Spring na inhoud

JW.ORG word by die boekeskou in Toronto bevorder

JW.ORG word by die boekeskou in Toronto bevorder

Van 13 tot 16 November 2014 het die Metro Toronto Convention Centre die internasionale boekeskou in Toronto aangebied, ’n uitstalling van gedrukte en digitale boeke. Meer as 20 000 mense het die boekeskou tydens die vier dae bygewoon.

Jehovah se Getuies het ook deelgeneem aan die boekeskou en het ’n helder, interaktiewe tentoonstelling gehad. Daar is met behulp van tablette getoon hoe om jw.org te gebruik.

Een van die skoubestuurders het gesê: “Julle webwerf is baie modern. Ek dink ander uitstallers kan by julle leer.” Besoekers het gesê dat die webwerf baie professioneel is en maklik is om te gebruik en dat dit belangrike vrae beantwoord. Dit het hulle ook beïndruk dat die webwerf mense help om hulle probleme en bekommernisse die hoof te bied.

Terwyl Getuievrywilligers wat by die tentoonstelling gehelp het, met mense gepraat het, het hulle uitgevind dat die meeste van die besoekers voor die boekeskou nog nooit van jw.org gehoor het nie. Byna al die besoekers het ’n kontakkaartjie of die traktaat Waar kan ons antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe vind? geneem. Baie het gesê dat hulle weer die webwerf sal besoek, en ander het gevra dat Jehovah se Getuies hulle by hulle huis besoek.

Vrydag was “Kindersdag” by die boekeskou, en vrywilligers het dus die aandag op die witbord-tekenprente op jw.org gevestig. Groepe skoolkinders wat deur hulle onderwysers vergesel is, het gestop en gekyk.

’n Man van Chicago wat vir ’n maatskappy werk wat Bybels druk, is beïndruk deur die gehalte van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif wat uitgestal is. Hy wou in verbinding tree met die uitgewers en is ’n kontakkaartjie gegee.

Van die meer as 700 tale wat op die webwerf beskikbaar is, het die besoekers na 16 gekyk—Amharies, Bengali, Chinees, Engels, Frans, Goedjarati, Grieks, Hindi, Koreaans, Oerdoe, Portugees, Spaans, Sweeds, Tamil, Tigrinya en Viëtnamees.

’n Getuie wat besoekers by die tentoonstelling verwelkom het, het opgemerk dat daar ’n groot verskil is tussen om mense te vertel van die webwerf en om dit eintlik vir hulle te wys. Hy het gesê: “Ons het ’n wonderlike geleentheid gehad om die webwerf te adverteer.”