Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor Daniël?

Wat sê die Bybel oor Daniël?

Die Bybel se antwoord

 Daniël was ’n uitstekende Joodse profeet wat omtrent 600 jaar voor Jesus Christus gelewe het. God het hom die vermoë gegee om drome te verduidelik, het hom visioene gegee oor wat in die toekoms sou gebeur en het hom geïnspireer om die Bybelboek te skryf wat Daniël genoem word. – Daniël 1:17; 2:19.

Wie was Daniël?

 Daniël het in Juda grootgeword, ’n koninkryk wat die stad Jerusalem en die Joodse tempel ingesluit het. In 617 VHJ het die koning van Babilon, Nebukadnesar, Jerusalem oorwin en “die vooraanstaande manne van die land” in ballingskap na Babilon geneem (2 Konings 24:15; Daniël 1:1). Daniël, wat heel moontlik ’n tiener op daardie stadium was, was saam met hulle weggeneem.

 Daniël en party ander jong manne (insluitende Sadrag, Mesag en Abednego) is na die Babiloniese paleis geneem om spesiale opleiding te kry sodat hulle vir die staat kon werk. Hoewel hulle onder druk geplaas was om dinge te doen wat hulle geweet het verkeerd is, het Daniël en sy drie vriende getrou aan hulle God, Jehovah, gebly (Daniël 1:3-8). Nadat hulle drie jaar lank opgelei is, het koning Nebukadnesar hulle geprys vir hulle wysheid en vaardighede en het hy gesien dat hulle “tien keer beter is as al die towerpriesters en die towenaars in sy hele koninkryk”. Hy het Daniël en sy vriende aangestel om in die koninklike hof te dien. – Daniël 1:18-20.

 Jare later, toe Daniël heel moontlik in sy 90’s was, is hy gevra om na die paleis toe te kom. ’n Man met die naam Belsasar, wat toe oor Babilon regeer het, het Daniël gevra om vir hom te sê wat die skrif wat wonderdadig op die muur verskyn het, beteken. Met Jehovah se leiding het Daniël gesê dat Babilon deur die Medo-Persiese Ryk oorwin sou word. Babilon was op daardie selfde nag oorwin. – Daniël 5:1, 13-31.

 Toe die Medo-Persiese Ryk oor Babilon regeer het, was Daniël as ’n hoë amptenaar aangestel en koning Darius het dit oorweeg om hom selfs ’n hoër posisie te gee (Daniël 6:1-3). Jaloerse amptenare het gekonkel om Daniël te laat doodmaak deur hom in ’n leeukuil te gooi, maar Jehovah het hom gered (Daniël 6:4-23). Teen die einde van Daniël se lewe het ’n engel aan hom verskyn en Daniël twee keer verseker dat hy “’n baie geliefde man” was. – Daniël 10:11, 19.

 Kyk na wat gebeur het in die tweedelige Bybeldrama Daniël: ’n Lewe van geloof.