Spring na inhoud

Ons nooi jou om die Bethelkomplekse in die Verenigde State te besoek

Ons nooi jou om die Bethelkomplekse in die Verenigde State te besoek

“Ons het nou wonderlike herinneringe aan ons besoek aan Bethel, wat ons altyd sal bybly.” Dit is wat ’n egpaar van Vanuatu gesê het nadat hulle die fasiliteite van Jehovah se Getuies in die Verenigde State besoek het. Baie van die tienduisende mense wat dit elke jaar besoek, voel dieselfde.

Het jy die Bethelkomplekse in die Verenigde State al besoek? Indien nie, kan jy dit gerus doen.

Wat sal jy by die drie vernaamste komplekse sien?

Wêreldhoofkwartier, Warwick, New York. Gaan op ’n onbegeleide toer van drie verskillende uitstallings. Een van hierdie uitstallings, met die tema “Die Bybel en God se naam”, bevat Bybels wat skaars is en wys hoe God se naam in die Skrif behoue gebly het. Die uitstalling met die tema “’n Volk vir Jehovah se naam” beeld die geskiedenis van Jehovah se Getuies uit. Die uitstalling “Wêreldhoofkwartier—Geloof in aksie” verduidelik hoe Jehovah se Getuies georganiseer is om te vergader, die Bybel te studeer, die Bybel se boodskap aan ander te verkondig en liefde aan mekaar te betoon. Jy kan ook ’n begeleide toer van 20 minute neem wat die aandag vestig op dele van die Kantore/Dienstegebou en die Warwick-terrein.

Wagtoring-onderrigsentrum, Patterson, New York. Leer meer omtrent die skole wat hier gehou word, soos die Wagtoring-Bybelskool Gilead en die Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens. Jy sal ook uitstallings en video’s sien oor die werk wat in die kantore daar gedoen word, insluitende die Kuns-, Oudio-/Videodienste.

Druk en versending van lektuur, Wallkill, New York. Sluit aan by die begeleide toer om te sien hoe Bybels en Bybellektuur gedruk, gebind en versend word na gemeentes in die Verenigde State, die Karibiese Eilande en ander wêrelddele.

Hoe bespreek ek ’n toer?

Voordat jy jou reis beplan, maak asseblief ’n toerbespreking op ons blad “Inligting oor kantore en toere”. Hierdie blad bevat bykomende inligting oor die Bethelkomplekse in die Verenigde State, insluitende waar hulle geleë is en hoe lank elke toer sal neem.

Wie is die toergidse?

Persone wat in die verskillende afdelings by Bethel werk, behartig die toere. Hulle beskou dit as deel van hulle poging om ons wêreldwye onderrigtingswerk te ondersteun. Hierdie toere word in baie tale gedoen

Hoeveel kos ’n toer?

Dit is gratis.

Moet jy een van Jehovah se Getuies wees om die komplekse te besoek?

Glad nie. Baie besoekers is nie. Getuies sowel as mense wat nie Getuies is nie, sal meer leer oor die georganiseerde pogings wat die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies ondersteun.

’n Moslemvrou uit Indië het Patterson besoek. Ná haar toer het sy gesê: “Ek sou baie graag deel hiervan wou wees. Baie dankie dat julle my met soveel respek behandel het.”

Is kinders welkom?

Beslis! ’n Besoek kan ’n diepgaande uitwerking op kinders hê. John, ’n besoeker van die Verenigde State, het geskryf: “Vandat ons teruggekom het, kan die kinders in ons groep nie ophou praat oor die toer nie. Voor die toer was Betheldiens ’n abstrakte gedagte, maar nou het dit vir hulle ’n doelwit geword.”

Is dit moontlik om op ’n toer van die fasiliteite van Jehovah se Getuies in ander lande te gaan?

Ja. Toere is in tientalle lande beskikbaar. Om ’n spesifieke plek te vind, besoek die blad “Inligting oor kantore en toere”. Ons nooi jou hartlik om op ’n toer van een van die takkantore van Jehovah se Getuies te kom.