Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Kinders en sosiale media – Deel 2: Leer jou tiener hoe om sosiale media op ’n veilige manier te gebruik

Kinders en sosiale media – Deel 2: Leer jou tiener hoe om sosiale media op ’n veilige manier te gebruik

 As gevolg van die gevare wat sosiale media inhou, laat baie ouers hulle kinders nie toe om dit te gebruik nie. Maar as jy jou tiener toelaat om sosiale media te gebruik, hoe kan jy hom of haar help om die skadelike gevolge te vermy? En hoe kan jy hulle leer om die internet wyslik te gebruik?

In hierdie artikel

 Jou tiener se prioriteite

 Wat jy moet weet: Omdat sosiale media verslawend kan wees, het jou tiener dalk jou hulp nodig om die hoeveelheid tyd te beheer wat hy of sy daaraan spandeer.

 Bybelwaarheid: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – Filippense 1:10.

 Iets om oor te dink: Affekteer die gebruik van sosiale media jou tiener se slaap, skoolwerk of familielewe? Navorsers sê dat tieners omtrent nege ure lank elke aand moet slaap, maar dié wat baie tyd op sosiale media spandeer, slaap heel moontlik minder as sewe ure.

 Wat jy kan doen: Praat met jou tiener oor prioriteite, en gesels oor hoekom dit wys is om die tyd te beperk wat hulle aan sosiale media spandeer. Stel redelike perke, soos dat daar geen toestelle in die slaapkamer toegelaat word gedurende die aand nie. Jou doel is om jou tiener te help om selfbeheersing aan te leer – ’n eienskap wat hom of haar baie sal help wanneer hulle ’n volwassene is. – 1 Korintiërs 9:25.

 Jou tiener se emosionele gesondheid

 Wat jy moet weet: Wanneer ’n jongmens foto’s van ander sien wat digitaal aangepas is om mooier te lyk of na foto’s kyk van net die lekker dinge wat hulle vriende gedoen het, kan hy of sy uitgesluit, angstig en depressief voel.

 Bybelwaarheid: ‘Raak ontslae van jaloesie.’ – 1 Petrus 2:1.

 Iets om oor te dink: Veroorsaak sosiale media dat jou tiener hulle met ander vergelyk en ontevrede voel met hulle voorkoms? Voel jou tiener dat almal se lewe opwindend is, maar dat hulle lewe vervelig is?

 Wat jy kan doen: Praat met jou tiener oor hoekom dit gevaarlik is om hulleself met ander te vergelyk. Wees bewus dat dit iets is wat meisies meer raak as seuns omdat verhoudings en voorkoms gewoonlik vir meisies belangriker is. Jy kan selfs voorstel dat jou tiener nou en dan ’n breek van sosiale media vat. ’n Jong man met die naam Jacob sê: “Ek het my sosiale media-app vir ’n tyd lank van my foon afgehaal. Dit het my gehelp om my prioriteite te verander, sowel as my beskouing van myself en ander.”

 Jou tiener se gedrag op die internet

 Wat jy moet weet: As jy op sosiale media is, is dit asof jy voor ’n gehoor lewe. Dit is natuurlik vir mense om mekaar verkeerd te verstaan of om nie met mekaar saam te stem nie.

 Bybelwaarheid: “Moenie enige soort wrok koester nie, en laat vaar alle woede, geskree en beledigende taal . . . Wees goed vir mekaar.” – Efesiërs 4:31, 32.

 Iets om oor te dink: Het sosiale media veroorsaak dat jou tiener begin skinder, probleme met ander het of lelike dinge sê?

 Wat jy kan doen: Leer jou tiener om goeie maniere op die internet te hê. Die boek Digital Kids sê: “Dit is deel van ons werk as ouers om [ons kinders] te leer dat dit nie in enige situasie aanvaarbaar is om wreed te wees nie – of dit nou in persoon of aanlyn is.”

 Onthou dat ons nie sosiale media nodig het om te lewe nie en dat nie alle ouers toelaat dat hulle tieners dit gebruik nie. As jy jou tiener toelaat om sosiale media te gebruik, moet jy seker maak dat hy of sy volwasse genoeg is om ’n tydsbeperking te stel, goeie vriendskappe te behou en ongepaste materiaal te vermy.