Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor liefde vir jouself?

Wat sê die Bybel oor liefde vir jouself?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel wys dat dit goed en selfs nodig is om jouself tot ’n mate lief te hê. Sulke liefde sluit in dat jy vir jouself omgee, jouself respekteer en dat jy genoeg van jouself dink (Matteus 10:31). Die Bybel bevorder nie selfsugtigheid nie. Dit help jou eerder om die regte beskouing van liefde vir jouself te hê.

Wie moet ons eerste liefhê?

  1.   Liefde vir God moet die belangrikste ding in jou lewe wees. Volgens die Bybel is die grootste gebod: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart.” — Markus 12:28-30; Deuteronomium 6:5.

  2.   Die tweede grootste gebod is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” — Markus 12:31; Levitikus 19:18.

  3.   Die Bybel sê nie spesifiek dat ons onsself moet liefhê nie. Die gebod om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ wys dat liefde vir jouself en selfrespek, normaal en goed is vir jou.

Vir wie was Jesus eerste lief?

 Jesus het gewys hoe om balans te hê wanneer dit kom by liefde vir God, liefde vir jou naaste en liefde vir jouself. Hy het ook sy dissipels aangespoor om sy voorbeeld te volg. — Johannes 13:34, 35.

  1.   Hy het Jehovah God eerste liefgehad en Sy werk tot die beste van sy vermoë gedoen. Hy het gesê: “Sodat die wêreld kan weet dat ek die Vader liefhet, doen ek net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen.” — Johannes 14:31.

  2.   Jesus het sy naaste liefgehad. Hy het gewys dat hy vir mense lief is deur vir hulle om te gee en selfs sy lewe vir hulle op te offer. — Matteus 20:28.

  3.   Hy was ook lief vir homself. Hy het tyd gemaak om te rus en te eet. Hy het ook tyd spandeer met sy volgelinge en mense wat moontlik sy dissipels sou word. — Markus 6:31, 32; Lukas 5:29; Johannes 2:1, 2; 12:2.

Sal dit jou geluk en selfrespek verminder as jy ander meer as jouself liefhet?

 Nee, want ons is na God se beeld geskep en Sy hoofeienskap is onselfsugtige liefde (Genesis 1:27; 1 Johannes 4:8). Dit beteken dat ons gemaak is om liefde aan ander te bewys. Om jouself lief te hê is belangrik, maar ons is op ons gelukkigste wanneer ons God bo alle ander dinge liefhet en daarop fokus om goeie dinge vir ander te doen. Dit is net soos die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.” — Handelinge 20:35.

 Vandag sê party mense dat dit jou gelukkig sal maak as jy jouself eerste stel. Hulle het ‘jy moet jou naaste liefhê’ vervang met ‘jy moet jouself liefhê’. Maar ondervinding het bewys dat mense se gesondheid verbeter het en hulle gelukkiger is as hulle die Bybel se wyse raad volg: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.” — 1 Korintiërs 10:24.