Spring na inhoud

Het God ’n naam?

Het God ’n naam?

Die Bybel se antwoord

 Mense het almal ’n persoonlike naam. Is dit dan nie redelik dat God ’n naam sal hê nie? Die gebruik van persoonlike name is ’n noodsaaklike deel van menslike vriendskappe. Sal dit dan nie ook die geval wees wanneer dit by ons vriendskap met God kom nie?

 God sê in die Bybel: “Ek is Jehovah. Dit is my naam” (Jesaja 42:8). Hoewel hy ook baie titels het, soos “God die Almagtige,” “Soewereine Heer” en “Skepper,” eer hy sy aanbidders deur hulle te nooi om sy persoonlike naam te gebruik wanneer hulle met hom praat.—Genesis 17:1; Handelinge 4:24; 1 Petrus 4:19.

 Baie vertalings van die Bybel bevat God se persoonlike naam in Eksodus 6:3. Hierdie teks sê: “Ek het altyd aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar wat my naam Jehovah betref, daarmee het ek my nie aan hulle bekend gemaak nie.”

 Jehova(h) is ’n weergawe van God se naam wat al eeue lank gebruik word. Hoewel baie geleerdes die spelvorm “Jahwe(h)” of “Yahwe(h)” verkies, is Jehovah die vorm van die naam wat die algemeenste erken word. Die eerste deel van die Bybel is geskryf in Hebreeus, ’n taal wat van regs na links gelees word. In hierdie taal kom God se naam voor as vier medeklinkers, יהוה. Hierdie vier Hebreeuse karakters—wat as JHWH getranslitereer word—staan bekend as die Tetragrammaton.