Spring na inhoud

Wat is die Goue Reël?

Wat is die Goue Reël?

Die Bybel se antwoord

 Die term “Goue Reël” verskyn nie in die Bybel nie. Maar baie gebruik hierdie term om na ’n gedragskode te verwys wat Jesus geleer het. In sy bekende Bergpredikasie het Jesus gesê: “Alles wat julle . . . wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matteus 7:12; Lukas 6:31). Die Goue Reël is ook al op die volgende manier gestel: “Behandel ander soos jy wil hê hulle jou moet behandel.”

 Wat beteken die Goue Reël?

 Die Goue Reël moedig ons aan om ander te behandel soos ons behandel wil word. Byvoorbeeld, die meeste mense waardeer dit wanneer ander hulle met respek, vriendelikheid en liefde behandel. Daarom maak dit sin dat ons “[so] aan hulle doen”. – Lukas 6:31.

 Hoekom is dit goed om die Goue Reël te volg?

 Jy kan die Goue Reël in amper alle situasies volg. Byvoorbeeld, dit kan . . .

 Die Goue Reël is hoofsaaklik die beginsel waarop die Ou Testament – soos dit gewoonlik genoem word – gebaseer is. Hierdie reël “is wat die Wet [die eerste vyf boeke van die Bybel] en die boeke van die profete beteken” (Matteus 7:12). Met ander woorde die Goue Reël gaan oor ’n basiese waarheid van die Ou Testament: liefde vir naaste. – Romeine 13:8-10.

 Gaan die Goue Reël oor wat ons uit ander kan kry?

 Nee. Die Goue Reël gaan hoofsaaklik oor om te gee. Toe Jesus die Goue Reël gegee het, het hy nie net gepraat oor hoe ’n persoon oor die algemeen mense moet behandel nie, maar selfs hoe ’n persoon sy vyande moet behandel (Lukas 6:27-31, 35). Daarom moedig die Goue Reël mense aan om goed te doen aan almal.

 Hoe kan jy die Goue Reël toepas?

  1.  1. Wees oplettend. Skenk aandag aan die mense om jou. Byvoorbeeld, jy sien dalk iemand wat sukkel om sy inkopies te dra, jy hoor van ’n buurman wat in die hospitaal opgeneem is of jy let op dat ’n werksmaat ontmoedig is. Wanneer jy “aan die belange van ander [dink]”, sal jy heel moontlik geleenthede kry om iets te sê of te doen wat ander kan help. – Filippense 2:4.

  2.  2. Betoon simpatie. Sit jouself in die ander persoon se skoene. Hoe sou jy voel as jy in dieselfde situasie was? (Romeine 12:15). Wanneer jy probeer om ander se gevoelens te verstaan, sal jy dalk beweeg word om hulle te help.

  3.  3. Wees aanpasbaar. Hou in gedagte dat almal anders is. Hoe ander behandel wil word, is dalk nie dieselfde as hoe jy behandel wil word nie. So uit die baie dinge wat jy kan doen, probeer iets kies wat hulle die meeste sal waardeer. – 1 Korintiërs 10:24.