Spring na inhoud

Die verhaal van Noag en die groot Vloed – Is dit net ’n mite?

Die verhaal van Noag en die groot Vloed – Is dit net ’n mite?

Die Bybel se antwoord

 Die Vloed het werklik gebeur. God het dit veroorsaak om die goddelose mense te vernietig, maar hy het vir Noag gesê om ’n ark te bou sodat die goeie mense en die diere gered kon word (Genesis 6:11-20). Ons kan glo dat die Vloed werklik gebeur het omdat dit in die Bybel opgeteken is, wat ‘deur God geïnspireer is’. – 2 Timoteus 3:16.

 Feit of mite?

 Die Bybel wys dat Noag ’n werklike persoon was en dat die Vloed werklik gebeur het. Dit is nie ’n mite nie.

  •   Bybelskrywers het geglo dat Noag ’n werklike persoon was. Byvoorbeeld, die Bybelskrywers Esra en Lukas was vaardige geskiedkundiges, en hulle het Noag in die geslagsregister van die nasie Israel ingesluit (1 Kronieke 1:4; Lukas 3:36). Die Evangelieskrywers Matteus en Lukas het die dinge wat Jesus oor Noag en die Vloed gesê het, opgeteken. – Matteus 24:37-39; Lukas 17:26, 27.

     Die profeet Esegiël en die apostel Paulus het ook gesê dat Noag ’n voorbeeld van geloof en regverdigheid is (Esegiël 14:14, 20; Hebreërs 11:7). Sou hierdie skrywers mense aanmoedig om die voorbeeld na te volg van ’n persoon wat nie werklik bestaan het nie? Dit is duidelik dat Noag en ander manne en vroue van geloof voorbeelde is om na te volg omdat hulle werklike mense was. – Hebreërs 12:1; Jakobus 5:17.

  •   Die Bybel gee spesifieke besonderhede oor die Vloed. Die Bybelverslag oor die Vloed begin nie met die woorde “Lank, lank gelede”, asof dit ’n sprokiesverhaal is nie. Die Bybel gee eerder die jaar, die maand en die dag wanneer die gebeure wat met die Vloed verband hou, plaasgevind het (Genesis 7:11; 8:4, 13, 14). Dit gee ook die afmetings van die ark wat Noag gebou het (Genesis 6:15). Hierdie besonderhede wys dat die Vloed in die Bybel ’n feit is, nie ’n mite nie.

 Hoekom het die Vloed plaasgevind?

 Volgens die Bybel was “die slegtheid van die mens oorvloedig” voor die Vloed (Genesis 6:5). Dit sê ook dat “die aarde ... verdorwe geraak [het] voor die oë van die ware God” omdat dit vol geweld en onsedelikheid geword het. – Genesis 6:11; Judas 6, 7.

 Die Bybel sê ook dat baie van hierdie slegte dinge deur goddelose engele veroorsaak is. Hulle het die hemel verlaat om seksuele omgang met vrouens te hê. Hierdie engele het kinders gehad wat Nefilim genoem is en het swaarkry en hartseer vir mense veroorsaak (Genesis 6:1, 2, 4). God het besluit om goddelose mense te vernietig en goeie mense die kans gegee om weer oor te begin sonder daardie slegte invloede. – Genesis 6:6, 7, 17.

 Het mense geweet dat die Vloed sou plaasvind?

 Ja. God het vir Noag gesê wat sou gebeur en hom gevra om ’n ark te bou om sy familie en die diere te red (Genesis 6:13, 14; 7:1-4). Noag het die mense gewaarsku oor die vernietiging wat sou kom, maar hulle het sy waarskuwings geïgnoreer (2 Petrus 2:5). Die Bybel sê: “Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie.” – Matteus 24:37-39.

 Hoe het Noag se ark gelyk?

 Die ark was ’n groot reghoekige kus, of boks, wat ongeveer 133 meter lank, 22 meter wyd en 13 meter hoog was. a Die ark is van die hout van harsagtige bome gemaak, en dit is binne en buite met teer bedek. Dit het drie verdiepings en ’n aantal afdelings gehad. Die ark het ’n deur aan die sykant gehad en blykbaar ’n venster al langs die bokant. En die ark se dak was waarskynlik hoër in die middel sodat die water kon afloop. – Genesis 6:14-16.

 Hoe lank het dit Noag geneem om die ark te bou?

 Die Bybel sê nie hoe lank dit Noag geneem het om die ark te bou nie, maar dit lyk asof hy ’n hele paar jaar daaraan gebou het. Noag was meer as 500 jaar oud toe sy eerste seun gebore is, en hy was 600 jaar oud toe die Vloed plaasgevind het. bGenesis 5:32; 7:6.

 God het vir Noag gesê om die ark te bou nadat sy drie seuns groot en getroud was, en dit kon omtrent 50 tot 60 jaar geneem het (Genesis 6:14, 18). As dit die geval is, is dit redelik om af te lei dat dit 40 tot 50 jaar lank geneem het om die ark te bou.

a Die Bybel dui die ark se afmetings in el aan. Die “standaard Hebreeuse el was 44,45 cm lank”. ­– The Illustrated Bible Dictionary, Hersiene uitgawe, Deel 3, bladsy 1635.

b In verband met die lewensduur van mense soos Noag, sien die artikel “Het mense in Bybeltye werklik so lank gelewe?” in Die Wagtoring van 1 Desember 2010.