek en my mede-Katolieke ons priesters “Vader”?’

 Toe ek die Bybelboek Jakobus lees, het ek regtig diep begin dink oor wat ek besig was om met my lewe te doen. In hoofstuk 4 het Jakobus geskryf: “Weet jy nie dat om ’n liefhebber van die wêreld te wees, beteken dat jy in vyandskap met God is nie? Daarom, wie ook al ’n liefhebber van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4, The New American Bible). Ek was selfs meer beïndruk deur vers 17: “Vir iemand wat weet wat die regte ding is om te doen en dit nie doen nie, is dit ’n sonde.” Ek het toe my susters gebel en vir hulle gesê dat ek my werk in die casino-hotel gaan bedank omdat dit veroorsaak het dat ek betrokke is by dinge wat nie meer vir my aanvaarbaar is nie. Dit het dinge soos dobbelary en gierigheid ingesluit.

“Toe ek die Bybelboek Jakobus lees, het ek regtig diep begin dink oor wat ek besig was om met my lewe te doen”

 Ek wou my verhouding met God, my ouers en my broers en susters verbeter. So daarom het ek besluit om meer tyd te maak deur my lewe te vereenvoudig. Maar om hierdie veranderinge te maak, was nie maklik nie. Byvoorbeeld, ek is baie werksgeleenthede aangebied om ’n beter werk in die casino-hotel-bedryf te kry. Dit sou beteken dat ek twee of drie keer meer sou verdien het. Maar nadat ek oor die saak gebid het, het ek besluit dat hierdie soort lewe nie vir my is nie. Ek het my werk gelos, by my ma se garage ingetrek en ’n klein besigheid begin deur spyskaarte vir restaurante te lamineer.

 Al het die Bybel my gehelp om beter prioriteite te stel, het ek nog steeds nie na die vergaderinge van Jehovah se Getuies gegaan nie. My susters het my gevra wat ek teen die Getuies het. Ek het geantwoord: “Dit is omdat julle God, Jehovah, families opbreek. Die enigste tyd wat ek met die familie kan spandeer, is Kersfees en verjaarsdae, en julle vier dit nie.” Een van my susters het begin huil en my gevra: “Waar is jy die res van die jaar? Ons wil altyd tyd met jou spandeer. Maar jy wil net op daardie vakansiedae kom – en net omdat jy voel jy moet.” Haar woorde het my diep geraak, en ek het saam met haar begin huil.

 Toe ek besef hoe lief Jehovah se Getuies hulle families het, en hoe verkeerd ek was, het ek besluit om een van hulle vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal by te woon. Daar het ek vir Kevin, ’n ervare Bybelonderrigter, ontmoet, en hy het die Bybel met my begin studeer.

 Kevin en sy vrou het ’n eenvoudige en gebalanseerde lewe gehad sodat hulle soveel as moontlik tyd kon spandeer om ander te help om die Bybel te verstaan. Hulle het ook genoeg geld gemaak om die koste te dek om na Afrika en Sentraal-Amerika te reis, waar hulle gehelp het om takkantore vir die Getuies te bou. Hulle was baie gelukkig en hulle was lief vir mekaar. Ek het gedink: ‘Hierdie tipe lewe is my droom.’

 Kevin het vir my ’n video gewys oor die vreugde wat ’n mens kan kry om as ’n sendeling te dien. Ek het toe besluit dat dit iets is wat ek wil doen. In 1995, nadat ek die Bybel ses maande ernstig studeer het, is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. In plaas daarvan dat ek vir God gevra het vir rykdom, het ek begin bid: “Moenie vir my rykdom of armoede gee nie.” – Spreuke 30:8.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Ek is nou regtig ryk – nie finansieel nie, maar geestelik. Ek het my lieflike vrou, Nuria, in Honduras ontmoet en saam het ons as sendelinge in Panama en Mexiko gedien. Hoe waar is die Bybel se woorde: “Dit is die seën van Jehovah wat ’n mens ryk maak, en Hy voeg geen pyn daarby nie”! – Spreuke 10:22.