Spring na inhoud

Todd Aki/Moment Open via Getty Images

IS DIT ONTWERP?

Die mantarog se filtrasiestelsel

Die mantarog se filtrasiestelsel

 ’n Mantarog eet deur ’n mengsel van seewater en plankton in sy mond op te vang terwyl hy swem. Die mengsel tref ’n filter, wat veroorsaak dat die plankton na die mantarog se keel beweeg, en dit word dan as kos ingesluk. Die water hou aan om deur die filter te beweeg en word deur die mantarog se kieue uitgespoel. Maar ’n mantarog kan plankton wat baie kleiner as die openinge van sy filters is, uitfiltreer. Volgens die wetenskapjoernalis Ed Yong is hierdie vermoë “’n prestasie wat onmoontlik lyk”.

 Dink hieraan: Die mantarog se filtrasiestelsel lyk soos vyf boë met kamme aan weerskante. Party van die kamme se tande, of lobbe, lê skuins vorentoe en party skuins agtertoe. Hierdie lobbe skei die seewater, wat van die water dwing om bo-oor die lobbe te vloei en van die water om tussen die lobbe te vloei, wat klein maalstrome veroorsaak.

 Wanneer plankton of ander kosdeeltjies die rand van die lobbe tref, spring dit terug in die stroom wat vinniger beweeg en beland dit in die mantarog se keel, waar dit ingesluk kan word. Selfs plankton wat klein genoeg is om tussen die lobbe deur te gaan, beweeg na die mantarog se keel omdat die maalstrome die plankton help om vinniger te beweeg, wat dit dwing om in die stroom terug te spring. Hierdie filtrasiestelsel help die mantarog om klein kosdeeltjies te eet wat andersins deur die openinge tussen die lobbe en terug in die seewater kon gevloei het.

 Die mantarog se filtrasiestelsel word ook nie verstop nie en maak homself skoon. Dit gebeur ongeag hoe vinnig die mantarog swem of hoeveel plankton daar in die water is.

 Navorsers hoop om idees van die mantarog se filtrasiestelsel te gebruik om filters te ontwerp wat afvalwater kan skoonmaak en skadelike mikroplastiek-deeltjies kan verwyder.

 Wat dink jy? Het die mantarog se filtrasiestelsel deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?